Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dwaalleraars is soos ʼn heuningby met heuning in die bek, maar ʼn angel aan die stert!
JY KAN MET PYN SAAMLEEF (1)
JE de Vries
Lees reeks by Jy kán met pyn saamleef!
INLEIDING
As daar van pyn gepraat word, dink 'n mens gewoonlik aan liggaamlike pyn. Maar daar is ook iets soos geestelike en emosionele pyn. En soms is liggaamlike pyn makliker om te verduur. Ek weet, want ons huisgesin het die afgelope paar maande geleer wat innerlike pyn beteken.
Ons vyfjarige seuntjie het leukemie. Dit het ons 'n lang stryd gekos voordat ons die vrede en krag kon vind om van dag tot dag met hierdie wete saam te leef. In hierdie aflewering wil ek graag ons ervaring deel met almal wat pyn ken.
Daar is al baie oor lyding geskryf. Sommige gee raad oor hoe 'n mens pyn behoort te hanteer. Ander wys op die geestelike seën wat 'n mens daaruit kan put. Party van die boeke is werklik waardevol, ander maak 'n mens net bedruk.
Die meeste hiervan is geskryf na afloop van 'n lang beproewing – byvoorbeeld ná die dood van 'n geliefde wat 'n terminale siekte gehad het.My seun is nie dood nie. Ons weet nie wat die toekoms vir hom inhou nie. Ons moet elke dag met die pyn saamleef om hom te sien speel, te sien lag, om hom teen jou vas te druk – en nie te weet vir hoe lank nog nie. Daar is hoop dat hy kan herstel. Maar geen waarborg nie. Wat die behandeling van leukemie betref, is daar bemoedigende vordering. Is dit ons enigste troos? Sê nou hy reageer nie daarop nie en sterf tog? Hoe vind 'n mens vrede te midde van soveel spanning?
Ek lewe in 'n wêreld waarin hoop en vrees mekaar voortdurend afwissel en ek weet daar istalle ander mense wat dieselfde ervaring het. My eie pyn het my meer ontvanklik gemaak vir die pyn van ander, daarom weet ek hoe 'n ontsettende behoefte aan krag 'n mens het wanneer die stryd vir jou te veel word.
Welmenende vriende probeer ons dikwels met oppervlakkige, niksseggende trooswoorde versterk en bemoedig. Maar baiemaal vererger dit eerder die pyn omdat 'n mens geen krag uit mooi woorde kry nie. Ons staan in die pynlike werklikheid van ons situasie en wat ons nodig het is krag en vrede, nie vae veralgemenings nie.
Hoe lank ons met die pyn van ons seun se siekte sal moet saamleef, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat hierdie ervaring ons hele lewensbeskouing verander het. Terselfdertyd word ons ook voorberei om wat ook al in die toekoms mag gebeur, te kan verduur. Maar meer nog: deur die genade kry ons die krag wat ons vir elke dag nodig het. Dit is 'n baie kosbare besit.
Enigiemand wat met pyn te doen kry, hoop altyd dat daar iewers 'n vinnige en maklike oplossing vir die probleem sal wees. Maar vir 'n diep innerlike seer is daar selde 'n kitsoplossing. Emosionele pyn kan baie oorsake hê: angs en spanning oor 'n ernstige ongeluk, oor 'n gevreesde siekte, of droefheid omdat 'n geliefde gesterf het. 'n Mens kan intense hartseer beleef omdat jou huweliksmaat jou verlaat het of jou kind teen jou rebelleer of omdat jou ouers jou mishandel of 'n vriend jou teleurgestel het. Die pyn wat langtermynprobleme soos dwelmverslawing, alkoholisme, geestessiektes of verstandelike vertraagdheid veroorsaak, hou skynbaar eindeloos aan. In elke geval is dit dieselfde: dié wat dit deurmaak, lewe tussen hoop en angs. Depressiwiteit is nooit ver weg nie. Jy het krag nodig om net van dag tot dag aan die gang te kan bly, om te kan dra wat ook al op jou wag.
DIE BROEDERSKAP VAN LYDENDES
Onwillekeurig vra ons die vrae wat alle ander lydendes vra: Waarom moet ons hierdie lyding deurmaak terwyl ander dit gespaar bly? Hoekom moet so iets gebeur? Waarom met 'n vyfjarige kind?
Mens kry selde antwoorde hierop. Maar omdat almal wat ly met dieselfde vrae en vrese worstel, word hulle na mekaar aangetrek en kort voor lank word daar 'n broederskap van lydendes gevorm.
