Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons betaal so duur vir vragte vol bekommernis oor dinge wat meestal nooit gebeur nie. Bekommernis verander niks aan die situasie nie, met aan jou gemoed. Moenie môre so sorge met vandag se genade probeer dra nie. Dit kan geen positiewe bydrae lewer nie. Om te werk, te beplan, ja, dís positief. Wees te besig bedags en te moeg snags om jou onnodig te bekommer, en wat nog oorbly gee jy vir die Here om te dra. En vryf elke oggend dan blink met geloof, dankbaarheid en lewensblyheid.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (14)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 14
JAKOB SE LAASTE DAE
Gen 46-50
1. Uiteindelike vreugde
Na ʼn lewe vol teëspoed en verdriet, het die nuus dat Josef leef en onderkoning van Egipte was, Jakob se beker van vreugde laat oorloop. Sy jarelange verdriet was genoeg straf op sy sondes. Desondanks het God hom liefgehad en hom vertroos om Josef weer te sien.
Daarna het Jakob en sy mense uit Hebron vertrek en in Bersèba aangekom. Hierdie plek het hulle sterk aan Abraham en Isak herinner. Laasgenoemde het by geleentheid ʼn altaar daar vir God gebou. Nadat Jakob ook daar geoffer het, het God aan hom verskyn en hom bemoedig. Hy kon die land met vrede verlaat omdat sy nasate ʼn groot volk in Egipte sou word (Gen.15:13-16). Christus sou uit die nageslag van Jakob gebore word (Hand.3:13).
Vanaf Bersèba is Jakob en 70 van sy huishouding Egipte toe. Hierdie getal kom nie met Hand.7:14 ooreen nie wat van 75 siele melding maak. Dis omdat Stefanus sy kennis van die Septuagint (Griekse vertaling van die OT) gekry het wat die 5 kleinseuns van Efraim en Manasse insluit. Sewentig is egter ʼn bekende getal waarmee die Skrif werk (Ex.24:1; Jer.25:11,12; Mt.18:22).
2. Jakob ontmoet die Farao
Toe Jakob in Egipte aankom, het Josef hom bewoë tegemoet gegaan waarna die Farao die familie hartlik ontvang het. Jakob, die eenvoudige veeboer uit die vreemde, het voor die magtige Egiptiese vors gestaan. Daarna ook Josef en vyf van sy broers. Die Farao het hulle die beste deel van Egipte (Gosen) as woonplek gegee. As gevolg van die hongersnood het die Farao duisende stuks vee gehad waarna omgesien moes word. Gevolglik het hy Josef toegelaat om Israeliete as vee-opsigters aan te stel.
Toe Jakob voor die Farao staan, het hy as verteenwoordiger van die koninkryk van God ʼn seënwens uitgespreek. Geestelik gesien, was die Farao sy mindere (Hebr.7:7). Toe laasgenoemde na Jakob se ouderdom vra, het hy hom ʼn gelowige antwoord gee deur van sy jare as vreemdelingskap te praat. Dis hoe gelowiges die lewe moet sien (Hebr.11:13-16). Dit gaan nie oor wat ons op aarde met ons jare doen nie, maar eerder hoe ons voorbereiding vir die hiernamaals is. Egipte was nie Jakob se tuiste nie, maar wel die hemelse vaderland (Hebr.13:13-16).
Jakob het 17 jaar lank in Gosen gewoon, maar die wens uitgespreek om nie in Egipte begrawe te word nie. Hy het Josef laat sweer om hom by sy voorsate in Kanaän (Magpela) te begrawe. Jakob het nie aan Egipte verwant gevoel nie, maar wel met die aartsvaders.
3. Jakob tree as as profeet op
Jakob het profetiese insig van God ontvang en daarna vir elke seun gesê wat die toekoms vir hom sou inhou. Josef en sy twee seuns het ʼn afsonderlike seën van Jakob verkry waarna hy weer saam met sy broers in die ry geval het. Toe Josef alleen voor hom staan, het die herinneringe aan Ragel weer by hom opgekom. Jakob was innig verknog aan haar. Jakob het Josef se twee seuns as sy eie aangeneem, asof dit Ragel s’n was. So het baster-Egiptenare deel van God se heilsplan geword!
