Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kan diegene wat hulle so slim hou in hul dwaling oor God se verborgenhede dalk antwoord waarom hulle mense eerder as esels of beeste is; hoewel dit in God se hande was om van hulle honde te maak het Hy hulle na sy Beeld gevorm.
DIE STRYD OM DIE TROON (5)
Dr JP Botha
Lees reeks by Die Stryd om die Troon
Opstand en rewolusie
Isboset
Ek is Joab, die bevelvoerder van koning Dawid. Ons is ook familie, want my ma, Seruja, is sy halfsuster. Toe koning Saul nog op die troon was, het ek en my twee broers, Abisai en Asael, saam met Dawid rondgevlug om uit Saul se hande te bly. Toe Dawid koning word en hom in Hebron vestig, het hy nog net oor Juda, die suidelike stam van die volk regeer. Koning Saul se leërowerste, Abner sy neef, het nie ook saam met Saul en Jonatan op Gilboa teen die Filistyne gesneuwel nie. Abner wou met alle krag na Saul se dood sy koningskap voortsit. Hy maak toe ‘n leër bymekaar en neem vir Isboset, ‘n seun van Saul en trek deur die Jordaan na Maganajim toe en maak hom daar koning oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin.
Isboset was Saul se jongste seun. Ons het almal geweet dat Abner hom net wou gebruik om self die mag in die hande te kry, sodat hy Saul se stryd teen Dawid se koningskap kon voortsit. Ons kon dit nie toelaat nie. Koning Dawid het toegestem dat ek met ‘n leërmag uittrek in die rigting van Maganajim. Ons het Abner en sy leër by die Gibeondam gekry. Ons het aan die kant van die dam gaan sit en hulle aan die oorkant. Nadat twaalf jong manne aan elke kant op voorstel van Abner ‘n sogenaamde “oorlogspel” gespeel het waarin al vier en twintig dood is, het ons tot die aanval oorgegaan. Na ‘n hewige geveg het ons hulle oorrompel. Hulle het op die vlug geslaan.
My twee dapper broers, Abisai en Asael, was saam met my in die geveg. Asael besluit toe om die vlugtende Abner agterna te sit. My broer was ‘n vlugvoetige man. Hy het Abner spoedig ingehaal, maar dood neergeval toe Abner skielik omdraai en hom met sy spies deur sy maag gesteek het. Ek en my broer Abisai en ons manne het toe vir Abner hulle verder agternagesit en hulle by die Elmboogrant ingehaal. Hier het Abner om vrede gepleit, wat ek toe maar aanvaar het.
‘n Tyd daarna hoor ons dat Abner sy mag verder wou versterk deur een van Saul se gewese byvrouens vir hom te vat. Toe Isboset hom daaroor aanspreek, het hy so woedend geword dat hy daar en dan sy rug op Isboset gedraai het en gedreig het om Dawid se koningskap te gaan ondersteun. Hy het Dawid in Hebron besoek en beloof om Benjamin en die noordelike stamme se ondersteuning vir Dawid se koningskap te verkry.
Ek was nie teenwoordig toe Abner met Dawid onderhandel het nie. Ek het met die soldate daardie dag teruggekeer van ‘n rooftog af en ‘n groot buit saamgebring. Toe ek hoor van Abner se besoek, het ek vir koning Dawid gesê Abner het net hier kom spioeneer om vas te stel hoe sy magte ons kan aanval. Ek het toe boodskappers agter hom aangestuur. Hy het niksvermoedend saam met hulle teruggekom. Ek het hom na die poort se kant toe weggelei asof ek vertroulik met hom wou praat en hom in die maag gesteek. So het ek my broer Asael se dood gewreek.
Koning Dawid was oor hierdie daad van my hewig ontsteld. Hy het oor Abner se dood gerou soos wat hy vroeër oor Saul en Jonatan getreur het. Hy het my nie as bevelvoerder afgedank nie, sodat ek kon voortgaan om sy koningskap te beskerm en oor die hele Israel uit te brei.
Abner se dood was natuurlik die letterlike einde van Isboset se koningskap oor Benjamin en die noordelike stamme. Kort daarna het twee kwaaddoeners vir Isboset in sy huis gaan vermoor, sy kop afgekap en dit na Dawid in Hebron gebring,
met die hoop om ‘n groot beloning van hom te ontvang. Dawid het egter sy lyfwag beveel om die twee dood te maak. Dit was al beloning wat hulle ontvang het vir hulle aandeel om Isboset se koningskap oor Benjamin en die noordelike stamme te help beëindig.