Lyding is 'n deel van die lewe. Met fisieke pyn kan 'n mens na 'n dokter gaan en meestal kan dit verlig of verwyder word. Later kan 'n mens selfs met smaak van jou mediese ervarings vertel. Maar menslike pyn bestaan meer dikwels uit emosionele lyding: vrese, innerlike verwarring, depressie. Dié soort pyn isoleer mense van mekaar omdat een mens hom nie werklik in 'n ander se pyn kan inleef nie. Hartseer is so 'n persoonlike saak dat ons daarvan wegskram om dit met ander te deel, gedeeltelik omdat pyn 'n mens weerloos maak, so blootgestel aan verdere hartseer. Daarom steek ons ons gevoelens liewer weg.
Dis dikwels moeilik om 'n mens se emosies onder woorde te bring, en dit maak seer as ons ons hartseer tog probeer deel en dan moet uitvind dat selfs ons beste vriende nie regtig verstaan nie. Wanneer 'n mens egter met iemand praat wat dieselfde soort lyding deurmaak, gebeur die teenoorgestelde. Selfs al is dit 'n wildvreemde persoon vind ons gou dat ons vrylik en gemaklik kan gesels oor die gemeenskaplike probleem waarmee ons worstel. Dit is asof daar sommer dadelik 'n vriendskapsband gesmee word omdat die een presies wees wat die ander ervaar. En omdat ons mekaar se pyn ken en verstaan, kan ons ook die las vir mekaar ligter maak deurdat ons nie meer ons ware gevoelens en emosies hoef weg te steek nie.
Om met iemand wat verstaan oor jou lyding te praat help altyd. Ek ondervind dit elke keer wanneer ons die geleentheid kry om met die ouers van ander leukemiepasiënte te praat. Daar is 'n sterk samehorigheidsgevoel tussen ons. Ons deel ons kennis van die siekte, ons hoop, ons vrese. 'n Mens kan 'n punt bereik waar jy nie meer jou pyn alleen kan dra nie. Een oplossing hiervoor is om dan jou toevlug te neem tot die broederskap van lydendes.
Eenkeer toe ons seun se toestand uiters kritiek was, was ek baie neerslagtig. Dit het gevoel asof ek die emosionele las nie langer kon dra nie. Die gedagte dat my kind enige oomblik kon sterf was vir my te veel. As iemand toe vir my sou sê dat God ons nooit 'n las oplê wat ons nie kan dra nie, sou ek waarskynlik teruggekap het met: "Maar hierdie keer het Hy!"
In daardie tyd kom ek een aand vir huisbesoek by een van my gemeentelede. Vanselfsprekend het hy gevra hoe dit met my seuntjie gaan en ek moes sê: "Baie sleg." Tot my verbasing blyk dit toe dat die man nie net self 'n baie ernstige kwaal gehad het nie maar dat hy ook sy dogtertjies, na 'n slepende siekte, aan die dood moes afgee. 'n Jaar of wat later is nog 'n jong familielid van hom skielik en tragies oorlede. Dadelik het ons iets van die broederskap wat daar tussen lydendes bestaan, ervaar. Ek het ook tot die besef gekom dat ek nog baie moes leer oor die laste wat op mense gelê kan word. Snaaks genoeg, hierdie man was nie verbitterd of morbied oor die lyding wat hy en sy familie moes deurmaak nie. Hulle is gelukkige en opgeruimde mense. In al die jare wat ek hulle ken, het ek nooit gemerk dat die wonde van hul pyn 'n merk gelaat het nie.
Dit is vir my moeilik om my gevoelens ná hierdie ervaring te beskryf. Ek het nie beter gevoel omdat daar iemand was wat 'n groter hartseer as ek gehad het nie – om te weet iemand anders ly meer as jyself neem nie 'n mens se eie pyn weg nie. Nee, ek het beter gevoel omdat ek besef het: hierdie mense het baie gely en tog het God hulle die krag gegee om dit te dra. Hy kan en sou dit ook vir my en my familie doen. Ek is daar weg met nuwe hoop in my hart. Deur die broederskap van die lydendes het God my aangeraak en my neerslagtigheid verlig.
By meer as een geleentheid het ons dié ervaring van gedeelde leed gehad. Ek moes eenkeer 'n jong ouerpaar wie se seuntjie sterwend was, bystaan. Hy het ook leukemie gehad. Terwyl ons magteloos by sy bed gestaan het, kon ek net sê dat ek probéér om saam met hulle te voel; maar die werklike diepte van hul pyn kon ek toe nog nie met hulle deel nie. Maar noudat ons daardie selfde pyn deurmaak, kan hulle óns troos omdat hulle presies weet hoe ons voel. Nou praat ons dieselfde taal.
