Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Welgestelde mense word dikwels deur ander beny en bewonder. Rykdom besit egter die gevaar om jou afgod te word en dan is daar nie ruimte vir God in jou lewe nie. As iets vir jou te belangrik geword het, vertrou die Here om jou daarvan te verlos. God kan 'n kameel deur 'n naald se oog kry – Hy kan 'n ryke laat afsien van sy verknogtheid aan sy aardse goedere en hom red.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (9)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 9
ISAK, MORIA EN DIE DOOD VAN SARA
Gen 21-23
1. Isak word gebore
Sara se swangerskap het met ʼn digterlike juigkreet begin (21:1) omdat God sy beloftes nie verbreek het nie (Hebr.11:11; Gal.4:23). Abraham het die seun wat gebore is Isak genoem (Gen.17:19). Dit beteken om te lag en het met Sara se lag van vertwyfeling verband gehou. Die naam van haar seun sou haar altyd daaraan herinner. Met sy geboorte het Sara anders gelag; van vreugde! Abraham se vreugde was ook baie groter as toe Ismael gebore is.
Die heilsgeskiedenis sou voortaan deur Isak loop (Gen.22:2; Hebr.11:7). Nie almal wat van Israel is, is Israel nie (Rom.9:6). Die geestelike Israel sou eeue later ʼn baie groot werklikheid word (Gal.3:16,29). Christus was die eintlike saad van Abraham. Sy geboorte sou nog wonderliker wees! Niemand durf op grond van sy volkskap aanspraak op redding maak nie. Wedergeboorte is oneindig belangriker as die natuurlike geboorte. Met die geboorte van Isak het Abraham alreeds die geboortedag van Christus voorsien en hom daaroor verbly (Joh.8:56).
2. Hagar en Ismael word verdryf
Die spening van ʼn seun was ʼn groot gebeure in daardie tyd (1 Sam.1:21-24) en gewoonlik met ʼn fees opgevolg. Tydens Isak se speningsfees het Ismael, toe 17 jaar oud, met hom gespot. Ismael het heelwaarskynlik alreeds iets van die belofte van God wat deur Isak sou vloei, verstaan. Daarom het hy van hierdie geleentheid gebruik gemaak om sy plek as eerste seun te bevorder. Die saad van Abraham sou mense altyd in twee kampe dryf – gelowiges en ongelowiges.
Toe Sara van Ismael se spottery verneem, het sy geëis dat Hagar en haar seun verdryf moes word. Ismael was nou wel met haar toestemming verwek, maar nadat sy ʼn eie seun gebaar het, het sy hom en sy moeder verwerp. Isak moes alleen erf. Sara het baie verder as Abraham in die toekoms gesien. Sy het deur God se Gees die geestelike saad wat moes voortduur, raakgesien!
Sara se eis het Abraham ontstel omdat dit in stryd met die gewoontereg van destyds was. God het hom egter beveel om in hierdie geval anders op te tree. In Isak is die lyn van die verbond gevolg. Dit is die uitverkiesing! Nadat God beloof het om ʼn groot nasie uit Ismael te laat voortvloei, het Abraham hom en sy ma goed versorg laat wegtrek.
Hagar en haar seun het vir geruime tyd in die woestyn van Bersèba rondgedwaal. Toe hulle water opraak en Ismael op sy laaste kragte was, het sy ʼn entjie daarvandaan gaan sit om sy dood nie te aanskou nie. Hoe ontsettend streng is God nie oor die skeiding van gelowiges en ongelowiges nie! Nogtans het Hy simpatie met haar en die seun gehad en vir hulle water gegee waarna Hy die belofte dat Ismael se nasate ʼn groot nasie sou word, herhaal het.
God het lank vir hulle gesorg waarna Ismael ʼn boogskutter geword het. Hagar het by geleentheid vir hom ʼn vrou in haar geboorteland (Egipte) gaan haal. Uit Ismael het die Arabiere ontspring. Selfs Paulus praat van die twee seuns van Abraham en wat God met hulle beoog het (Gal.4:20-31).
