Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wysheid is om te weet wanneer om jou opinie te lug en wanneer om stil te bly. Oefen dit gerus!
GOUE STRATE HET NIE STOF NIE (7 - SLOT)
Ds.Andrè van den Berg
Die regte perspektief
Dis belangrik dat ons die dood sal verstaan. Baie mense is so bang vir die dood dat hulle amper nie geleef kry nie. Die dood kan vir mense net een van twee dinge beteken. Dis of ‘n toestand van algehele onbewustheid of een waar daar mense in ‘n geheel nuwe wêreld ingestap word. Wie lg.glo, moet die dood as ‘n wins beskou. Dis ‘n ontmoeting waarna jy kan uitsien, maar ook ‘n afskeid wat jy nie mag verhaas nie.
Die dood is vir elke mens‘n pynlike verlies. Daarom is ons hartseer as ‘n geliefde sterf. Jesus het dan self oor die dood van ‘n vriend gehuil. Maar wanneer ons aan ‘n gelowige dink wat in sy nuwe woning tuisgekom het, kan daar selfs ‘n glimlag deur ons trane breek. Die dood is niks anders as ‘n oorgang na ‘n ander wêreld net soos vriende wat die see oorsteek in mekaar se gedagtes bly voortleef al is hulle ver.
0m in die harte van mense wat ons agterlaat voort te leef, is om vir altyd te leef. Die dood beëindig slegs ‘n lewe, maar nie ‘n verhouding nie.
Dis in werklikheid nie die dood wat so verskriklik is nie, maar die gedagte dat dit iets vreesliks is. Baie mense sien die dood foutiewelik as ‘n tipe van engtevrees omgewe graflewe. ‘n Mens hoor van iemand wat nie berusting oor die dood van ‘n geliefde kan kry en dan gereeld begraafplaas toe gaan om met daardie persoon te gaan praat. Behalwe vir die bietjie terapeutiese waarde wat dit mag hê, is dit verder sinloos want daardie ontslapene is in werklikheid nie daar nie!
Die Bybel beskryf maar weinig doodsbedtonele. Miskien is die rede hiervoor dat die Here ons meer aandag aan die lewe wil laat skenk as aan die dood. Hoe ons leef, is immers van meer belang as hoe ons sterf. Die grootste tragedie van die lewe is nie die dood nie, maar dat ‘n mens sinloos sal leef.
Die dood is nie die vyand nie, maar eerder die mens se vrees daarvoor. Ons moet onsself elke dag daaraan herinner dat ons sterflik is. Ongelukkig maak dit baie mense so bang vir die dood soos kinders vir die donker. Gelukkig hou die vallei van die skaduwee van die dood vir gelowiges geen donkerte in nie. As mense wat met die dood worstel en die gesinslede wat hulle bystaan net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde deur ‘n opening so groot soos ‘n loergaatjie na die wêreld anderkant die dood kon kyk, sou hulle baie anders oor die dood dink.
Desondanks bly mense teen die aakligheid van die dood as sulks vaskyk. Hulle vereenselwig hulle met die akteur Woody Allen wat by geleentheid gesê het: “Ek is nie bang vir die dood nie; ek wil net nie bly wees wanneer dit gebeur nie”. Dis nie die dood wat ons moet bang maak nie, maar die tyd wat dit voorafgaan. Daar is baie meer vrees in die lewe as in die dood. Wees derhalwe eerder bang vir die lewe omdat dit ‘n bitter stryd is om te veg en ‘n rowwe rit om te onderneem.
Die dood is om die wêreld wat jy ken vir groter kennis te verruil. Dis om geliefdes vir groter liefde agter te laat. Dis om ‘n land te vind wat geselliger as jou eie is en ‘n huis heerliker as jou aardse woning. Die dood is slegs ‘n horison, d.w.s ‘n beperking van ons uitsig. Gelowiges kyk altyd baie verder as die horison.
Dis net menslik dat die dood van ‘n geliefde ons bedroef. Hoe anders is dit nie met gelowiges nie. Dis ‘n anderse droefheid omdat ons weet dat ons hulle by ons eie dood of met die wederkoms van Christus weer sal sien. Die dood het, Goddank, waaragtiglik nie die laaste sê nie! Met die wederkoms sal die groot stilte verbreek en die kommunikasie met alle medegelowiges herstel word.
Mense wat reg leef, is altyd reg vir die dood. Allermins hulle wat ergerlike lewens lei. Hulle is banger vir die dood as vir enigiets anders. Geen mens is meer geskik om op die aarde te leef as hy wat vir die dood reg is nie. Want wie se lewe is so vol as die een wie se sonde weggeneem is? Wie kan in vrede gaan slaap en met soveel vreugde opstaan as hy wat in Christus ‘n nuwe mens geword het? Vir hom is die dood slegs die sleutel wat die paleis van die ewigheid oopsluit.
By geleentheid vra iemand ‘n bejaarde man hoe oud hy is. “Ek is aan die regte kant van 70” antwoord hy. Toe dit later aan die lig kom dat hy 78 jaar oud is, vra die persoon hom wat hy met die regte kant van 70 bedoel. “Dis die kant van 70 naaste aan my hemelse woning!” kom die antwoord.
Ons moet ons derhalwe met alles wat met ons gebeur versoen. God sal niks te vroeg of te laat met ons laat gebeur nie. Alles wat Hy oor ons lewens beskik, is reg. Daar is nie iets soos die noodlot nie. Van Hom is alle dinge. In Hom is alle dinge. Na Hóm keer alle dinge weer terug. As die tekens van die ouderdom ons liggaam begin merk en ons verstand aantas, moet ons in daardie donker oomblikke net bid dat ons dit as deel van die ritme van God se skepping sal sien en daarmee vrede maak.