Absalom
Koning Dawid se oudste seun was Amnon. Sy moeder was Aginoam van Jisreël. Dawid se derde seun, Absalom, se moeder was Maäka die dogter van koning Talmai van Gesur. Maäka het ‘n baie mooi dogter gehad, Tamar, op wie Amnon smoorverlief geraak het. Op raadgewing van ‘n neef van hom, Jonadab, het Amnon toe in die bed gaan lê en gemaak of hy siek was. Toe koning Dawid hierdie “siek” seun van hom besoek, het Amnon gevra dat Tamar hom tog asseblief moet kom versorg. Toe sy vir hom ‘n ete na sy slaapkamer bring, het hy haar gegryp en verkrag. Daarna het sy “liefde” verander in afsku en is sy deur ‘n slaaf by die deur uitgesmyt. Haar broer Absalom het haar gehuil gehoor. Hy het haar getroos en haar by hom in die huis geneem.
Koning Dawid was woedend toe hy van hierdie voorval hoor en tog het hy niks daaraan gedoen nie. Maar Absalom wou hierdie brutale ontering van sy suster wreek. Amnon was as die oudste seun die aangewese troonopvolger. Maar hy was ‘n swakkeling en het sleg afgesteek by die aantreklike Absalom. Sy dwase daad het vir Absalom die verskoning gebied om die kroonprins uit die weg te ruim en sommer
sterker aanspraak op die troon te verkry. Toe hy twee jaar later sy skape gaan skeer in Baäl Gasor in Efraim, het hy met toe-stemming van die koning, al die prinse daarheen genooi om saam met hom fees te vier.
Op hierdie partytjie het Absalom gesorg dat veral Amnon homself te buite gaan met die wyn, waarop hy sy lyfwagte beveel het om sy halfbroer dood te slaan. Die ander prinse het verskrik die hasepad gekies om dit vir koning Dawid te gaan vertel. Absalom het uit die land gevlug, na sy ma se mense in Gesur, waar hy drie jaar lank gebly het.
Koning Dawid het weer niks aan die saak gedoen nie. Ek het gesien dat hy net die hele tyd oor sy seun Amnon treur. En wat van sy seun Absalom wat daar in die vreemde sit en vir sy wandaad nie vervolg word nie, maar te bang is om sy voete weer in Jerusalem te sit? Ek het koning Dawid omgehaal om Absalom ongestraf te laat terugkom na Jerusalem. Ek het na Gesur toe gegaan en vir Absalom gaan haal en hom na sy eie huis gebring, want koning Dawid wou hom nie sien nie.
Hierdie prins was ‘n besonder aantreklike kêrel, liggaamlik mooi gebou, sonder enige gebreke. Hy het ‘n digte bos swart hare gehad, wat een keer per jaar gesny moes word, anders word dit vir hom te swaar, want die afgeskeerde hare het gereeld meer as twee kilogram geweeg.
Ek het gedink Absalom sal nou tot rus kom. Twee jaar lank het dit goed gegaan, maar toe laat hy my roep. Ek wou nie gaan nie, maar die slim prins het ‘n plan bedink om my by hom te kry. Hy het ‘n stuk garsland van my aan die brand gesteek. Toe ek by hom kom, sê hy hy wil my na die koning stuur om vir hom ‘n goeie woord te gaan doen. Ek het dit gedoen en Dawid het hom met sy geliefde seun versoen, sonder om hom te straf vir die moord wat hy op sy halfbroer Amnon gepleeg het.
Terug in Jerusalem, het die vernuftige Absalom nie stilgesit nie. Dit was baie gou vir my duidelik dat hy besig was om teen sy eie pa saam te sweer. Hy het vir hom ‘n kar en perde aangeskaf en daarmee swierig deur die strate gery. Hy het 50 manne bymekaar gemaak en hulle al voor hom laat uitdraf om sy belangrike koms luidkeels aan te kondig. Hy het vroeg smôrens soos ‘n wafferse regter in die stadspoort gaan stelling inneem om die guns van almal wat daar kom te probeer wen. Hy het vir elke verbyganger geregtigheid, gelykwaardigheid en hoop belowe en sy pa se regters sleggemaak en selfs van sy pa se raadgewers afgerokkel.
