Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense wonder wat die geheim van gelukkig wees is, in die allesdaagse rondom hom. Jy kan nie die vreugde wat jy aan iemand anders gee deur iets mooi aan hom te sê of te doen, beleef sonder om self daardie gelukkige gevoel te ervaar nie – vandaar die spreekwoord dat dit saliger is om te gee as om te ontvang!
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (13)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 13
JOSEF
Gen 37;39;41;44-45
1. Jaloesie onder broers
Josef het in Hebron gewoon. Toe hy by geleentheid na sy nomadiese broers in Sigem gaan soek het, het hy hulle heelwat verder in Dotan gevind. Hulle het Josef gehaat omdat hy sy pa se witbroodjie was en mooi klere gedra het. Daarbenewens het hy hulle ook van sy drome vertel. Hy was die middelpunt van hul eerbetoning. Dit het hulle rooi laat sien!
Toe hy in Dotan by hulle aankom, was hulle van plan om hom dood te maak. Ruben het hulle egter gekeer waarna hulle Josef in ʼn droë put gegooi het. Ruben wou hom later bevry. Sy plan het egter misluk toe daar ʼn handelskaravaan Ismaeliete oppad na Egipte daar verby gekom het. Kamele was die skepe van die woestyn wat in lang rye oor reuse afstande met handelsware deur die woestyne geloop het. Josef is as slaaf aan hulle verkoop.
Ruben was blykbaar nie daar toe dit gebeur het nie. Daarna het sy broers ʼn bok geslag en die bloed aan die kleed gesmeer en dit na hul vader gestuur. Hy is laat glo dat ʼn wilde dier Josef se dood veroorsaak het. So is Jakob weereens bedrieg!
2. Josef in Egipte
Josef is by sy aankoms in Egipte as slaaf aan Potifar, ʼn hofdienaar van die Farao, verkoop. Josef het as huisbediende gewerk en was voorspoedig omdat God met hom was. Potifar was baie tevrede met die jong slaaf en het spoedig soveel verantwoordelikhede aan hom toevertrou, dat hy as bestuurder van sy hele huishouding aangestel is.
Josef was ʼn aansienlike jongman en het Potifar se vrou se oog opgeval. Toe hy egter teen haar herhaaldelike seksuele teistering weerstand bied, het haar wellus in woede verander (2 Sam.13:15). Sy het sy kleed van hom afgepluk en as bewysstuk van molestering ingedien. Josef is op aanklag van seksuele teistering skuldig bevind en tronk toe gestuur.
3. Josef in die tronk
Josef het bitter swaar gehad. Eers is hy gesteel, daarna verkoop en toe nog onskuldig tronk toe gestuur! Hy was egter nooit alleen nie. God was al die pad met hom sodat hy selfs ʼn baie verantwoordelike taak in die tronk gekry het. Josef se lewe was soos ʼn seeboei wat altyd na die oppervlak skiet, al gaan reuse golwe daaroor!
By geleentheid het twee nuwe gevangenes in die tronk beland. Die een was ʼn skinker en die ander een ʼn bakker van die koning. Omdat hulle verhoorafwagtend was, moes Josef hulle bedien. In hierdie tyd het beide van hulle ʼn droom gehad wat hulle hewig ontstel het. Hulle kon egter geen uitlêer vind nie. Die Egiptenare het geglo dat drome iets met die toekoms te doen gehad het. God gebruik ook soms drome (Gen.28:12; Rigt.7:13).
Die twee verhoorafwagtendes het nie geweet watter straf Farao hulle sou oplê nie. Daarom was die uitleg van die droom belangrik. Droomverklaring was destyds ʼn erkende beroep. Toe Josef vir hulle sê dat die uitleg van drome by sy God berus, het hulle hul drome aan hom bekend gemaak waarna hy dit vir hulle uitgelê het. Die skinker is drie dae later in sy amp herstel en die bakker opgehang. Ten spyte van sy plegtige belofte het die skinker daarna van Josef in die tronk vergeet.