3. Die verbond tussen Abraham en Abimeleg
In Gen.14 het Abraham as krygsman opgetree. Nou as politikus. Hy het ʼn ooreenkoms met koning Abimeleg aangegaan. Die feit dat die koning sy aanvoerder Piglo saamgebring het, het die verbond ʼn militêre karakter gegee. Abimeleg het geweet dat God op ʼn besondere wyse met Abraham was en van hom sy vriend gemaak. Dit het Abraham geval waarna hulle ʼn ooreenkoms met mekaar aangegaan het. Abimeleg was ʼn gelowige met ʼn baie hoë sedelike lewenspeil. Die ooreenkoms is met die slag van skape en beeste asook ʼn eedswering plegtig gemaak. Hulle het die plek Bersèba genoem. Dit beteken put van eedswering. Hierdie landstreek het eeue later Filistynse gebied word.
4. Die offerande op Moria
Daarna het God Abraham se geloof streng getoets. Abraham moes Isak in die land Moria vir die Here gaan offer. God sou hom die juiste offerplek aanwys. God maak wel wonderlike beloftes, maar eis ook algehele gehoorsaamheid op. Moria is waar Jerusalem vandag is (2 Kron.3:1). Dit was destyds ongeveer 18 ure te voet van Bersèba af.
Abraham het Moria na drie dae bereik en was gereed om God se opdrag tot op die letter uit te voer. Hierdie opdrag was natuurlik lynreg teen die bedoeling van God met Isak in! Hoe kon Hy van Abraham ʼn menseoffer verwag? Dit was dan juis streng verbode (Lev.18:21; Jer.7:31; 19:5)!
Wat het nie alles deur Abraham se gemoed gegaan nie! Op pad na Moria kon hy sy emosies slegs deur ʼn gehoorsame onderwerping aan God se opdrag beheer. Naby Moria het hy en Isak alleen verder gegaan. Die skrywer van Hebreërs meld dat Abraham geglo het dat God sy seun uit die dood sou kon opwek (11:18).
Isak was nuuskierig. Waar was die offerdier dan? Nadat hulle ʼn altaar van klippe gebou en die brandhout reggesit het, het Isak besef dat hy die brandoffer was! Nadat Abraham hom vasgebind en op die altaar geplaas het, het God hom gestop en ʼn ram as offer in die plek van Isak voorsien.
Hebr.11:17 sowel as Jak.2:21 meld dat Abraham Isak wel geoffer het. Die bedoeling is dat as God hom nie gestop het nie, Abraham enduit sou gegaan het. Hy het Isak alreeds in sy gemoed geoffer. Die ram was ʼn plaasbekledingsoffer in die plek van sy seun. God het Abraham getoets en hy het die toets geslaag. Daarom word hy die vader van die gelowiges genoem.
Die feit dat God self ʼn offer op Moria voorsien het, wys heen na Christus se offer baie eeue later. Op Golgota het God op ʼn finale wyse self die nodige offer voorsien. Bokant die kruis kon net sowel geskryf gestaan het: God voorsien self die offer. Beide offers is, interessant genoeg, in die omgewing van Jerusalem gebring.
5. Sara sterf
Isak was 37 jaar oud toe sy moeder oorlede is. Sy was 127 jaar oud. Abraham het haar heengaan en begrafnisreëlings getref. Dis die eerste keer dat ‘n begrafnis in die OT vermeld word. Vir hierdie begrafnis het Abraham ʼn spelonk gekoop. Dit was in die land Kanaän wat sy nageslag van God sou ontvang. Hierdie graf bestaan vandag nog. Ongelukkig is daar ‘n moskee oor gebou met ʼn inskripsie dat dit die heiligdom van die aartsvaders is. Die Bybel sê dat Abraham, Isak, Rebekka, Jakob sowel as Lea hier begrawe is. Die bygelowige Moslems glo dat die aartsvaders wat hier begrawe is, met oop oë lê en dat niemand daar mag ingaan nie.
Gen.24 handel oor die vrou wat Abraham vir Isak laat haal het. Sy was uit sy eie familie. Gen.25 handel oor die dood van Abraham. Hy is 43 jaar na Sara oorlede. Na haar dood is hy met Ketura getroud en het seuns by haar gehad. Hulle was egter nie deel van die heilsgeskiedenis nie en het almal na die Ooste verhuis. Toe Abraham oorlede is, het Isak en Ismael hom in die genoemde spelonk begrawe. Isak was egter die enigste erfgenaam.