Nadat hy vier jaar lank sy pa se koningskap so ondergrawe het, vra hy vir Dawid of hy maar na Hebron toe kon gaan om daar ‘n gelofte wat hy aan die Here gemaak het, te betaal. Met hierdie leuen is hy na Hebron toe, vergesel van 200 manne, wat egter nie geweet het wat hy in die mou voer nie. By sy aankoms in Hebron het hy homself as koning gekroon. Sy ondersteuners het uitgeroep: “Absalom is koning!” Sy spioene het met ramshorings dit oral verkondig en die volk het in groot getalle na Hebron begin saamstroom. Die nuwe “koning” het spoedig met ‘n yslike leërmag na Jerusalem begin marsjeer om sy pa te kom onttroon.
Die geskokte koning Dawid het gesê ons moet vlug. Ons het met ‘n klompie ondersteuners in die pad geval. Saam met ons was die koning se hofhouding, sy lyfwag en sy private leër en ‘n paar vriende. Dawid het tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis op te pas. Ons het deur die Kedronspruit getrek en noordwaarts koers gehou in die rigting van die woestyn, om so ver as moontlik weg te kom van Hebron, wat suid van Jerusalem lê. ‘n Endjie vorentoe het Ittai die Gattiet met 600 man by ons aangesluit. Ons is ook aangenaam verras toe Siba, die oppasser van Saul se kreupel seun, Mefiboset, vir ons twee donkies, 200 brode, 100 pakkies rosyntjies, 100 pakkies vye en ‘n kruik wyn gebring het.
Toe ons by Bagurim kom, storm Simeï, ‘n familielid van Saul op ons af en begin om ons almal, maar veral vir koning Dawid, op ‘n gruwelike manier te vloek. Toe hy so al langs die berghang loop en vloek en stof opskop en ons onder die klippe steek, wou my broer Abisai sy kop vir hom gaan afkap, maar die koning wou hom nie toestemming gee om te gaan nie.
Ons het van Bagurim af nog ‘n hele entjie noord getrek en toe oos geswaai totdat ons moeg en uitgeput by die Jordaan aangekom het waar ons ‘n bietjie gerus het. Hier het ons berig ontvang dat Absalom met sy raadgewers en sy leër Jerusalem reeds beset het. Agitofel, ‘n vroeëre raadgewer van Dawid, het oorgeloop na Absalom. Hy raai hom toe aan om by Dawid se byvroue te gaan slaap, sodat die hele Israel kan sien dat hy teen sy pa in opstand gekom het. Die verwaande prins het dit toe in die openbaar gedoen.
Agitofel het ook vir Absalom aangeraai om vinnig op te trek en Dawid en sy volgelinge te verslaan voordat hulle deur die Jordaan trek. ‘n Ander raadgewer, Gusai, het hom egter aangeraai om eers te wag tot hy sterk genoeg is, voordat hy Dawid en sy dapper veterane sou gaan aanval. Absalom het nie geweet dat Gusai een van Dawid se spioene was, wat deur boodskappers met Dawid in verbinding was nie. Absalom het Agitofel se raad versmaai en Gusai s’n aanvaar, sodat ons geleentheid gehad het om met koning Dawid veilig deur die rivier te trek. Ons het aangehou ooswaarts beweeg tot by Maganajim, waar Dawid persoonlik ons beskikbare strydmag in drie afdelings georganiseer het.
Ons het Absalom en sy leërmag hier ingewag. Hy het toe al deur die Jordaan agter ons aangetrek tot in Gilead. Toe hulle by die Efraimbos kom, het ons uitgetrek om hulle aan te val. Koning Dawid wou die aanval persoonlik lei, maar ek en die ander offisiere het hom dit afgeraai en gevra dat hy by die stadspoort van Maganajim moet wag. Toe het hy vir my, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”
Ons het hulle toe in die Efraimbos aangeval, waar die koning se getroue dapper veterane onder my bevel hulle verras het. Ons het ‘n groot slagting onder hulle aangerig, totdat hulle holderstebolder op die vlug geslaan het. Daar het meer as 20 000 van hulle bly lê. Die mooi prins het op ‘n muil probeer wegkom. Toe hy onder ‘n groot akkerboom deurjaag, raak sy kop in ‘n mik van die takke verstrengel. Die muil het voortgesnel en Absalom het al skoppende in die lug bly hang. Toe ek by hom kom, het ek drie spiese deur sy hart gesteek en my wapendraers beveel om hom verder dood te slaan.
