Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons ons vertroue in God stel, en laat ons troos vind in die wete dat alles wel sal wees, as dit geskied volgens die wil van God. Want Hy weet wat die beste is vir ons tydelike en ewige welsyn.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (6)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 6
ABRAHAM
Gen 12-14
1. Die roeping van Abram
Tera, die vader van Abram, was uit die nageslag van Sem en het in Ur gebly waar die Eufraatrivier in die Persiese Golf uitmond. Hy het drie seuns gehad t.w. Abram, Nahor en Haran. Haran is betreklik jonk oorlede en het drie kinders nagelaat t.w. Lot, Milka en Jiska. Abram was met sy halfsuster Sara (Gen.20:12) en Nahor met Milka, sy oorlede broer se dogter getroud. Alhoewel daar genoeg ander vrouens in Ur was, het hulle met familielede getrou. Daarna het hulle om een of ander rede verhuis. Miskien weens die verstikkende afgodery van die stad (Jos.24:2).
Op ʼn stadium het Tera na Kanaän verhuis en by Haran aangekom. Dit was ʼn belangrike stad links van die Eufraat en ʼn kruispunt van handelspaaie.
Die rede hiervoor was dat God ʼn plan met Abram (Jes.51:2) gehad het. Haran was ʼn voorlopige eindpunt. Nadat Tera hom daar gevestig het, het God Abram aangesê om sy vader se huis te verlaat. Hy was 75 jaar oud toe hy Haran verlaat het. Tera was 205 jaar oud toe hy oorlede is.2. God se beloftes aan Abram
Abram sou die vader van ʼn baie groot nasie word wat vir die hele mensdom tot ʼn seën sou wees (Gal.3:8; Hand.3:25). Met hierdie roeping het God die moederbelofte (Gen.3:15) begin nakom.
Christus sou uit die nageslag van Abram gebore word (Mt.1:1).
Toe Abram weggetrek het, het hy Lot met hom saamgeneem. Lot was ʼn broerskind en het geen deel aan die seën gehad nie. Daar het dan ook later skeiding tussen hulle gekom (Gen.13:4). Abram het nie presies geweet waarheen om te trek nie, maar het geglo dat God hom na die regte plek sou lei. Dis die wonder van geloofsgehoorsaamheid! Abram het in Ur afgode gedien waar maanaanbidding baie gewild was. Deur die geloof het Abram egter gunstig gereageer op God se stem en weggetrek (Hebr.11:8; Jak.2:23). Geloof is ʼn gawe wat God uitdeel aan wie Hy wil. Abram se verhouding met God word selfs met ʼn vriendskap vergelyk (Jes.41:8).
God het in Sigem aan hom verskyn en aan hom ʼn nageslag en ʼn eie land belowe. Dis die eerste vermelding van die beloofde land (Kanaän). Daarna het Abram vir God ʼn altaar gebou. Sy godsdiens was baie anders as dié van die heidene. Abram was ʼn vreemdeling en bywoner tussen die Kanaäniete sonder dat dit hom enigsins gehinder het (Hebr.11:9).
3. Abram in Egipte
Nadat Abram Sigem verlaat het, het hy tussen Bet-el en Ai gaan woon waarna ʼn hongersnood hom na Egipte laat verhuis het. Abram het hom in die vrugbare deltagebied gevestig wat die koringskuur van destyds was. Ander noodgeteisterdes het heelwaarskynlik sy voorbeeld gevolg. Abram (175 jaar) en Sara (127 jaar) was nog fisies sterk. Sy was baie mooi. Dit het Abram redelik bekommerd gemaak. Die Egiptenare kon hom dalk doodmaak om haar te bekom!
Destyds kon ʼn man soveel vroue neem as wat hy wou, solank die betrokke vrou nie getroud was nie. ʼn Man kon dus doodgemaak word om sy vrou te bekom! Daarom het Abram Sara as sy suster voorgedoen. Dit was ten minste ʼn halwe waarheid! Abram het sy huweliksgeluk t.w.v. oorlewing opgeoffer en ʼn swakheid in sy geloof openbaar.
Sy vrees is bewaarheid toe die koning Sara in sy harem opgeneem het. Nadat die Farao vir Abram geskenke gee, maar plae ontvang het, het hy besef dat iets nie pluis was nie (Ps.105:14,15). Toe hy verneem dat Sara eintlik Abram se vrou was, het hy hom laat roep waarna die geloofsheld soos ʼn lafaard voor ʼn aardse koning gestaan het. Daarna het die Farao hom en sy vrou uit die land laat sit.
4. Abram en Lot skei van mekaar
Abram het druipstert dog dankbaar na Bet-el teruggekeer waar Lot geboer het. Beide van hulle het baie vee gehad en vir ʼn tyd lank saam geboer. Na onderlinge spanning tussen die twee huishoudings het Abram vir Lot ʼn eie gebied laat kies. Lot het die vrugbaarste deel by Sodom en Gomorra gekies waarna Abram weereens alleen was soos God dit wou hê. Daarna het God sy beloftes tweemaal herhaal (Gen.13:15,17).
5. Abram die kryger
Abram het net eenmaal as kryger opgetree. Die relatiewe vrede wat hom na die skeiding met Lot omring het, is plotseling verbreek toe vreemde konings op die toneel verskyn het. Dit gee ons ʼn blik op die politieke wêreld van Abram. Vier konings het ʼn strafekspedisie teen die konings van Kanaän onderneem en hulle in ʼn japtrap kaf gedraf.
Abram het op daardie stadium in Hebron geboer en het besef dat Lot se lewe in gevaar was. Nadat hy uit 318 manne uit sy eie huishouding bymekaar gemaak het, het hy die vyandelike konings die stryd aangesê. Dit was ʼn byna onbegonne taak – 318 man teen vier koninkryke! Abram het ʼn beproefde strategie gevolg en die vyande van verskillende kante af aangeval (Rigt.7:16; Rigt.9:34; 1 Sam.11:11). God het hulle in sy hand gegee.
6. Abram en Melgisedek
Op sy terugtog het Abram ʼn merkwaardige ontmoeting met ʼn koning gehad. Melgisedek was die koning en priester van Salem. Wat hierdie man so besonders gemaak het, was die waardigheid waarmee hy opgetree het. Hy het aan Abram brood en wyn voorgesit. Om aan iemand water te gee, was ʼn eertydse teken van hulpbetoon (Jes.21:14). Brood en wyn was ʼn heldebetoon.
Melgisedek beteken koning van geregtigheid. Sy stad het as Salem (vrede) bekend gestaan. Dat konings ook priesters was, was niks vreemds in die Ooste nie. Die koning was immers die leier van die hoofgodsdiens. Melgisedek was nie skaam om sy God se naam te noem nie – die Allerhoogste!
God het dit so beskik dat Abram hom moes ontmoet. Beide was gelowiges; iets wat ʼn hegte band tussen hulle gebring het. Later van tyd is ʼn baie spesiale priesterorde na Melgisedek vernoem (Ps.110:4). Die Hebreërbriefskrywer praat ook daarvan. Volgens hierdie orde is Christus ook ewig priester (Mt.22:41-46) - Koning en Priester tegelyk.
Daarmee kyk ons terug na die kruisiging waar Hy as Koning van die Jode bespot is. Die spotters was gedeeltelik reg. Hy was nie net Koning van die Jode nie, maar ook die Koning van almal! Daarbenewens het Hy Homself as offergawe gegee en daarmee Priester by uitnemendheid geword. Christus was die perfekte Melgisedek!