Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is nie jaloers nie...
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (24)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
DIE VERDELING VAN KANAäN
Jos 14:1-5, 16:1-4, 17:1-5, 18:1-10; 20; 23; 24
1. Die verdeling in Gilgal
Israel was opgewonde oor die verdeling van Kanaän. Moses het vooraf manne aangewys wat die verdeling van die land moes behartig (Num.34:17-29). Ruben het die suidelike en Gad die noordelike deel verkry. Manasse se deel was ook in die noorde. Levi het nie ʼn erfdeel gekry nie omdat God self hul erfdeel was. Hulle het wel stede en weivelde in verskeie gebiede verkry. Kaleb het die gebied by Hebron ontvang waar die reusagtige Enakiete gewoon het.
Kaleb was ʼn Kenissiet en dus ʼn afstammeling van Kenas. Laasgenoemde naam kom in die nageslag van Esau sowel as Juda voor. Kaleb was egter uit Juda (1 Kron.4:13,15; Num.13:6). Die kinders van Juda het sekere stede o.a. Jerusalem ontvang. Die Jebusiete is egter nie uit Jerusalem verdryf nie, en het vreedsaam saam met Juda daar gewoon.
2. Die verdeling in Silo
Die verdeling was egter nie afgehandel nie. Nadat Israel na Silo versit het, het sewe stamme nog geen erfdeel gehad nie. In Silo is die tabernakel opgeslaan sodat God daar aanbid kon word (Jer.7:12). Net vyf stamme het by die verdeling van hierdie landstreek gebaat. Josua het hierdie versuim aan traagheid toegeskryf (Jos.18:3). Daarna het hy die prosedure vir die verdere verdeling uitgewerk en die lot in Silo laat werp. Benjamin het ʼn baie klein deel tussen Juda en Efraim verkry en Simeon ʼn aantal stede in die gebied van Juda.
Die stam van Dan het enkele stede tussen Juda en Efraim ontvang. Dit was egter so klein dat die Amoriete hulle gou daaruit verdryf het (Rigt.1:34). Daarna het hulle nuwe blyplek in die noorde gaan soek. By Lesem (Lais), een van die bronne van die Jordaan, het hulle die inwoners oorval, hulle doodgemaak en die stad na hul stamvader Dan vernoem.
Israel het as ʼn geheel uit Egipte opgetrek, maar in Kanaän elkeen volgens sy stam verdeel en afsonderlik gaan woon. Baie van die onderonsies wat in die woestyn plaasgevind het, was die gevolg van botsende stambelange. Gebiedskeiding het, soos in die geval van Abraham en Lot, weereens onderlinge rus en vrede gebring. Hierdie is een van die duidelikste lesse van die ganse Skrif. Ongelukkig leer mense dit nie!
3. Die vrystede
Nadat die land verdeel is, het enkele verdere toewysings gevolg. Josua het op eie versoek ʼn stad bo-op die gebergte van Efraim ontvang. Dis Timnat –Serag genoem. Hy is later daar begrawe. Daarná is sekere vrystede aangewys. Dit was stede waarheen iemand wat per ongeluk ʼn ander se dood veroorsaak het, van sy bloedwrekers kon ontvlug. ʼn Bloedwreker was gewoonlik ʼn familielid van die oorledene wat hom geroepe gevoel het om die oorledene se dood te wreek. As hierdie persoon gedood is, kon ʼn familielid hom weer op die bloedwreker wreek. Bloed roep altyd om vergelding!
Mense het destyds maklik die reg in eie hande geneem. Al wat die doodslaner kon red, was om te vlug. Maar waarheen? In Israel was daar egter ʼn paar veilige plekke wat God reeds vir Moses aangedui het. Num.35 en Deutr.19 gee ʼn beskrywing van gevalle wat moontlik kon voorkom.
As iemand ʼn mens doelbewus om die lewe gebring het, was hy ʼn moordenaar en moes gedood word. Dan kon die bloedwreker die vonnis voltrek. Dis egter later met regspraak van ʼn amptelike instansie vervang. Indien daar nie sprake van opsetlike doodslag was nie, moes die oortreder in die vrystad bly. Daarbuite kon hy doodgemaak word.
Hierdie beskerming het egter nie onbepaald geduur nie en met die dood van die hoëpriester tot ʼn einde gekom. Daarna kon die vlugteling na sy huis terugkeer sonder dat die bloedwreker iets verder aan hom kon doen. Die skuld is dan as ten volle vereffen beskou. (Dit wys ook na Christus heen. Hy is ons Hoëpriester en het met sy dood versoening tussen God en die mens gebring). Ten slotte het die Leviete, wat uit drie groepe bestaan het omdat Levi drie seuns gehad het, 38 stede ontvang wat die vrystede ingesluit het.
4. Josua sterf
Josua was al oud toe hy die volk na hul erfdeel laat trek het. ʼn Geruime tyd daarna het hy die volk byeen geroep en twee groot toesprake gelewer wat in Jos.23 en 24 opgeteken is. Hy het van sy dood gepraat en die volk vermaan om nougeset volgens die wetboek van Moses te wandel.
Daarna het Josua hulle ernstig gewaarsku om nie met die heidene te vermeng nie. Dit sou hulle godsdiens knou. Indien hulle met die heidene vermeng het, sou God hulle nie meer teen hulle vyande beskerm nie. En dit sou beslis Israel se ondergang beteken het. Josua was nie gerus nie. Heidense elemente het toe alreeds begin kop uitsteek (Rigt.2:11).
Alhoewel daar niks van die verowering van Sigem gesê word nie, het Israel dit wel besit. Dit was ʼn baie ou stad (Gen.12:6) met ʼn terpentynboom by More waar Jakob die afgodsbeelde destyds begrawe het (Gen.35:4). Hy het grond daar besit en ʼn ook grond van die Amoriete afgeneem. Sigem was ʼn aartsvaderlike heiligdom. Dis interessant dat Josua juis hier sy laaste en roerendste toespraak gelewer het! Die gevolg was dat Israel na God terugkeer en hul verbond met Hom hernu het. Josua was 110 jaar oud toe hy oorlede is. Kort na hom is die priester Eleasar, die seun van Aäron, ook oorlede.
Vervolg...