Ek het die leër beveel om Israel nie verder te agtervolg nie. My soldate het Absalom se lyk in ‘n diep gat in die bos gegooi en met ‘n hoop klippe toegepak. Ek het vir ‘n Kussiet en vir Agimaäs toestemming gegee om dit vir Dawid te gaan vertel. Dit het hom baie swaar getref. Hy het ontroerd en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en aanhoudend geprewel: “My seun, Absalom my seun, my seun. Absalom, ag as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom my seun, my seun...”
Wat toe vir ons ‘n dag van vreugde oor ons oorwinning moes wees, het toe ‘n dag van trane geword, selfs vir die manskappe, omdat die koning treur en huil oor sy seun. Ek kon dit naderhand nie meer verduur nie. Ek het die kamer binnegegaan en vir hom gesê die manne kry skaam; hulle het vandag sy lewe en ons almal s’n gered deur die vyand te verslaan en nou sluip hulle die stadspoort binne, want die koning gee niks om vir hulle nie. Hy huil dan omdat hulle gewen het. Dawid het toe opgehou treur en buite toe gegaan. Hy het in die stadspoort gaan sit sodat almal hom kon sien. Die manne wat nog besig was om van die slagveld af terug te keer, het toe seëvierend en bly voor hom verby marsjeer.
So het ek, Joab, nou al ‘n tweede keer verhoed dat Dawid se koningskap deur opstand en rebellie ondergaan. Daar was ook nog twee ander gevalle, naamlik dié van Seba en van Adonia, wat teen hom in opstand gekom het.
Seba
Na die slag in die Efraimbos teen Absalom en sy volgelinge, het ons met koning Dawid vanaf Maganajim stadig begin terugtrek na die Jordaan, op pad na Jerusalem. Toe ons by die rivier kom, hoor ons dat ‘n opruier al agter ons op die ramshoring blaas, om die Israeliete van die noorde wat ons in groot getalle gevolg het, te keer en teen koning Dawid op te rui.. Sy naam was Seba, ‘n Benjaminiet. Hy skree: “Dawid is nie deel van ons nie! Ons het niks aan Isai se seun nie. Israel, draai terug en gaan na julle woonplekke toe!” Dit was nie hoe lank nie toe stroom Israel agter hom aan, maar Juda het ons getrou bly volg.
Koning Dawid se hart was nog steeds vol wrewel teenoor my oor Absalom, want by ons aankoms in Jerusalem het hy vir Amasa my neef en nie vir my nie, opdrag gegee om binne drie dae die burgers van Juda op te roep. Maar toe Amasa nie terugkom nie, het ek gewonder of hy nie dalk by daardie Seba en sy volgelinge aangesluit het nie, soos wat hy met Absalom gedoen het. Koning Dawid was ook onrustig en het my broer Abisai beveel om met die manskappe te vertrek en vir Seba in te haal, voordat hy ‘n versterkte stad bereik om in te skuil. Ek kon raai dat Dawid mý nie wou stuur nie omdat ek sy seun om die lewe gebring het. Maar ek het nietemin op my eie gegaan en die koninklike lyfwag en ander vegters met my saamgeneem.
Toe ons by die groot klip in Gibeon kom, het Amasa ook daar opgedaag. Ek het hom eenkant toe geroep en met my swaard deurboor.
Ons het verneem dat Seba met ‘n groot gevolg na die stad Abel-Bet-Maäka getrek het en dit beset. Ons het hom agtervolg en by ons aankoms begin om die stad te beleër. Onderwyl ons besig was om ‘n beleëringswal teen die mure op te hoop, het daar ‘n vrou op die muur verskyn. Sy wou dringend met my praat. Sy wou weet waarom ons hierdie vreedsame stad wil vernietig. Ek het gesê nee, ons wil nie, maar lewer vir ons ‘n man van die Efraimberge uit wat hier skuil. Dan trek ons terug. ‘n Rukkie later het hulle sy kop vir ons oor die muur geslinger. Ons het die beleg opgehef en na Jerusalem teruggekeer.
Dit was die einde van die opruier Seba en al die Beriete wat hom gevolg het, se opstand teen Dawid se koningskap oor al die stamme van Israel. Gedurende die volgende jare van sy regering het ek as hoof van sy weermag, met die oorloë wat ons teen die vyande van sy ryk gevoer het, sy koningskap uitgebrei en beveilig, maar toe hy oud geword het en haas die tuig moes neerlê, moes hy vir laas nog weer ‘n keer die bitterheid beleef dat nog een van sy seuns ontydig probeer het om die koningskap te gryp.
