Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As 'n mens glo, is alles moontlik! – Mark 9:23
M O S E S... (18) (SLOT)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
13. DIE LAASTE KAMP
Onderwyl Moses en die volk aan die oostekant van die Jordaan vertoef het, het die Here dit by Moses ingeskerp watter offers en geleenthede die volk gereeld moet nakom en hou, en nie laat verwaarloos nie, soos by voorbeeld die daaglikse offers, die offers op die Sabbat, die offers elke maand, Paasfeesoffers, die offers by die fees van die weke, die fees van die trompette en die fees vir die dag van versoening.
DIE VELDSLAG TEEN DIE MIDIANIETE
Daar was ook ‘n ander groot en belangrike saak wat afgehandel moes word voordat die Here vir Moses van enige verdere pligte onthef het. Moses moes toesien dat Israel wraak neem op die Midianiete, “omdat hulle julle verlei het.” Moses het vir die Israeliete gesê hulle moet hul manskappe regkry vir oorlog, 1000 man uit elke stam en Pinehas, seun van die priester Eliaser, moet die 12 000 manskappe aanvoer. Hulle het toe al die Midianitiese mans doodgemaak, ook vir Bileam, wat Israel so geseën het teen Balak se sin. Hulle het verder die Midianitiese vroue met hul kinders gevange geneem en al hul beeste, ander vee en eiendom buitgemaak en hulle gehuggies met vuur verbrand.
Moses het kwaad geword omdat hulle die vroue laat bly leef het. Hy het gesê: “Dit was hulle wat Bileam se raad gevolg het en veroorsaak het dat die Israeliete by Peor aan die Here ontrou was. Hulle is die oorsaak dat die plaag van die Here oor ons gekom het.” Moses het beveel dat al die seuntjies doodgemaak moes word en ook elke vrou wat al by ‘n man geslaap het, maar die mans mag vroue wat nog maagde was, vir hulle as vroue vat. Priester Eliaser het ook die manskappe ‘n reeks reinigingsprosesse laat ondergaan, voordat hulle weer in die groot kamp toegelaat is.
Die mans wat gaan veg het se buit was 675 600 skape, 72 660 beeste, 61 000 donkies en 32 000 meisies wat nog nie ‘n man gehad het nie. Die soldate - die gekommandeerdes - se buit was ook so groot en die aandeel van die Here, wat Moses vir die Leviete gegee het, was ook aansienlik.
GROND VIR RUBEN, GAD EN DIE HALWE STAM VAN MANASSA
Die stamme van Ruben en Gad het groot troppe vee gehad. Toe hulle sien dat die streke oos van die Jordaan goeie beeswêreld was, het hulle vir Moses gevra of hulle nie maar daar grond kan kry om permanent te bewoon nie. Nadat hulle Moses verseker het dat hulle voorlopig net skuilings vir hulle vee en gesinne sou bou, en as vegsmanne dan vir die res van Israel sou help om Kanaän te verower, en dan na hulle oostelike gebied by Jaser en Gilead sou terugkeer om permanent daar te woon, het Moses dit goedgekeur.
Dit het toe so met die verowering van Kanaän plaasgevind. Moses het die gebied van Sihon die Amoriet en dié van Og, die koning van Basan, met al die stede en dorpe daar rondom, vir die stamme Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, gegee. Die nageslag van hierdie twee en ‘n half stamme het later die tentdorpies en die dorpe rondom hierdie gebied aangeval en dit verower van die heidene wat daar gewoon het.
DIE GRENSE VAN DIE LAND
Die Here het vir Moses gesê: “Gee hierdie opdrag aan die Israeliete: Ek gee Kanaän vir jou as erfdeel.” Die Here het dan in besonderhede aangedui waarlangs die grenslyne van die hele Kanaän loop, die land wat deur die nege en ‘n half stamme in besit geneem sou word. Hierna was die geweldige verantwoordelikheid en taak wat op Moses se skouers gerus het, feitlik afgehandel.
DIE DOOD VAN MOSES
Moses het toe met die hele Israel gepraat en gesê: “Ek is nou 120 jaar oud en nie meer in staat om julle te lei nie. Die Here het vir my gesê dat ek nie die Jordaanrivier moet oorsteek nie. Die Here hulle God sal self voor julle uit deur die Jordaanrivier trek. Hy sal die nasies wat daar leef, vernietig en julle sal hulle land in besit neem. Josua is julle nuwe leier en hy sal saam met julle gaan, net soos die Here beloof het. Die Here sal die nasies vernietig wat in die land woon. Wees sterk en hou moed. Moenie vir hulle bang wees nie. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.
Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê: “Wees sterk en vol moed. Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorvaders beloof het. Die Here sal die volk wat daar leef in julle hand oorgee. Moenie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God sal met julle wees. Jy sal die land as erfdeel aan die volk gee. Moenie bang of mismoedig wees nie. Die Here sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”
Daarna het Moses toe van die vlaktes van Moab na Neboberg opgeklim, na die punt van Pisgaberg toe, regoor Jerigo. Die Here het hom die land van Gilead tot by Dan laat sien, die hele land van Naftali, die land van Efraim en Manasse en die hele land van Juda tot by die see in die weste; die Negevwoestyn, die Jordaanvallei met Jerigo, die stad van palms, tot so ver as Soar. Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het deur vir hulle te sê dat ek dit aan hulle nageslag sou gee. Ek het jou toegelaat om dit te sien, maar jy sal nie die land binnegaan nie.
Moses, die dienaar van die Here, het daar in Moab gesterf. Die Here het hom in ‘n vlakte naby Bet-Peor begrawe, maar tot vandag toe weet niemand presies waar die plek is nie. Moses was 120 jaar oud toe hy dood is sonder dat sy oë verswak of sy krag min geword het. Die volk Israel het vir 30 dae in die vlakte van Moab oor Moses gerou.
Daar was nooit weer ‘n profeet soos Moses nie.
NASKRIF
Elkeen van ons wat die jong Moses in Egipteland leer ken het en saam met hom oor berge, riviere en woestyne gestap het tot by Kanaän, word met bewondering vervul oor die byna bo-menslike wyse waarmee hy hierdie Godgegewe taak aangepak en volbring het.
Die Here het hierdie groot taak aan hom toegesê nog voordat hy as suigling in die riete langs die Nyl gelê het. Tydens sy verblyf aan die farao se hof het hy die oud-Oosterse wette leer ken. Sy haastige humeur het in die tweede 40 jaar van sy lewe ‘n kentering ondergaan tussen die woestynbewoners van Midian. Tydens die volk se verhuising tree Moses op met groot geduld, sagmoedigheid, getrouheid en geloof. Hy het sy volk innig lief gehad, maar in sy preke en teregwysings het hy hulle meedoënloos gegesel oor hulle klein geloof en afgodediens.
Moses was digter (sy liedere), skrywer (1e 5 boeke in die Bybel), prediker (vir Israel) en nasionale held (vir die volk). Hy was wetgewer (by Sinaï) en middelaar en tussenganger tussen die volk en God.
Die Here het Moses sy vriend genoem, want Hy het met hom persoonlik gekommunikeer en nie deur drome en gesigte soos met die ander profete nie. Deur die genade van die Here was Moses die grootste profeet in die ou bedeling.
Dankie Here dat U hom so wonderlik in u diens gebruik het.
***