Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Niemand is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar vir wat hy vir ander gedoen en gegee het.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (5)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 5
DIE TWEEDE BEGIN
Gen 9-11
1. ʼn Nuwe verbond
Omdat God die mensdom nie geheel en al verdelg het nie, kon Hy direk na die sondvloed ʼn nuwe begin met hulle maak (Gen.6:13). Hy het hulle opdrag gegee om te vermeerder (Gen.9:1,7). So ook aan die diereryk. Oral waar mense hulle gevestig het, het die wilde diere na onbewoonde gebiede uitgewyk. Mense kon voortaan ook van die diere slag en eet. Ons kan hieruit aflei dat die eerste mense slegs plantaardige voedsel gebruik het. Alhoewel die diere steeds deel van God se skepping gebly het, kon mense voortaan van hulle eet.
Daarna het God ʼn paar reëls neergelê wat tot die ordening van die nuwe samelewing moes bydra. Omdat die mens na God se beeld geskape is, kon die een wat ʼn ander een doodmaak se eie lewe geneem word (Mt.26:52). Die owerheid het die reg tot bloedwraak gehad (Rom.13:4, Openb.13:10). Dit moes die wilde wraaksug van mense soos Lameg in bedwang hou.
Die belangrikste waarneembare verandering ná die sondvloed, was die beteueling van die water. Daar sou ook voortaan jaargetye wees (Gen.8:21,22). Die nuwe verordeninge is aan die teken van ʼn reënboog verbind. God het ʼn nuwe verbond met alle vlees as ʼn ewige verbond aangegaan. Dit word die natuurverbond of Noagitiese verbond genoem - ʼn orde van algemene genade sodat die skeppingslewe kon aangaan.
2. Noag raak besope
Aan die begin van die geskiedenis van die nuwe mensdom het daar weer ʼn boom ter sprake gekom. Dit het weereens tot sonde gelei en weer was naaktheid te bespeur! Dit het begin toe Noag ʼn wingerdstok geplant en daarmee die taak aan Adam opnuut opgeneem het. Toe dit begin druiwe dra, het Noag wyn daarvan gemaak en by geleentheid besope en naak in sy tent gelê.
Nadat Gam op hom afgekom het, het hy dit aan sy twee broers vertel waarna hulle hom gaan bedek het. Toe Noag dit uitvind, het hy die twee seuns geseën en Gam vervloek. Maar waarom is Gam so swaar gestraf? Omdat hy sy vader se besopenheid aan sy broers bekend gemaak het? Het hy miskien vir sy vader gelag? Sommige geleerdes meen dat hy ʼn homoseksuele daad met sy besope vader gepleeg het. Daarom was die straf so swaar. Sy hele nageslag is vervloek! Die nageslag van die oortreder ontvang ook straf (Ex.20:4,5). Noag het nie met sy seuns oor sy sonde gepraat nie. Dit was ʼn saak tussen hom en God.
Sem en Jafet se nageslag sou getalryk wees en wonderlike dinge vermag. Gam s’n sou hulle diensknegte wees. Die ganse mensegeskiedenis is in drie verse opgesom (Gen.9:25-27). Let gerus op die verskillende volke wat uit die nageslag van Noag se drie seuns ontstaan het. Gam se nageslag staan feitlik van meet af aan in ʼn diensknegverhouding tot die ander seuns twee s’n. Dis ʼn wêreldverskynsel!
3. Die toring van Babel
Gen.10 is die verhaal van die uitbreiding van die mensdom en word die volketafel genoem. Dis egter geen geskiedenisverhaal nie. Die skrywer het dit as ʼn ou oorkonde tussen Noag en die verhaal van die toring van Babel ingepas. Sem, Gam en Jafet het in drie volksgroepe verdeel en Armenië verlaat om hulle in ʼn vrugbare gebied tussen die Eufraat- en Tigrisriviere te vestig. Hulle het m.b.v. primitiewe landbougereedskap en besproeiingsmetodes ʼn goeie bestaan gemaak.
Die handhawing van goeie onderlinge verhoudinge was baie belangrik. Later het mense besluit om vir hulle stede van kleistene te bou en torings op te rig. Ons weet dat Kain die eerste stad (Henog) gebou het. Destyds is stene van klei gemaak en gebrand om dit hard en bruikbaar te maak.
Mense het ook stede gebou om vir hulself naam te maak. Hulle wou nie oor die aarde versprei soos God beveel het nie. Kain wou bv. glad nie rondswerf nie. Die mens se sondige aard het egter weer begin opvlam. Hulle eiewaan en soeke na samebindende faktore het veral in die boukuns duidelik geword; ʼn strewe waarmee God nie gediend was nie.
God het dit nie teen mense wat aansien en mag verkry nie. Solank as wat dit in sy diens is. Het God dan nie vir Salomo magtig gemaak nie (1 Kon.3:13)? God kies selfs Jerusalem vir Hom as stad uit; ʼn stad volgens God se plan (2 Kron.6:6).
Waarom was die bou van die toring van Babel dan sonde? Omdat mense God na die kroon wou steek. Hy het die nietige wedywering van die hemel af beskou en besluit om neer te daal om dit te ondersoek. Hier is ʼn stukkie humor – God moes letterlik neerdaal. Hy spot met die mense wat met hul bouery die hemel wou bestorm! Daarna het Hy hul taal verwar sodat hulle mekaar nie meer kon verstaan nie en die ydele bouery moes staak.
Tot op daardie tydstip het die hele aarde slegs een taal gehad. Dit was God se wil t.w.v. harmonie in die skepping. Hy het egter by Babel ingegryp en ʼn einde daaraan gemaak omdat die mens in sy eie grootheid begin verstik het. God het as’t ware sy eie skeppingswerk versteur om mense tot stilstand te dwing. Hy is uiteraard almagtig en kan enige skepsel laat praat (Gen.3:1; Num.22:28) of swyg (Luk.1:20). Hy wat aan die mens taal gegee het, kon en het dit dan ook verwar.
God het kragtig ingegryp en die mense verstrooi. Hy het hulle gedwing om aan sy oproep om oor die aarde te versprei, gehoor te gee. As gevolg van die taalverwarring is die werk aan die stad onmiddellik gestaak. God sou baie eeue later egter ʼn taalverwarring tot uitbreiding van sy kerk op aarde gebruik. Dit het gebeur toe die Heilige Gees in Jerusalem uitgestort is en die apostels in 14 ander tale van God se weldaad getuig het (Hand.2:8,11).
Die geskiedenis van die toring en spraakverwarring word aan die naam Babel verbind. Babel was die ryk van Nimrod (Gen.10:8-12), ʼn kleinseun van Gam wat naam gemaak het. Hy was die eerste koning op aarde en het sy mense suksesvol teen wilde diere beskerm. Daarna is hy as ʼn god vereer. Sy vrou, Semiramis, het ná sy dood die hoofgodin van Babel geword en is eeue later in die Roomse Kerk as die maagd Maria begin aanbid.
In die Ou Nabye Ooste is die bou en gebruik van torings gewoonlik met afgodery verbind. Waar daar nie ʼn toring was nie, het die heidene op hoogtes geoffer. Daarom was die toring van Babel afgodsdiens. Nadat die werk daaraan gestaak is, was die bouvalle vir etlike eeue daarna nog te besigtig. Al wat vandag daarvan oorgebly het, is ʼn onooglike krater vol vuilwater.