Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie so hard vir Christus werk dat jy geen krag oor het om te bid nie. Om sterk te kan wees moet jy bid. En om te kan bid moet jy sterk wees.
M O S E S... (9)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
8. DIE VERBONDSLUITING BY SINAÏ
Daarna het ons Israeliete weer verder suidwaarts die wildernis van die skiereiland binnegetrek en die berg Sinaï bereik, ongeveer twee maande nadat ons Egipte verlaat het. Ons het daar in die woestyn kamp opgeslaan, reg teenoor die berg.
Op en by hierdie berg het nou ‘n tydperk gevolg waarin die Here ons geleer het dat ons nie meer ‘n groepie vlugtende slawe is nie, en dat Hy ons nie net uit Egipte gelei het om ons volslae ondergang te verhoed nie, maar dat Hy in dié wordingsproses besig was om ons op nasionale gebied saam te snoer tot die geloftevolk Israel, wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob belowe het, voordat Hy ons in die land van belofte inlei.
Daarom moes Israel hier by Sinaï leer om onder die oppergesag van God te leef volgens die beginsels van sy wet wat ons direk van Hom ontvang het en die ou verbond wat Hy weer opnuut met ons gesluit het, dankbaar te bly handhaaf en te eerbiedig.
By ons aankoms te Sinaï het Moses op die berg geklim. Die Here het daar aan hom gesê dat as die volk gehoorsaam aan Hom is en vashou aan sy verbond, sal ons sy persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld, ‘n nasie wat die Here dien.
Toe Moses weer onder die berg by ons kom en vir ons vertel wat God op die berg gesê het, het ons soos uit een mond uitgeroep: “Ons sal alles doen wat die Here vir oins gesê het.”
Moses het op die berg aan die Here gaan sê hoe ons as volk gereageer het. Toe het God aan Moses opdrag gegee om die volk tot by die voet van die berg te bring. Moses moes die berg afbaken sodat niemand daarop klim nie. Daarna moes Aäron saam met hom opklim.
Die berg was toe onder die rook, omdat die Here daarheen afgekom het. Die berg het verskriklik geskud. 'n Trompet het al hoe harder en harder geblaas. Moses het gepraat en God het hom in die donderslae geantwoord. Die Here het toe afgekom na die top van die berg en Moses na Hom toe geroep. Daarna het die Here begin praat. Bo die gerammel van die donderweer en die trompettergeluid het die stem van God duidelik en helder oor ons bang en bewende volk weerklink. Die Here het aan ons sy wet gegee, die tien gebooie, waarvolgens ons gehoorsaam moet lewe.
DIE TIEN GEBOOIE
“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.
Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Jy mag nie doodslaan nie.
Jy mag nie egbreek nie.
Jy mag nie steel nie.
Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”
Toe God ophou met praat, kyk ons almal verskrik na Moses. “Jy moet tog asseblief maar met ons praat. Ons sal na jou luister. Moenie dat God met ons praat nie. Ons sal sterf!” Maar Moses het ons bemoedig: “God het na julle toe gekom sodat julle ontsag vir Hom kan hê. Sorg dat julle nie teen Hom oortree nie.”
Moses het weer op die berg geklim, waar die Here aan hom nog meer lewensreëls gegee het om aan die volk oor te dra, soos voorskrifte oor die altaar van die Here, dat slawe billik behandel moet word, en so meer.
DIE VERBOND
Daarna gee God opdrag aan Moses om weer teen die hoogtes van die berg na Hom toe op te klim en Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van die volk saam met hom te neem. Die volk mag nie saamgaan teen die berg uit nie. Aäron hulle en die 70 mag wel ‘n entjie wegstaan en Hom daarvandaan aanbid. Net Moses mag naby die Here kom. Moses het toe na die volk toe gegaan en vir hulle gesê wat die Here beveel het. Hulle het soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het.”
Daarna het Moses ‘n altaar aan die voet van die berg gaan bou en met die hulp van jongmanne, bulle vir die Here geoffer. Dit was brandoffers en vredeoffers. Hy het die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees. Hulle het weer almal soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het. Ons sal daarna luister.”
Moses het van die offers se bloed oor die volk gesprinkel en gesê: “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die Here met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”
Daarna het Moses, Aäron, Nabab, Abihu en die 70 leiers teen die berg uitgeklim. Hulle het God met hulle eie oë gesien. Onder sy voete was iets wat gelyk het asof die vloer met safierstene uitgelê was. Hulle het niks oorgekom omdat hulle Hom gesien het nie. Hulle het daarna in sy teenwoordigheid geëet en gedrink.
Die Here sê toe vir Moses: “Klim op na My toe. Bly hier. Ek wil vir jou plat klippe gee waarop Ek die wette en gebooie geskryf het wat jy vir die volk moet leer. “ Moses en Josua het toe opgeklim. Die leiers het by Aäron en Hur vir hulle gewag.
Toe Moses verder die berg uitklim, het die Here se wonderlike teenwoordigheid in ‘n wolk hom omring. Dit het ses dae oor die berg gehang. Dit was asof daar ‘n vuur bo-op die berg gebrand het. Moses het verder opgeklim en in die wolk verdwyn. Hy was altesaam 40 dae en 40 nagte op die berg.
Gedurende hierdie tyd het die Here aan Moses baie opdragte gegee om te gaan uitvoer, soos die vervaardiging van die Ark van die Verbond en ander artikels. Hy het noukeurige aanwysings ontvang hoe die seildoek-tempel, die tabernakel, gemaak moes word en van artikels wat daarin geplaas sou word, soos die offerbroodtafel, die kandelaar en die altaar. Hy het ook besonderhede oor die priesters se kleredrag ontvang en voorskrifte vir die onderhouding van die Sabbat.
Toe die Here klaar gepraat het met Moses, het Hy aan hom twee plat klippe gegee. Daarop het God self met sy vinger die bepalings van sy verbond geskryf.
Vervolg...