Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons kry almal 'n laaste geleentheid om na God terug te draai; besef ons die noodsaak daarvan? Jesus het sy twaalf dissipels uitgestuur met die bevel om in verskeie stede en dorpe te gaan preek om die afgedwaaldes te bekeer; maar as die mense nie na hulle wou luister nie, moes hulle uit daardie huis of daardie dorp uitgaan en die stof van hulle voete afskud; en dán, het Jesus gesê, sal dit vir daardie stad in die oordeelsdag baie erger wees as wat Sodom en Gemorra deurgegaan het.
TUIS IN NASARET
BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (7)
Lees almal Bybelverhale vir jong kinders
Jacqueline Sibley
Maria en Josef het vir Jesus na Egipte geneem sodat koning Herodes Hom nie kon doodmaak nie. Maar toe is koning Herodes dood en dit was nie langer vir hulle nodig om in Egipte te bly nie. Hulle kon weer veilig terugkeer na hulle huis.
Maria en Josef neem toe vir Jesus terug na hulle huis in Nasaret. Hulle is bly om weer terug te wees by al hulle vriende. Hulle was lank weg. Josef, Maria en Jesus bly in 'n klein ou huisie. Nie naastenby so groot soos jou huis nie. Daar is net een kamer in die huis.
Maria hou die huis mooi skoon. Elke dag kyk Jesus hoe sy die vloere vee. Daar is nie matte op die vloer nie. Die vloer is van droë modder gemaak. Wanneer Maria brood bak, kyk Jesus hoe sy die meel en die water meng. Die brood wat sy bak smaak heerlik.
Partykeer maak Maria hulle klere heel. Dan kyk Jesus hoe sy die gate toelap. In en uit, in en uit, gaan die naald. Maria het altyd iets om te doen.
Josef is net so besig. Hy werk in sy werkswinkel. Daar maak hy meubels van hout. Hy maak sterk kiste waarin die mense hulle goed kan bêre. Hy maak ook wiegies waarin die babas kan slaap; hy maak ook nog allerhande ander goed. Elke dag werk hy baie hard. Girts-garts, girts-gars, klink sy saag. Doef! Doef! dreun sy hamer. Elke dag werk hy baie hard. Jesus hou daarvan om hom dop te hou.
Partykeer gaan Jesus saam met Maria water haal. As jou mammie wil water hê draai sy net die kraan oop, nie waar nie? Maar Maria het nie 'n kraan in haar huis nie. As sy wil water hê moet sy dit in 'n kruik by die put gaan haal. Maria dra die kruik altyd versigtig op haar kop. Al die ander vrouens in Nasaret dra hulle water so aan. By die put maak Maria haar kruik vol water. Versigtig sit sy weer die kruik op haar kop en stap huistoe. Sy mors nie 'n druppel water nie.
Wanneer Maria 'n kans kry vertel sy vir Jesus stories uit die Boek van God. Soms vertel Josef ook vir Jesus stories uit die Boek van God. Op die Sabbatdag (dit is soos ons Sondag) gaan Jesus saam met Josef en Maria na die tempel. Daar hoor Jesus nog meer van God. Jesus hou baie daarvan om van God te leer.
In die aand, wanneer Josef klaar gewerk het in sy werkswinkel, eet hulle aandete. Jou mammie kook seker kos op 'n elektriese of 'n gasstoof. Maar Maria het nie so 'n stoof in haar huis nie. Sy kook hulle kos oor 'n klein vuurtjie. Maria maak gewoonlik bredie. Sy sit boontjies, pampoen, uie en preie in die bredie. Maar omdat vleis so duur is, kan Maria nie elke dag vleis kook nie. Wanneer Josef ná werk by die huis kom haal Maria die kos van die vuur af. Sy sit die pot op die vloer. Dan gaan sit Maria, Josef en Jesus ook op die vloer om te eet. Jy sit op 'n stoel aan tafel wanneer jy eet, nie waar nie? Maar Maria en Josef het nie 'n tafel en stoele nie. Hulle sit altyd op die vloer en eet. Maar voor hulle eet sê Josef eers vir God dankie vir die kos.
Wanneer Jesus moet gaan slaap, kan Hy nie na sy slaapkamer gaan soos jy nie. Sy huis het net een kamer. Daarom slaap Hy in dieselfde kamer waar Hy bedags speel. Hy slaap op 'n mat. Elke oggend rol Hy die mat op en bêre dit. Elke aand rol Hy dit weer in een hoek van die kamer oop.
Voordat Hy gaan slaap, praat Jesus met God. Hy sê vir God dankie vir al die goeie dinge wat daardie dag gebeur het. Hy weet dat God Hom liefhet en dat al die goeie dinge van Hom af kom.
Dan gaan lê Jesus, en Hy slaap. Sommer gou sal 'n nuwe dag weer in Nasaret begin.
GEBED
Dankie God, vir die huis waarin ek woon en al die dinge waarvan ek so baie hou. Dankie vir my ma en pa wat vir my sorg.
AMEN
Toe Jesus twaalf jaar is...vervolg