Adonia
Gedurende al die jare van my oom Dawid se koningskap oor Juda en Israel, het ek met jammerte waargeneem hoe min hy hom aan die opvoeding van veral sy seuns gesteur het. Hy het hulle nie behoorlik gedissiplineer en die nodige vaderlike sorg oor hulle uitgeoefen nie. Vir hierdie versuim het hy reeds duur betaal toe sy verwaande seun Absalom hom wou onttroon. En nou het dit aan die einde van sy koningskap weer gebeur dat een van sy seuns ‘n stryd om die troon wou voer.
Adonia was na Absalom die sterkste aanspraakmaker op die troon. Toe Dawid fetlik al op sy sterfbed gelê het, het Adonia ewe hoogmoedig by homself gedink dat hy binnekort koning sou wees. Hy het net soos Absalom vir hom ‘n strydwa aangeskaf, met ruiters daarby en vyftig man om voor hom uit te hardloop. Hy het op en af deur die strate gery om die volk te beïndruk met sy mooi postuur. Met sy oog op die groot dag, het hy met die priester Abjatar onderhandel en ook met my, om hom te steun. Ek het gedink my goeie oom Dawid se koningskap is feitlik verby en buitendien het hy my as sy leërowerste afgedank. Daarom het ek saamgegaan toe Adonia ons vir ‘n groot fees na Rogelfontein uitnooi. Hy het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag en al die ander prinse daarheen uitgenooi, maar nie vir Salomo nie. Die joligheid het toegeneem en Adonia het homself tot koning laat uitroep.
Toe het die profeet Natan vir Batséba na Dawid gestuur. Sy het die koning daaraan herinner dat hy haar met ‘n eed beloof het dat haar seun Salomo na hom sou koning word, maar nou het Adonia koning geword, sonder dat hy daarvan weet. Sy was nog besig om die koning in te lig oor Adonia se dinge, toe die profeet Natan self binnekom en haar verhaal bevestig.
Die ou sterwende koning was geskok. Hy het weer sy belofte aan Batséba herhaal. Daarna het hy opdrag gegee dat Benaja met die Kreti en die Pleti - dit is sy lyfwag - na die Gihonfontein toe moet gaan. Hulle moet Salomo saamneem. Hy moet op Dawid se koninklike muil ry. Dan moet die priester Sadok en die profeet Natan hom daar tot koning oor Israel salf. Hulle moet onder die geskal van die ramshoring uitroep: “Lank lewe koning Salomo!” Hulle het toe so gemaak. Die priester Sadok het ‘n horing vol olie uit die heiligdom saamgebring en vir Salomo daarmee gesalf. Hulle is toe agter hom aan, terwyl hulle op fluite blaas en juig dat die aarde dreun. Salomo het op Dawid se troon gaan sit.
Onderwyl ons saam met Adonia besig was om sy “koningskap” te vier, het ek die geluid van die ramshoring gehoor en gewonder waarom die stad so rumoerig was. Toe kom Jonatan, die seun van die priester Abjatar, en vertel vir ons alles wat hy gesien het, wat daar plaasgevind het en dat hy gehoor het koning Dawid het daarna op sy bed gekniel en gesê dat die lof aan die Here toekom, want Hy het vandag iemand gegee wat op sy troon sit en sy eie oë het dit gesien.
Toe was daar groot konsternasie onder ons. Die gaste het verskrik opgespring en gemaak dat hulle wegkom. Prins Adonia het na die altaar toe gevlug en aan die horings gaan vashou, met die hoop dat koning Salomo hom genadig sal wees. Salomo het hom daar laat haal en beloof om hom nie te straf indien hy rustig by sy eie huis bly nie.
Ek het geweet dat ook my lewe aan ‘n draadjie hang, want koning Dawid was tot sy dood gegrief teen my omdat ek sy seun Absalom nie gespaar het nie en vir Abner en Amasa om die lewe gebring het. En nou het ek ook nog om alles te kroon, sy opstandige seun Adonia gesteun in sy pogings om sy gryse ou pa se koningskap te gryp. Ek voel dankbaar dat Dawid my oor al hierdie dinge nie vergeld het nie en ek hoop dat koning Salomo dit ook nie sal doen nie.