Josef het nog twee jaar in die tronk deurbring alvorens dinge begin verander het. Toe God die Farao een nag van die toekoms laat droom het, was hy baie onrustig. Hy towenaars en waarsêers kon die droom nie uitlê nie (Dan.2:2,3,10). Toe onthou die skinker van Josef waarna die Farao hom laat kom het. Toe die Farao vleiende opmerking oor hom maak, het Josef geantwoord dat daar niks besonders aan hom as mens was nie. God sou die uitleg aan hom gee.
4. Josef word onderkoning
Nadat Josef die droom uitgelê het, het die Farao hom as onderkoning van Egipte en in beheer van die opberging van die koring aangestel. Hy was ongeveer 30 jaar oud. Josef het die Farao se seëlring, net die beste klere, ʼn kosbare goue ketting asook die tweede koninklike voertuig ontvang. Hy het selfs ʼn nuwe Egiptiese naam ontvang en is Safenat-Paneag genoem. Daarbenewens het hy ʼn vrou van adellike afkoms as huweliksmaat ontvang. Sy was Asenat, die dogter van die priester van On. Laasgenoemde was ʼn priesterstad in Noord-Egipte en sentrum van sonaanbidding. Die Grieke het dit later Heliopolis genoem. Dit beteken sonstad.
Josef het deur Egipte gereis en voldoende voedselvoorrade opgebou. Toe daar hongersnood kom, was hy in beheer van al die koringverkope waarna baie geld ingestroom het. Toe mense se geld later op was, het hulle hulle vee en daarna hul grond verkoop. Dit het alles die Farao se eiendom geword en ʼn ingrypende verandering in die sosiale struktuur in Egipte veroorsaak. Die Farao was die alleenheerser en die volk, behalwe vir die priesterstand, as’t ware slawe.
Die naam van Josef word nêrens in die ou Egiptiese geskiedenis gevind nie, behalwe vir die Harris-papirus (in die graf van Rameses 3 ontdek) wat van ʼn man uit Palestina melding maak wat tydens ʼn hongersnood die bestuurder was en almal skatpligtig gemaak het.
5. Josef maak hom aan sy broers bekend
Die verdere verhaal van Josef is een van die aangrypendste verhale van die ganse Bybel. Josef se broers het by geleentheid in Egipte koring gaan koop, maar hom uiteraard glad nie herken nie. Hy het streng teenoor hulle opgetree. Dit was nie uit wraak nie, maar om te sien of hulle nog hardvogtig en onverskillig was. Toe hy hulle van spioenasie aankla, het dit vir hulle nag geword. Die Farao het destyds baie besittings en rykdom gehad en was dus gedurig op sy hoede vir buitelandse spioene asook ʼn moontlike staatsgreep. Om destyds van spioenasie aangekla te word, was so goed as ʼn doodsvonnis!
Josef het sy broers egter laat gaan, maar geëis dat Benjamin die volgende keer moes saamkom. Daarna het hy elkeen se geld in hul sakke teruggesit omdat hy nie van sy eie mense geld wou neem nie. Toe Jakob van die bevel verneem het, het Ruben sy eie twee seuns as waarborg vir Benjamin se veilige terugkoms aangebied. Juda het ook met ʼn soortgelyke waarborg gekom. Daarna het Jakob vir Benjamin teësinnig laat gaan.
Josef se amptelike drinkbeker het ʼn belangrike rol in die verdere verloop van die verhaal gespeel (Gen.44:5). Kelkwaarsêery (kuklomantie) was ʼn heidense gebruik. Heidene het geglo dat die toekoms uit die ligstrale wat op die wyn weerkaats het gelees kon word, amper soos die kristalbal van later. Josef het gemaak asof hy daardeur werk en alles van sy broers af weet.
Toe Josef sy beker in Benjamin se sak laat wegsteek het en hom daarna van diefstal aangekla het, het Juda ʼn hartroerende pleidooi gelewer om Benjamin te laat gaan. Dit het Josef laat besef dat sy broers wel verander het waarna hy hom aan hulle bekend gemaak het. God het alles ten goede laat werk! Daarna het hy sy broers teruggestuur om sy vader te gaan haal om die toenemende hongersnood te oorleef.