‘n Paar slotgedagtes
As kinders van die Here moet ons die lewe tot op die einde voluit leef. Vir ‘n Christen beteken die dood nie die einde van sy lewe nie, maar eerder die oorstap na die eintlike lewe. Die dood is dus nie die uitdoof van ‘n lig nie, maar die doodblaas van ‘n lamp omdat die dag aangebreek het.
Die dood is nie die grootste tragedie van die lewe nie, maar dit wat in mense sterf terwyl hulle nog lewe. Die dood het oor die kinders van God nie die laaste sê nie. Dit het nie die krag om hulle heeltemal te vernietig nie. God het in sy groot Genade ons van die vrees van die onafwendbare dood verlos deur die einde van hierdie lewe die begin van ‘n nuwe lewe by Hom te maak!
As ons God met ons lewe vertrou, vertrou ons Hom ook met ons dood. Hy los nooit ons hand nie. Die Een wat ons aan die einde van ons lewe gaan inwag, is niemand anders as die Goeie Herder wat sy lewe vir die skape aflê en rus alvorens sy hele kudde bymekaar is nie. Gevolglik is selfs ‘n skielike dood skielike heerlikheid.
Gelowiges moenie vir die dood bang wees nie. Dis eintlik ‘n vriend. Niemand sterf voor sy tyd nie. Alle vrugte word mos nie terselfdertyd ryp nie. So ook gelowiges. Hulle is eers ryp wanneer God hulle huistoe neem. Sommige is op 21 jaar al ryp terwyl ander eers op 70 of 80 jaar ryp is.
Daarom moet die kind van God die lewe uitgaan net soos wat hy dit ingekom het – sonder vrees. Die lewe is soos ‘n wedloop; op een of ander tyd gee jy jou fakkel aan ‘n ander oor. Jy maak maar net plek soos wat ander voor jou vir jou plek gemaak het.
Jare gelede besoek ‘n gelowige sy strewende vriend. “Vaarwel my vriend, ek sal jou nooit weer in die land van die lewendes sien nie”, sê hy vir hom waarop die sterwende antwoord: “Ek sal jou weer in die land van die lewendes sien. Ek is daarheen oppad. Hierdie lewe is die land van die sterwendes”.
Augustinus het gesê dat hy nie weet of hy van ons aardse bestaan as ‘n sterwende lewe of ‘n lewende dood moet praat nie.
Spurgeon vertel weer van ‘n geval waar hy ‘n sterwende gelowige gevra het hoe dit met hom gaan. “Amper goed” het die man geantwoord. Ja, die dood is ‘n geneesmiddel wat ons vir ewig gesond maak. Gevolglik is die beste tyd van ‘n gelowige se lewe, sy laaste. Want dan is hy die naaste aan die hiernamaalse lewe.
Spurgeon vertel ook van ‘n ou Walliese dame wat op haar sterwensbed deur haar leraar besoek is. “Suster, jy is besig om te sink!” het hy vir haar gesê. “Maar dominee, hoe op aarde kan ek dwarsdeur ‘n rots sink? ‘n Mens wat op ‘n rots staan kan mos nie sink nie. Ek staan dan op die Rots van alle eeue!” het sy hom geantwoord. Dis wonderlik om ‘n gelowige wat nog vol lewe is, te sien sterf. Die rivier van sy sterflike lewe kom wel tot stilstand net om in ‘n oseaan van ‘n glorieryke hiernamaalse lewe uit te mond.
Ons moet miskien soos ‘n Columbus van ouds wees wat tydens sy eerste ontdekkingsreis na Amerika nie presies kon sê wat aan die oorkant van die onbekende see was nie. Al sy hoop en verwagtings kon selfs op niks uitgeloop het. Al wat Columbus vas geglo het, was dat die see ook ‘n oorkantste kus het. Die lewe het ‘n oorkantste kus wat slegs met die vaartuig van die dood bereik kan word.
Gevolglik moet die gedagte van die dood gelowiges nooit ontstel nie. Voor ons lê daar baie beter dinge as agter ons. Die dood is nie ‘n vyand wat ‘n einde aan alles maak nie, maar ‘n vriend wat ons aan die hand neem ten einde die koninkryk van die ewige liefde te kan betree. Die dood is geen wrede tiran, wraakgierige vyand of hardvogtige despoot wat gereed staan om ons te vernietig nie. Dis maar net die dienskneg van ‘n liefdevolle God wat ons baie graag in sy Huis wil verwelkom.
By geleentheid het ‘n kindjie ‘n voëlnessie in ‘n boom met ‘n paar eiertjies daarin gevind. Toe hy na verloop van tyd weer daarkom, vind hy tot sy grootste ontsteltenis uit dat daar net ‘n paar doppe in die nesssie oorgebly het. Dis toe dat sy moeder vir hom sê: “Dis geen ramp nie, my kind! Daar was klein voëltjies binne in die eiers. Hulle het uitgebroei en weggvlieg om saam met die ander voëls te wees. Die eiers is nie onnodig gebreek nie, hulle het slegs aan hulle doel beantwoord”. Ons moenie die grafte van ons geliefdes as ‘n ramp beskou nie. Dis maar net die doppe wat gebreek is. Ons geliefdes bevind hulle saam met al die ander ontslape gelowiges in die hiernamaals. Hulle dood was vir hulle geen verlies nie, maar eerder ‘n ongelooflike wins!
Mag elkeen van ons steeds so gereed vir die hiernamaals wees, dat ons kan bid: “Here, as iemand vandag moet sterf, laat dit ek wees, omdat ek die gereedste daarvoor is!”