Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het sy Seun gestuur om elkeen van ons se sondes op Hom, Jesus, te neem en aan die kruis daarvoor te betaal; en Hy het sy Heilige Gees vir ons hier gelaat om ons te versterk en die evangelie in almal se harte te bewerk. Maar mense met harde harte bied weerstand teen die Gees van God, terwyl geesvervulde harte die langverwagte boodskap met blydskap ontvang. As jy een van dié met 'n verharde hart is, gebruik jou laaste geleenthede om die Gees te ontvang, want ons Messias kom ons weer haal om voor die troon van God te staan – ook jý sal daar moet verantwoording doen!
DIE STRYD OM DIE TROON (6)
Dr JP Botha
Lees reeks by Die Stryd om die Troon
VREDE, RYKDOM EN WYSHEID
Salomo se buitengewone regering
Ek is Benaja. Gedurende Dawid se koningskap het ek altyd een twaalfde deel van sy groot leër in tye van oorlog aangevoer. Ek was ook hoof van sy persoonlike lyfwag, die Kreti en die Pleti, wat vir sy veiligheid moes sorg. Nadat koning Salomo die troon bestyg het, het hy my as sy leëraanvoerder aangestel. Ek het hom met dieselfde trou en liefde gedien as wat ek jare lank aan koning Dawid gegee het.
Koning Salomo het aan die begin van sy regering ‘n paar dinge gedoen wat koning Dawid vir hom gevra het om te doen. Een daarvan was om af te reken met ou Simeï, wat vir Dawid so vervloek het toe hy uit die stad gevlug het. Daar is geglo dat ‘n vloek bly voortbestaan en een of ander tyd die vervloekte tref. Salomo het besef dat Simeï ‘n invloedryke Benjaminiet en bloedverwant van Saul was, wie se aspirasies hy weer kon laat herleef. Indien hy hom dadelik sou teregstel, kon die Benjaminiete in opstand kom. Daarom het hy sy verblyf ingeperk tot Jerusalem, sodat hy ‘n ogie oor hom kon hou. Maar Simeï het na drie jaar die inperkingsbevel verontagsaam, deur na twee weggeloopte slawe te gaan soek. Salomo het toe vir my gestuur om hom tereg te stel, wat ek gedoen het.
Koning Dawid het ook voor sy dood vir Salomo gevra om sy ereskuld aan Barsillai, wat hom tydens sy vlug voor Absalom so gasvry behandel het, te betaal deur goed te wees vir sy seuns. Koning Salomo het dit gedoen. Hulle het van sy tafel af geëet.
Toe moes ek die moeilikste van alle bevele wat ek nog ooit van ‘n koning ontvang het, gaan uitvoer. Ek moes Joab se straf gaan voltrek. Koning Dawid het nooit Joab sy bedrieglike moorde op Abner en Amasa vergewe nie. Maar Joab was familie van hom en ook sy vertroueling. Ek het altyd as een van Joab se onderoffisiere, groot bewondering gekoester vir die wyse waarop hy ons aanslae teen die vyand gelei het.
Koning Dawid het op sy sterfbed ook gevra dat Salomo vir Joab moet straf. Joab het dit verwag en na die heiligdom gevlug en aan de horings van die altaar gaan vasklou en gehoop dat hy begenadig sou word. Maar koning Salomo het my beveel om sy doodvonnis net daar in die heiligdom te gaan voltrek. Dit was nie vir my lekker nie, maar ek het dit gedoen.
Intussen het prins Adonia, wat deur koning Salomo beveel is om by sy huis te bly en hom rustig te gedra, opnuut begin planne beraam om ‘n houvas op die troon te kry. Hy het vir die koninginmoeder, Batséba gevra om tog asseblief vir koning Salomo te vra of hy maar met Abisag kon trou. Sy was die jong meisie wat vir koning Dawid versorg het toe hy bedlêend geword het voor sy dood. Batséba het as koninginmoeder seggenskap oor die harem gehad. Sy het ingewillig om met Salomo daaroor te praat. Toe ons dit hoor het ons gedink sy wou dalk vir Adonia ‘n troosprys gee omdat hy die troon misgeloop het. Maar toe sy dit vir Salomo stel, het hy onmiddellik deur die plan gesien en besef dat sy troon op die spel was. Daarom het hy my beveel om Adonia dadelik te gaan teregstel. Ek het dit gedoen.
Om Adonia se mislukte komplot nog verder te ontlont, het Salomo die priester Abjatar, wat met hom saamgesweer het, ontslaan en vir Sadok in sy plek as priester aangestel.
