Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die verloop van elkeen van ons se geskiedenis berus by die keuses wat ons maak. Ons kan ook kies om NIE ons eie vyand te wees nie – 'n keuse wat ongelukkig deur baie min mense gemaak word.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (7)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 7
DIE VERBOND MET ABRAM
Gen 15-17
1. Die sluiting
Nadat God vir ʼn derde keer aan Abram verskyn het, is die geloofsverhouding tussen hulle in ʼn verbond vasgelê. God het Abram aangesê om nie te vrees nie omdat Hy ʼn skild en ʼn beskerming vir hom sou wees (Ps.18:3, Ps.33:20). Abram se loon sou groot wees omdat hy homself verloën en gehoorsaam was (Ps.19:12; Mt.5:12).
Tot op daardie tydstip het Abram met geloofsdade op God se beloftes geantwoord. Daarna het hy oor die belofte van ʼn nageslag begin nadink want hy was kinderloos. Abram het by geleentheid selfs gewonder of sy aangenome seun Eliëser nie dalk die erfgenaam moes wees nie. God het hom egter ʼn eie seun beloof en na die sterre laat kyk. Net so ontelbaar sou sy nageslag wees! Toe het Abram opnuut in God geglo (Rom.4:21) en is sy geloof nog verder versterk (Rom.4:3, Gal.3:6).
Abram het ʼn teken van God gevra. Dit was nie uit ongeloof nie, maar juis om sy geloof te bevestig. Gideon en Hiskia het dit ook later gedoen. God het hom die teken gegee. Abram moes offerdiere slag en in stukke opsny; die wyse waarop kontrakte destyds plaasgevind het (Jer.34:18,19). Daarna moes die twee partye tussen die stukke vleis deurloop as ʼn wedersydse waarskuwing dat die persoon wat die kontrak verbreek het, in stukke opgesny sou word!
Abram het gedoen wat God gevra het en daarna op Hom gewag. Teen die aand het ʼn diepe slaap hom oorval waarna God met hom oor sy nageslag gepraat het. Hulle sou vir 400 jaar in ʼn vreemde land verdruk word en daarna Kanaän ontvang. Hulle sou eers beproef word en daarna heerlikheid ontvang. Abram sou egter vreedsaam sterf.
Abram het dus geweet dat hy nie kinderloos sou sterf nie. Hierdie wete het sy toekomsverwagting laat verdiep. Sy nageslag sou ʼn tipe van Christus word wat na beproewing verhoog is (Hos.11:1, Mt.2:15). Die weg van verlossing loop deur beproewing; ʼn tema so eie aan die Skrif!
Hierna het God ʼn verbond met Abram gesluit en die belofte van ʼn eie land herhaal. God het Abram van sy heilsplan met hom oortuig. Hy is as’t ware in die geheime van God ingelei sodat hy die toekoms met ʼn groter sekerheid kon aanpak.
2. Abram en Hagar
Na 10 jaar in Kanaän was daar vir Abram nog geen teken van God se belofte nie. Sarai het hoop opgegee en haar slavin aan Abram gegee om vir hulle ʼn kind te baar. Sy sou die kind soos haar eie beskou (Gen.30:3); ʼn bekende gebruik van destyds. Sarai se plan het nie van geloof getuig nie, maar eerder van moedeloosheid.
Toe Hagar swanger raak, was Sarai jaloers en het haar later so sleg behandel dat sy gevlug het. ʼn Engel van God het haar egter bewaar. Let op die hoofletter in die vers. Hy was meer as net ʼn engel. Dit was ʼn verskyning van God (Gen.22:11; Ex.3:2) en die Christus wat later as Verlosser na die mensdom sou kom. Hagar en haar ongebore seun was onder God se beskerming. Hoe ironies dat die stamvader van die Islam voor sy geboorte onder die beskerming van Christus gestaan het!
Hagar het van God ʼn belofte van ʼn groot nageslag ontvang en het teruggegaan. Sy moes haar seun Ismael noem. Dit beteken God hoor. Die Engel het aan haar vooraf ʼn beskrywing van sy lewe gegee. Ismael sou ʼn wilde-esel van ʼn mens wees en ʼn Bedoeïene bestaan voer. Later word daar weer van die Ismaeliete melding gemaak (Gen.37:25; Gen.39:1). Uit hulle geledere het die Mohammedane eeue later gekom en venynige teenstanders van die Christendom geword.
3. Die besnydenis
Nadat God vir ʼn vierde keer aan Abram verskyn het, het Hy die belofte van ʼn nageslag herhaal. Abram het dit baie nodig gehad omdat die seun nog nie sy opwagting gemaak het nie en die gewag spanning in sy huis veroorsaak het. Miskien het die verwagting selfs verslap. Abram het later selfs gereken dat God vir hom in Ismael ʼn nageslag sou voorsien. Ismael was 13 jaar oud toe God eers weer met Abram oor die aangeleentheid gepraat het.
Die vierde verskyning het nuwe elemente bevat. Eerstens het God Abram se naam na Abraham verander. Dit beteken vader van ʼn menigte nasies. Sarai s’n het God na Sara verander. Dit beteken vorstin. Sy sou vir Abraham ʼn seun baar uit wie se nageslag konings van volke sou spruit. Hulle moes dus nie met Ismael as seun tevrede wees nie. Die eie seun sou uit die geloof en nie die vlees wees nie (Hebr.11:11). Gelowiges mag nie as die geloofspanning vir hulle te veel word met ʼn mindere gawe tevrede wees net omdat dit makliker bekombaar is nie!
Hierna het God baie duidelik met Abraham gepraat en aan hom die naam van hierdie seun bekend gemaak. Hulle moes hom Isak noem. Daarna het God verder gegaan en ook die tyd van sy geboorte aangekondig – die daaropvolgende jaar. Die belofte het nuwe betekenis verkry wat Abraham opnuut laat glo het dat Ismael nie die antwoord was nie.
Nog ʼn nuwe element het sy verskyning gemaak - die instelling van ʼn verbondsteken nl. die besnydenis. Die besnydenis was eintlik niks nuut nie en was lank voor Abraham se tyd al in Egipte die gebruik. In een van die ou grafte is ʼn skets gevind van hoe die besnydenis destyds gedoen is. Abraham moes homself eerste besny en daarna die res van sy huishouding. Toe die doop later in die plek van die besnydenis gekom het, is hierdie verbondsteken ook aan vroue bedien.
God het die verbond met alle manlike lede in die huis van Abram opgerig. Ook met Ismael. Hy is dus nie buite die verbond geplaas nie. Christus sou egter uit die nageslag van Isak gebore word en sy nageslag van ʼn fisiese na ʼn geestelike volk oorgaan (Rom.9:8; Gal.3: 29).
Later is die besnydenis so belangrik geag, dat die man wat nie besny is nie deur sy volksgenote verwerp is. ʼn Minagting hiervan is as ʼn verwerping van die verbond geag. Mense durf egter nie daaragter geskuil het nie (1 Kor.7:19) omdat die ware besnydenis uiteraard ʼn geestelike saak was (Jer.4:4; Kol.2:11). Geen mens durf agter ʼn uiterlike teken skuil om God se guns te verwag nie. Dit gaan om die geestelike saak daarvan. Sonder ʼn besnydenis van die hart (bekering) is alles tevergeefs!