Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u geweet die Nuwe Testament se oudste manuskripte dateer om en by die einde van die 2de eeu n.C.? Daar bestaan geen oorspronklike Griekse teks nie, maar slegs kopieë van manuskripte. Ons is egter baie gelukkig om manuskripte te hê wat 100-150 jaar ná die oorspronklikes gekopieer is.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (30)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
ELI & SAMUEL
LES 1
1 Sam 2:12-36; 4-7:1
1. Eli in Silo
Eli en Samuel word beide as rigters beskou. Eli het Israel 40 jaar lank gerig en Samuel daarna vir die res van sy lewe. Eli was uit die stam van Levi en dus ʼn nasaat van Aäron. Sy seuns, Hofni en Pinehas, was ook priesters wat onder hul vader gewerk het. Die meeste hoëpriesters het van Aäron afgestam aan wie God ʼn ewige priesterskap toegesê het.
Eli was egter ʼn nakomeling van Itamar, ʼn broer van Eleasar. Hoe hierdie priestergeslag ontstaan het, word nie in die Skrif vermeld nie. Dit het egter tot ʼn einde gekom nadat Salomo vir Abjatar verjaag (1 Kon.2:26) en die nasate van Eleasar weer die hoëpriesterlike waardigheid ontvang het.
Eers ná Samuel se geboorte word daar weer van Eli melding gemaak wat in die tempel diens gedoen het. Uit sy gesprek met Hanna kan afgelei word dat hy baie vroom was. Sy seuns was egter deugniete en het van die offers wat in Silo geoffer is, gesteel deur meer te neem as waarop hulle geregtig was. Dit het soms selfs met geweld gepaard gegaan. Hulle het selfs met van die vrouens wat kom offer het, omgang gehad! Eli het van alles geweet, maar sy seuns nie getugtig nie.
Daarom het God besluit om hulle by geleentheid te laat sterf (Opb.22:11).
2. Die oordeel
God het ʼn oordeelsaankondiger na Eli gestuur om hom op die heiligheid van die priesteramp en daarna op sy seuns, Hofni en Pinehas, se vergryp te wys. Eli het sy plig versuim en sy seuns bo God liefgehad. As straf sou geen manlike nasaat van hom oud word nie. Beide sy seuns sou jonk sterf.
God het die huis van Eli gestraf, maar nie sy genadewerk laat vaar nie. Hy het ʼn getroue getuie laat verwek vir wie Hy baie lief was – Samuel. Samuel was as jongeling onder die toesig van Eli in diens van God. Hy sou later die naderende oordeel oor Eli bekend maak. Eli het in die oordeel van God berus sonder om sy seuns enigsins te berispe of regstellende veranderings aan te bring.
Kort hierna het die Filistyne weer teen Israel opgetrek. Hulle het geglo dat die ark van die verbond toorkrag gehad het en wou dit buit. Israel het weer geglo dat God dit nie sou toelaat nie omdat dít hulle borg vir veiligheid was. Gevolglik was Israel verpletter toe hulle die stryd verloor en die ark weggevoer is. Ongeveer 30,000 voetsoldate het tydens hierdie slag gesneuwel. Ook Hofni en Pinehas. God laat Hom deur niks dwing nie; nie eens magiese middels nie. Israel moes slegs deur geloof en gehoorsaamheid aan God verbind wees.
Toe Eli die uitslag van die stryd verneem, het hy agteroor geval, sy nek gebreek en gesterf. In dieselfde tyd het Pinehas se vrou aan ʼn seun geboorte geskenk en kort daarna gesterf. Uit haar laaste woorde blyk hoe ellendig dit met Israel gegaan het. Sy het hom Ikabod genoem. Dit beteken die eer is weg.
3. Die verbondsark word gebuit
Die Filistyne het die laer van die Israeliete uitmekaar gejaag en die ark gebuit. Daarna is dit na Asdod geneem waar dit in die tempel van Dagon geplaas is. Die Filistyne moes daarna kyk en glo dat Dagon oor die God van Israel geseëvier het. Hulle het geglo dat God sy eer prysgegee het en Israel nie meer wou red nie.
Een nag het Dagon voor die ark omgeval. Hy het net soos die heidene gelê wanneer hulle hom vereer het. Die Filistyne moes hom weer op sy plek terugsit omdat hy uiteraard nie kon opstaan nie. God het hom op sy plek gesit – laag aan sy voete! Die volgende dag was Dagon weer onderstebo en boonop nog gebreek ook. God se hand swaar op die mense van Asdod.
God het ʼn gees van paniek onder die Filistyne laat ontstaan waarna bose knoppe op hulle uitgekom het. Hulle het besef dat dit alles aan die ark in hulle midde te wyte was. Daarna is die ark na Gad geneem. Nadat die Gadiete ook getref is, is dit na Ekron gestuur wat dit geweier het. Daarna het die Filistynse owerheid besluit om dit onverwyld na Israel terug te stuur. Hulle wou die trofee nie langer hê nie!
Die priesters en waarsêers moes besluit hoe die ark teruggestuur moes word. Hulle het voorgstel dat ʼn skuldoffer die ark moes vergesel. Die heidene het besef dat hulle hul moses met Israel se God teëgekom het en vyf goue geswelle (karbonkels) en muise volgens die getal Filistynse stede as offer laat maak. In die geswelle van goud het die Filistyne God se oppermag oor hul afgode erken. Maar waarom muise? In die ou Griekse wêreld was muise ʼn simbool van peste en plae. Die Filistyne het geglo dat God met goue muise oorreed kon word om die pes teen hulle te laat ophou.
Alhoewel die raad van die priesters gevolg is, het die Filistyne tog gewonder of die pes nie dalk ʼn natuurlike oorsaak gehad het nie. Daarom is ʼn toets aangelê. Koeie wat so pas gekalf het, moes die wa met die ark trek. As hulle na hul kalwers omdraai, sou die Filistyne aanvaar dat die ramp natuurlik was. As die koeie na Israel aangestap het, sou dit 'n saak van God wees. Daarmee is ʼn Godsoordeel uitgelok. Die uitslag was duidelik - die koeie het aanhou loop! God het die Filistyne baie duidelik laat verstaan dat Hy hulle getref het.
4. Die ark word terugbesorg
Toe die verbondsark in Israel aankom, was die mense van Bet-Semes, ʼn Levietestad (Jos.21:16), besig om te oes. Hulle het die ark afgetel en op ʼn groot klip gesit sodat dit nie ontheilig kon word nie. Daarna het hulle uit dankbaarheid ʼn feesdag aangekondig en die koeie aan God geoffer.
By hierdie geleentheid het die inwoners die ark wat altyd bedek was (Num.4:5,6) baie nuuskierig van nader gaan besigtig. Hierdie oneerbiedige optrede het 70 van die nuuskieriges se dood beteken! Daarna wou die Israeliete van die ark ontslae raak. Hulle was net so bang daarvoor soos die Filistyne en het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Daarom is dit na Kirjat-Jearim gebring waar Abinadab ‘n dienlike plek daarvoor ingeruim het. Waarom is die ark nie weer na Silo gebring nie?
Omdat Silo heelwaarskynlik tydens die slag by Afek verwoes is.
Vervolg...