Jakob het met ʼn profetiese oog gesien dat die jongste (Efraim), groter as sy broer sou wees en sy regterhand op hom gelê. Efraim sou in die latere 10‑stammeryk sterk leiding neem. Josef het op daardie stadium gedink dat sy vader ʼn fout gemaak het. Jakob het hom egter gerus gestel dat dit inderdaad so moes wees. Sy eie vader, Isak, het hom nie so duidelik geseën nie. Hy het jare lank vir sy bedrog geboet! Jakob se seën was in oorleg met God se wil.
Jakob het by Ruben, die oudste, begin. Hy kon nie aan hom die eersgeboorteseën gee nie omdat Ruben sy vader se een byvrou by geleentheid onteer het. Daarom sou die stam van Ruben min aansien hê. Simeon en Levi was geweldenaars en sou nie op hul eie kon bestaan nie. Hulle het kort hierna verdeeld geraak en verstrooi.
Simeon het as’t ware in die stam van Juda verdwyn. Levi is ook onder Israel verstrooi, maar is desnieteenstaande die goue kalf-episode vir dienswerk in die huis van die Here afgesonder. Daarna het Juda aan die beurt gekom. Uit sy nageslag sou die Messias gebore word.
4. Jakob sterf
Kort hierna is Jakob oorlede. Sy seuns het hom lank beween en sy liggaam laat balsem. So ʼn proses het 40 dae geduur. Omdat hy die vader van ʼn groot Egiptiese heer was, het selfs die Egiptenare hom 70 dae lank beween. Daarna het die Farao Josef toegelaat om sy vader in Kanaän te gaan begrawe. Dis alles onder militêre begeleiding gedoen. Die stoet het egter ʼn ompad na Hebron gevolg en vir sewe dae in Oos-Jordanië vertoef waar daar volgens Egiptiese gebruik nog verder oor Jakob gerouklaag is.
Dit was dieselfde landstreek waar Jakob met God by die Jabbokrivier geworstel het. Jakob het seker nooit kon droom dat hy nog daar met vorstelike eer bekla sou word nie! Daarna het die Egiptiese staatsverteenwoordigers teruggekeer waarna Josef en sy broers hul vader in die spelonk van Magpela begrawe het. Daarna was die broers bang dat Josef tog na dese wraak op hulle sou neem. Hy het hulle egter gou gerus gestel en in vrede uitmekaar gegaan.
5. Josef sterf
Josef het ʼn verdere 50 jaar geleef en sy kleinkinders en agterkleinkinders geniet. Hy was 110 jaar oud toe hy oorlede is. Ná sy dood het ’n gees van verlatenheid oor die Israeliete gekom. Die band tussen hulle en die Egiptenare het begin kwyn. Josef het dit sien kom en voor sy dood ʼn trooswoord gespreek - God sou die Israeliete op sý tyd na Kanaän laat terugkeer het. Hy het sy familie laat beloof om sy gebeente met hul saam te neem en daar te begrawe. Sy gebalsemde liggaam is in ʼn kis geplaas en eeue later na die beloofde land geneem (Jos.24:32).
In sy boek Prophets, Idols and Diggers skryf John Elder dat daar ʼn graf in Sigem is wat eeue lank as die graf van Josef gehuldig word. Jare gelede is spesiale toestemming verkry om dit oop te maak. Dit het ʼn gemummifiseerde liggaam bevat asook ʼn swaard soos dié wat deur hoë Egiptiese amptenare in die tyd van Josef gedra is.
Die tydperk van die drie aartsvaders in Kanaän, vanaf die vertrek van Abraham tot by dié van Jakob na Egipte het 215 jaar beloop. In alles is die hand van God en die wonder van die uitverkiesing duidelik tesien. Dit spel een baie groot les uit: God laat vaar nooit die werk van sy Hande nie. Hy slaan selfs reguit houe met krom stokke!
Vervolg...