So het Salomo met hierdie maatreëls wat hy getref het, begin om ‘n stewige houvas op sy koningskap te verkry. Daarna het hy op die hoogte van Gibeon offers van dankbaarheid aan die Here gebring. Die volk het op die hoogtes geoffer so lank as wat daar nog nie ‘n tempel was nie.
Hier het die Here in ‘n droom vir Salomo gevra wat Hy vir hom kon gee. Omdat hy gehoorsaamheid aan die Here gevra het en insig om die volk reg te regeer, het God wysheid aan hom geskenk en ook rykdom en aansien toegevoeg. Hy het Salomo ook ‘n lang lewe belowe indien hy sy voorskrifte en gebooie getrou uitvoer soos wat sy vader Dawid gedoen het.
Die wysheid en insig waarmee koning Salomo staatsake hanteer het en dit in sy menslike verhoudinge met die volk openbaar het, het bekend geword. Die koning se beslissing oor watter een van die twee prostitute die ware moeder van ‘n kindjie was en ander voorvalle van wyse regspraak, het die volk se agting vir hulle koning laat styg.
Sy naam het bekend geraak onder al die nasies in die omtrek. Hy het drie-duisend spreuke geskryf en meer as 'n duisend liedere gedig. Hy het verse gemaak oor bome en plante en gedigte geskryf oor diere, voëls, reptiele en visse. Daar het oral vandaan mense gekom om na Salomo se wysheid te luister, veral afgesante van konings wat van sy wysheid gehoor het.
Hy het die land se administrasie baie doeltreffend georganiseer deur twaalf ministers of hoofamptenare aan te stel. Ek was een van hulle, want ek was hoof van die leër. Om ons land se hofhouding en staatsmasjinerie in stand te hou, het vereis dat die volk hoë belastings moes betaal. Salomo het die land in twaalf distrikte verdeel en ‘n bestuurder oor elkeen aangestel. Hy moes sorg dat sy distrik die nodige produkte lewer vir die onderhoud van die koninklike hof vir een maand.
So het die koninkryk gegroei en gedy tot ‘n groot vredesryk, wat gestrek het vanaf die Eufraatrivier in die noordooste tot aan die grense van Egipte in die suidweste. Die farao van Egipte het sy dogter met Salomo laat trou, want hy het Salomo as ‘n heerser van aansien beskou.
Nadat koning Salomo se regering goed gevestig was, het hy reëlings getref om vir die Here se Naam ‘n tempel in Jerusalem te bou. Koning Dawid wou dit graag doen, maar die baie oorloë wat hy moes voer, het hom dit verhinder. Die Here het hom belowe dat sy seun wat na hom sou regeer die tempel sou oprig.
Koning Salomo het begin om die boumateriaal te versamel. Uit die Libanon het koning Hiram van Tirus al die seder- en sipreshout wat nodig was, gelewer in ruil vir koring en olyfolie. Duisende werkers het in die berge gewerk aan die gekapte klip wat vir die fondamente van die tempel gebruik is.
Die tempel is gebou op die berg Sion, wat die selfde as Moria is. Dit is buitekant die stadsmuur opgerig, maar met latere uitbreidings het die muur dit ingesluit. Die tempel was die groot huis wat koning Salomo vir die Here gebou het. Dit het ‘n voorhuis of voorportaal gehad. Agter die voorportaal was die Heilige en die Allerheiligste. Die tempel is op ‘n platvorm gebou. In die eerste deel van die gebou was ‘n reeks kamers wat stoorplek vir tempelgereedskap en blyplek vir priesters was. Die tempel was twee maal groter as die tabernakel. Voor die ingang was daar ‘n waskom en offeraltaar. Die waskom was enorm groot, met twaalf brons bulle as voetstuk.
In die tempel was ‘n goue tafel waarop twaalf toonbrode gelê het. Daar was ‘n goue kandelaar wat dag en nag gebrand het. Tussen die tafel en die lamp het die goue altaar gestaan. In die Allerheiligste was die Ark, wat deur die vlerke van twee gerubs beskerm is. Die tempel was binne ryklik versier met goue oortreksels en inlegsels en keurige houtsneewerk.
Die bou van die tempel het sewe jaar geduur., Toe dit voltooiing nader, het die Here vir Salomo gesê dat die tempel alleen nie genoeg is om sy seën oor hulle te waarborg nie. As die koning en die volk nie sy verbond nakom nie, kan hulle nie verwag dat God tussen hulle sal woon en hulle sy volk sal wees nie.
