Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is – Spreuke 13:24
OM DANKIE TE SÊ
BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (4)
Lees almal Bybelverhale vir jong kinders
Jacqueline Sibley
Toe jy 'n klein ou babatjie was het jou ma en pa vir jou 'n naam gegee. Hulle het aan baie name gedink, en toe die een gekies waarvan hulle die meeste hou. En daardie naam het hulle vir jou gegee.
Maria en Josef het nie nodig gehad om 'n naam te soek toe húlle Baba gebore is nie. God het alreeds vir Hom 'n naam gekies. Hy het vir Josef en Maria gesê om die Baba 'Jesus' te noem. Hulle het dit ook gedoen. Hulle was baie lief vir Jesus en het dikwels vir God dankie gesê vir Hom.
Toe Jesus omtrent ses weke oud was, sê Josef vir Maria: "Ons moet nou na God se huis gaan sodat ons weer vir Hom kan dankie sê vir Jesus."
"Ja, ons moet na die tempel gaan," sê Maria.
Die tempel was God se huis in die groot stad Jerusalem.
Vroeg een môre vertrek Maria en Josef. Maria ry op die donkie en sy hou die Baba Jesus versigtig in haar arms vas. Josef loop langs haar. Klip-klop, klip-klop, klink die donkie se hoewe.
Uiteindelik kom hulle by die groot stad Jerusalem. Oral sien hulle mense. Daar is groot mans en klein mannetjies, groot vroue en klein vroutjies. Daar is vet mans en maer mannetjies, vet vroue en maer vroutjies. Daar is allerhande soorte mense. Hulle is in die strate, in die huise en in die winkels. Versigtig lei Josef die donkie tussen die mense deur. Sommer gou is hulle by die tempel.
Naby die tempel is 'n paar mans besig om diere en voëls te verkoop. "Hier is ons," sêJosef. "Wag julle 'n rukkie hier, dan koop ek eers twee duiwe." Hy koop twee duiwe by die mans en gee hulle vir Maria.
Maria neem die duiwe saam toe sy die tempel binnegaan. Sy neem hulle as 'n persent vir God. In daardie dae het die mense dikwels persente saamgeneem na die tempel om vir God te gee. Niemand het gedink dis vreemd nie. Nogal 'n mooi idee, né?
In die tempel is daar 'n ou man. Sy naam is Simeon. Hy is baie lief vir God en baie keer praat hy met Hom. Hy praat met God in sy eie huis. Hy praat ook met God in die tempel. God praat ook met Simeon. Hy het vir Simeon vertel dat Hy 'n baie spesiale Baba na die wêreld sal stuur. Die Baba sal God se eie Seun wees. God het vir Simeon belowe dat hy hierdie Seun sal sien.
Eendag het Simeon die gevoel gekry dat God wil hê hy moet na die tempel gaan. Dit was dieselfde dag dat Maria en Josef na die tempel gegaan het om dankie te sê.
Simeon sien toe Maria en Josef binnekom. Hy weet sommer dadelik dat hulle Baba die Een is wat God belowe het om na die wêreld te stuur.
Simeon loop tot by Maria en Josef en hy glimlag. Mag ek die Baba 'n bietjie vashou? vra hy.
"Ja, doen dit gerus," sê Maria. Versigtig sit sy Jesus in Simeon se arms.
Simeon is baie bly. Hy sê:"Dankie God, dat U my toegelaat het om hierdie Baba te sien."
Simeon gesels toe met Maria en Josef en hulle luister na hom. Hy vertel vir hulle van die dinge wat Jesus sal doen as Hy eers groot is. Hy sê vir Maria: "Hierdie Baba is baie kosbaar. Hy sal nog baie mense help."
Net toe kom 'n baie ou vrou die tempel binne. Haar naam is Anna. Anna is baie lief vir God.Sy kom dikwels na die tempel. Sy praat ook met God en leer graag van Hom. Sy weet ook dat God belowe het om 'n baie spesiale Baba na die wêreld te stuur. Die Baba sal God se eie Seun wees.
Anna sien vir Maria en Josef met die Baba Jesus. Sy gaan nader om na Hom te kyk. Sy weet sommer dadelik dat Jesus die Een is wat God belowe het om te stuur. Sy is bly om Hom te sien. Sy sê: "Dankie God, dat ek hierdie Baba kon sien." Toe gaan sy weg om vir die ander mense die goeie nuus te vertel. Sy sê: "God het die Een wat Hy belowe het, gestuur."
Maria en Josef sê vir God dankie dat Hy Jesus gestuur het. Simeon en Anna sê ook vir God dankie omdat Hy Jesus gestuur het. Seuns en dogters kan ook vir God dankie sê omdat Hy Jesus gestuur het.
Daar is baie dinge waarvoor ons vir God kan dankie sê. Dink aan 'n paar van hierdie dinge en sê vandag vir die Here baie dankie daarvoor.
Die slim manne... vervolg