Dit is nie nodig dat mense altyd presies dieselfde probleme moet hê voordat daar 'n samehorigheidsgevoel tussen hulle ontwikkel nie. Alhoewel 'n mens gouer aanklank vind by iemand wat min of meer dieselfde as jý deurmaak, vind ons tog dat ons ook kan kommunikeer met diegene wat ander vorme van pyn ervaar. Wat ons saambind is die feit dat ons almal te staan gekom het voor iets wat ons nie alleen kan hanteer nie. Ons weet dat ons mekaar nodig het. Omdat ons self so seer kry, sien ons ander se leed ook makliker raak.
Om die waarheid te sê, is daar dikwels groot ooreenkomste tussen skynbaar uiteenlopende probleme. 'n Man wie se huwelik aan die verbrokkel is, voel asof hy besig is om te sterf. Die gevoel van verwerp te word deur die mens wat jy liefhet, kan op geen ander manier beskryf word nie. Hy is, net soos ek en my familie, verskeur tussen hoop en wanhoop. Durf hy hoop dat sy huwelik gered kan word? Is hy 'n gek om te dink daar kan iets aan die saak gedoen word – of is hy so 'n lafaard dat hy nie eens probeer nie? So iemand se wisselende emosies verskil nie veel van my eie oor my kind se toestand nie.
Om elke dag saam met 'n kind te leef wat liggaamlik siek is, is ook nie veel anders as om met een saam te leef wat emosioneel siek is nie. As gevolg van my eie swaarkry kan ek my goed voorstel hoe dit moet voel wanneer 'n ouer uitvind dat sy kind aan dwelms verslaaf is of 'n chroniese wegloper is. Die verdriet van ouers wat sien dat 'n kind hulle verwerp en al verder en verder wegdryf van die waardes wat húlle nastreef, verskil nie veel van dié ouers wat hul kind aan 'n terminale siekte sien sterf nie. In albei gevalle hoop en bid die ouers, maar hulle ken ook voortdurende vrees en pyn.
Dan is daar mense met uitmergelende siektes wat nooit kan genees nie en in 'n stadige, pynlike dood moet eindig. Ander is weer vermink of permanent gestrem as gevolg van 'n ongeluk. Ook hulle emosies wissel tussen hoop en vrees. Ook hulle moet elke dag met pyn en hartseer saamleef sonder dat hulle weet vir hoe lank.
Ons almal wat die een en of ander vorm van lyding deurmaak, het iets gemeen: ons kan nie ons hartseer en pyn alleen dra nie. Ons het mekaar se ondersteuning en bemoediging nodig. Ons moet vir mekaar sê: "Ek verstaan..." So kan ons mekaar help dat ons ons nie totaal aan die wêreld onttrek nie.
Onlangs was ons weer met ons seun by die hospitaal vir 'n roetine-besoek. Ons ken nou al heelparty van die ander ouers wie se kinders ook daar behandeling ontvang. Ons bemoedig mekaar met die vordering wat ons kinders toon. Ons is almal saam bly as die uitslae van die bloed- en beenmurgtoetse gunstig is. Maar dié keer het een van die ma's ons vertel van drie kinders wat kort tevore gesterf het. Hulle het al drie net so lank soos ons kind die behandeling ondergaan. Ons moed was skielik baie min. Die dodelike erns van die siekte en die ontstellende werklikheid van die dood het opnuut die vrees in almal se harte wakker gemaak.
Hierdie vrees vir die dood het dit vir ons duideliker gemaak dat ons meer nodig het as net wedersydse bystand en trooswoorde. Deur ons gemeenskaplike vrese asook ons vordering te deel kan ons mekaar wel bemoedig. Maar wanneer 'n mens teenoor die feit van die dood te staan kom, het jy meer as net moed nodig. Dan soek jy na hoop, hoop wat tot anderkant die dood strek. Dié hoop wat slegs 'n Christen kan ken.
In die boodskap van die lydendes is daar ook dié wat niks van die Christelike hoop wil weet nie. Wanneer dit die geval is word 'n belangrike dimensie van die kontak tussen ons uitgeskakel. Maar tussen ons wat die oortuiging deel dat daar lewe ná die dood is, is daar 'n baie intieme verbondenheid. Omdat ons weet hoe afhanklik ons van ons geloof is om ons krag te gee, voel ons opreg jammer vir ongelowiges wat dit nie het nie.
Die geloof in Jesus Christus wat die dood oorwin het, is al wat 'n mens blywende hoop en moed kan gee.
DIE STRYD OM PYN TE AANVAAR... Vervolg