Na voltooiing van die tempel en die wyding daarvan, het koning Salomo vir hom ‘n paleis gebou. Dit is aan die suidekant van die tempel opgerig. Dit het dertien jaar geneem om te voltooi. Ons het dit die “Libanonbos” genoem omdat die baie sederpilare daarvan dit soos ‘n bos laat lyk het. Die drie verdiepings van die gebou het gerus op vier rye sederhoutpilare. Bo-oor die verdiepings was daar ‘n dak wat deur vyf en veertig pilare gestut is. Hy het ook ‘n pilaargang gebou wat vyf en twintig meter lank was. Die troonkamer van die paleis waar die hofsake plaasgevind het, was die wonderlikste plek wat ek nog ooit gesien het. Dit was van die vloer af tot teen die dak met sederhout uitgevoer. Ses trappe het na die groor ivoortroon gelei. Daar het twaalf leeus op die trappe gestaan, ses aan elke kant. Die troon se kopstuk was rond. Langs elkeen van die twee groot armleunings het daar ‘n leeu gestaan.
Die gebou waar die koning self gewoon het, was aan die binneplein agter die troonsaal. Daar langsaan het hy nog ‘n swierige woonplek gebou vir die farao se dogter. Hy was met hierdie Egiptiese prinses getroud. Al die drinkgerei van die koning was van goud. Silwer was so volop dat dit eintlik waardeloos was. Die Tarsisvloot het elke drie jaar ‘n vrag goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane gebring.
My koning Salomo het skatryk geword. En daar was vrede in ons land en vrede met die buiteland. Ek het as hoof van ons leërmag nie nodig gehad om binnelandse opstande dood te slaan of buitelandse oorloë te voer nie. Buitelandse vorste het ons koning bewonder en beny. Daar was selfs van hulle wat kom kyk het hoe groot en indrukwekkend die koninklike hofhouding was en hoe uitgebreid en doeltreffend die staatsadministrasie funksioneer het. Baie het gekom om sy wysheid aan te hoor, want sy godgegewe insig en kennis oor alle sake onder die son, het mense verstom gelaat, soos sy spreuke, liedere en gedigte.
Op ‘n goeie dag het daar ‘n koningin en haar gevolg uit die verre suide ons besoek. Dit was die koningin van Skeba. Sy het in haar land gerugte gehoor van koning Salomo se buitengewone wysheid en rykdom en wou persoonlik kom vasstel of dit die waarheid is. Sy was beslis ook baie ryk, want sy het Jerusalem binnegekom met ‘n groot gevolg en ‘n aantal kamele wat belaai was met kosbare kruie, goud en edelstene. Sy het diep beïndruk met alles wat sy by ons gesien het, weer na haar land teruggekeer.
Gedurende die jare wat gevolg het, het my liewe koning Salomo met die een na die ander uitlandse vrou getrou. Die meerderheid van hulle was prinsesse. Daar was Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete. Dit was vir ons duidelik dat hy hiermee vir ons groot koninkryk nog meer invloed by die buitelandse vorste wou verwerf. Ek het met groot kommer in my hart gesien hoe sy harem vermeerder tot 700. Naderhand het hy nog 300 byvroue ook gehad.
Hierdie uitlandse vroue was heidene wat die Here nie geken het nie. Hulle het hulle afgode met hulle saamgebring en hulle het koning Salomo verlei. Toe het hy die Here nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa, koning Dawid nie. Hy het selfs op die berg teenoor Jerusalem ‘n hoogte gebou, waar die vroue vir Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete, kon aanbid. Koning Salomo self het naderhand die Sidoniërs se afgod, Astarte, en vir Milkom, nog ‘n afgod van die Ammoniete, gedien.
Dit was vir my hartverskeurend om te aanskou. O, my liewe koning Salomo, hoe kan u die Here so verlaat en daardie nikswerd dinge aanbid? Het u vergeet wat ons almagtige God vir u gedoen het? Die Here het reeds twee keer aan hom verskyn en hom uitdruklik beveel om nie ander gode te dien nie. Toe praat die Here weer met hom: “Omdat jy jou nie aan die verbond en voorskrifte hou wat Ek jou gegee het nie, gaan ek die koningskap van jou afskeur en aan een van jou onderdane gee.” Die Here het egter beloof om Salomo nog op die troon te hou tot sy dood, ter wille van sy verbond met Dawid. Daarna sou sy seun net oor een van die twaalf stamme koning wees.
Die laaste paar jaar van Salomo se koningskap oor Israel was nie vir ons lekker nie. Die welwillende vrede het verdwyn en selfs die voorspoed was iets van die verlede. Die Here het buitelandse opstande laat plaasvind, soos dié van die Arameërs en die Edomiete, wat ek moes gaan onderdruk.. So het die regering van ons wonderlike koning Salomo met sy dood in ‘n antiklimaks geëindig.