Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy is gedurig in jou Skepper se lewe; Hy vergeet nooit van jou nie al besef jy dit nie altyd nie. Hy is nooit te besig met al die ander mense se probleme om aan jóu aandag te skenk nie. Nou is die vraag: is Hy gedurig in jóu gedagtes? Of is jý te besig met ander mense om Hom die tyd te gee wat Hom toekom?
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (32)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
KONINGSKAP IN ISRAEL
1 Sam 8-10,12
1. Die volk wil ʼn koning hê
Toe Samuel oud was, het sy twee seuns in Bersèba as rigters opgetree om sy taak ligter te maak. Hulle was egter nie regverdig nie en het daarom ʼn slegte naam gehad. By geleentheid het die oudstes by Samuel in Rama daaroor gekla en hom versoek om vir Israel ʼn koning aan te stel “soos by al die nasies”. Dit het Samuel hewig ontstel. Hy het Gideon se siening van ‘n teokrasie gehuldig (Rigt.8:23). Israel moes juis anders as die omringende nasies wees. Israel het die voorreg om God as koning te hê nie waardeer nie en wou liewer soos die heidennasies ‘n aardse koning hê.
God het Israel egter laat begaan. Tydens die Rigterstyd het Israel bewys gelewer dat hulle nie onder God alleen wou staan nie, maar ʼn menslike leier nodig gehad het om tussen hulle en God te staan. Dit moes ʼn koning wees wat deur die profete gelei kon word om na die wil van God te leef. Soos wat die priesters versoening met God bemiddel het, moes die koning die heerskappy van God bemiddel.
Die Here het toe aan Israel ʼn koning na hulle smaak gegee. Hy sou egter eeue later die Man van sy keuse Israel toe stuur. Tydens die aardse koningskap het dinge vir Israel lelik skeefgeloop. Daarom was die einde van Israel se volksbestaan niks anders as ʼn noodroep na Christus, die Middelaar-Koning, nie.
Toe Israel ʼn koning wou hê, het Samuel hulle ernstig gewaarsku om te herbesin. ʼn Koning het destyds sekere regte gehad en op wyses opgetree waaraan hulle nie gewoond was nie. Daarna het Samuel die optrede van ʼn Oosterse despoot geskets en gehoop dat hulle tot hulle sinne sou kom. Hulle het nie. Israel wou ʼn koning hê!
2. Saul word gesalf
Israel het nie self ʼn koning gekies nie. Dit was darem iets positiefs in hul verkeerde gesindheid. Daarna het God aan Samuel getoon wie hy moes salf: ʼn Benjaminiet wat God na hom gestuur het. Saul, die seun van Kis, was ʼn lang en aantreklike jongman. Nadat hy saam met Samuel geëet het, het Samuel ernstig met hom gepraat. Hy was besorg oor die optrede van die volk. Saul was die enigste weg tot hulle behoud waarna Samuel hom buite die stad gesalf het. Die profeet was gehoorsaam aan God se bevel.
Salwing was ʼn bekende gebruik in Israel. Vóór die koningskap is slegs priesters gesalf (Ex.40:15). Ná Saul sou alle konings gesalf word. So ook die profete (1 Kon.19:16). Salwing het die betekenis van bekwaamheid tot ʼn amp gehad. Dit was ook die bewys van ʼn wettige roeping. Met die salwing van Saul het Samuel te kenne gegee dat God hom as vors oor sy volk gesalf het. Israel was nog steeds die erfdeel en besitting van God. Saul moes net God se volk namens Hom bestuur.
Op pad terug na sy vader het drie snaakse dinge met Saul gebeur. Dit was die bewys dat God hom as koning oor Israel laat aanstel het. Toe hy by die graf van Ragel kom, het hy twee manne gevind wat hom ingelig het dat die verlore esels waarna hy gesoek het, gevind is. Die tweede teken was die manne wat oppad na Bet-el twee brode aan Saul en sy kneg gegee het. Kort daarna het hulle profeterende vroue met musiekinstrumente teëkom waarna Saul hom in ʼn geestesvervoering by hulle aangesluit het. Mense wat hom herken het, het verbaas gevra: “Is Saul ook onder die profete?” Die aankondiging van sy koningskap het ook deur profesie bekend geword.
3. Die koningskeuse in Mispa
Samuel het die volk by Mispa byeen laat kom. Israel het tevore by Mispa gebid dat God hulle van die Filistyne moes red. Gevolglik het die plek hulle aan redding herinner. Daar is die lot gewerp en is Saul volgens die wil van God as koning aangewys. Hy was aanvanklik huiwerig en het probeer wegkruip. Toe hy egter na vore kom, was hy kop en skouers langer as die res van die volk. Daarna het die mense gejuig en gesê: “Mag die koning lewe!” Hierdie juigkreet is later ook met die salwing van Salomo (1 Kon.1:39) en Joas (2 Kon.11:12) aangehef.
Daarna het Samuel die koningskap amptelik aangekondig. Alhoewel Israel God teleurgestel het, het God die koningskap vooraan as ʼn instelling van Homself geag. Daarna het die skare huiswaarts gekeer. Almal was egter nie tevrede met die verloop van sake nie. Sommige het hul eie kop gevolg en Saul onmiddellik teengestaan. God het egter gesorg dat die volkshelde Saul sterk ondersteun het. Hierdie manne het ʼn leidende rol in sy regering gespeel.
4. Samuel baie ontevrede
Samuel was nie gelukkig met die verloop van sake nie. Behalwe dat sy volk hom as’t ware verwerp het, was daar iets aan Saul wat hom gehinder het. Toe Saul later verkeerde dinge doen, het Samuel lank daaroor getreur (1 Sam.15:35). Die beginsel van koningskap het hom dwars in die krop gesteek. Desondanks die volk se keuse het Samuel geweet dat God die gang van sake bepaal het. Geen mens kon dit keer nie. Gevolglik het hy vir oulaas sy misnoë oor sy volk se keuse uitgespreek en uitgetree. Sy amp was uitgedien.
Samuel was baie skepties oor die koningskap, maar het die Here steeds bly dien. Hy het selfs van God ʼn teken gevra dat dit in die middel van die oes moes reën. Dit was ʼn tyd waarin normaalweg geen reën verwag is nie. Toe dit gebeur, was Samuel oortuig dat Israel tydens Saul se koningskap van God afvallig sou raak.
God het Israel se begeerte na ʼn koning goedgekeur omdat Israel nie verder sonder ʼn koning oor die weg sou kom nie. Die eintlike Koning sou eeue later in die persoon van Jesus Christus na Israel kom – Emmanuel (God met ons). Daarom was die opskrif bokant die kruis deels korrek – Jesus was inderdaad die Koning van die Jode!
Alhoewel Samuel die koningskap as opstand teen die gesag van God en derhalwe sonde geag het, was dit God se manier om sy reddingsplan deur te voer. Hierdie plan het selfs oor ʼn sondige vrou soos Ragab geloop. God slaan reguit houe met krom stokke!
Vervolg...