Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al sou iemand met wie se lewe die Here tevrede is, struikel, hy sal nie val nie want die Here hou sy hand vas – Ps 37:24
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (33)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 4
SAUL
1 Sam 11,13-14
1. Die stryd met Nahas
Pas nadat Samuel vir Saul gesê dat God met hom sou wees, het Nahas, ʼn Ammoniet, die Israeliete wat in Jabes (Gilead) was beleër. Dit was hulle eerste aanval op Israel nadat Jefta hulle meer as ʼn eeu tevore kafgedraf het. Die inwoners van Jabes wou ʼn verdrag met Nahas sluit, maar sy voorwaardes was onmenslik wreed. Elke inwoner se regteroog moes uitgesteek word!
Daarom het die inwoners van Jabes na Saul gegaan en hom om hulp gevra. Toe hy van Nahas se voorwaarde verneem, was hy so ontstoke dat hy ʼn paar beeste in stukke laat opsny en as ʼn waarskuwing deur sy ryksgebied gestuur het. Elkeen wat nie saam met hom teen die vyand wou optrek nie, se beeste sou so geslag word! Daarna het die volk soos een man teen Nahas opgetrek en hom verslaan. Saul het sy staal as koning gewys.
Toe die soldate diegene wat Saul in Mispa geminag het, wou doodmaak, het Saul hulle verhoed. Dit het van sy vroomheid en edelmoedigheid getuig. Hy het die hart van die volk verower. Selfs Samuel het van gesindheid verander en vir Saul ʼn fees by Gilgal gereël. Daarna het die volk hom as koning aanvaar.
2. Die stryd met die Filistyne
Saul het ʼn persoonlike leër van 3000 uitgesoekte man gehad waarvan 1000 onder leiding van sy seun, Jonathan, op die familieplaas geplaas is. Die Filistyne het van Saul se oorwinning oor Nahas te hore gekom en hom die stryd aangesê. Hulle het destyds die monopolie oor yster gehad sodat alle ysterware alleenlik van hulle bekom kon word. Die Filistyne kon yster smelt en het oor kundige smede beskik. Slegs Saul en sy seuns het strydwaens, swaarde en spiese van yster gehad.
3. Saul in die knyp
Israel se koningskap was veronderstel om ʼn teokrasie te wees. Gevolglik was Saul nie veronderstel om soos ʼn Oosterse despoot na willekeur te handel nie. Hy was aan God se wil onderworpe en God het sy wil deur die profete aan hom bekend gemaak. Daarom was Israel se konings altyd deur profete omring of hulle boodskappe gewild was of nie.
Die oorlog teen die Filistyne het Saul se koningskap beproef. Hy moes volgens profetiese opdrag sewe dae lank vir Samuel wag en daarna aan God offer om ʼn oorwinning te verseker. Toe Samuel talm, is Saul se leër tot ʼn skamele 600 man uitgedun. Hy wou nie langer wag nie en het die offerdiere laat haal om ʼn positiewe uitslag te beklink.
Net toe Saul wou offer, het Samuel daar opgedaag. Dat ʼn koning ongehoorsaam kon wees, was ʼn teenstrydige begrip in die Ou Nabye Ooste. ʼn Koning het mos alle mag gehad! Maar nie ʼn teokratiese koning nie. Die waarde van sy koningskap is juis aan sy gehoorsaamheid aan God gemeet.
Samuel se vraag aan Saul het van afkeur getuig. Saul se flou verskoning het die ou profeet baie vies gemaak, waarna hy nie verder gepraat het nie en God se oordeel oor Saul se koningskap aangekondig het. Saul sou met iemand anders vervang word. Omdat hy God se opdrag nie uitgevoer het nie, het Saul ʼn oordeel oor homself gebring. Dit sou hom sy koningskap kos.
Saul was erg bekommerd. Wie was die gunsgenoot van God waarvan Samuel gepraat het? Wat moes hy doen? Aangaan of bedank? Saul het besluit om voort te gaan asof niks gebeur het nie. Hy het sy oorblywende manskappe gemonster en eiemagtig teen die vyand uitgetrek.
4. Jonatan
Jonatan was nie die ander een wat God verkies het nie. God het Saul se hele huis verwerp, maar hom ter wille van Jonatan op die troon van Israel verdra. In ʼn waaghalsige dog gelowige poging het Jonatan en sy manne ʼn aanval op die Filistynse wagpos geloods waarna Saul se leër die vyand op die vlug laat slaan het. God het ʼn gees van verskrikking onder die vyand gestuur, sodat hulle mekaar doodgemaak het. Israel was die volk van sy belofte.
Saul wou hom sterk hou en sy manskappe met ʼn eed verplig om niks voor die aand te eet nie. Jonatan het egter niks hiervan geweet nie en heuning in die bos geëet. Toe ʼn manskap hom van die eed vertel, was hy skepties daaroor. Hy en sy pa het nie oog tot oog gesien nie.
Toe Saul ʼn nagaanval op die vyand wou loods, was die manskappe alles behalwe geesdriftig. Daarna het die priester Ahia, ʼn agterkleinseun van Eli, God geraadpleeg. Toe God hom nie antwoord nie, het Saul besef dat daar ʼn skroef los was. Hy het beloof om die skuldige vas te trek en dood te maak al was dit ook sy seun!
Omdat almal van Jonatan en die heuning geweet het, wou niemand iets sê nie. Daarna is die lot gewerp en is Jonatan as die skuldige aangewys. Moes Saul sy woord hou en die oordeel voltrek? Toe hy dit wou doen, het die soldate opstandig geword. Jonatan was dapper en baie gewild. Hulle sou nie toelaat dat hy leed aangedoen word nie. Daarna het Saul ʼn offerdier in Jonatan se plek laat slag het.
Israel was bly dat God hulle verlos het. Saul was egter bitter daaroor. Die volk het Jonatan bo hom verkies. Hierdie breuk tussen vader en seun sou al hoe groter word. Hierdie gebeure was slegs die begin van die oordeel oor die huis van Saul. Sy eie mense sou hom gaandeweg al hoe meer verwerp.
Saul het in Gibea ongeveer vyf kilometer noord van Jerusalem regeer. Gibea beteken heuwel. Jare gelede is ʼn merkwaardige argeologiese fonds gemaak. Argeoloë het die ou fort met die huis van Kis waar Saul gewoon het, opgegrawe. Dit was nie ʼn paleis in die ware sin van die woord nie, maar eerder ʼn vesting wat ʼn skrale 20 by 13 meter in omvang was. Saul het, so anders as die Oosterse konings van sy tyd, baie eenvoudig geleef. Daarbenewens was hy ook meer van ʼn soldaat as iets anders. Hy het nie eens ʼn harem soos die ander konings gehad nie. Saul het slegs een vrou Ahinoam en ʼn byvrou Rispa gehad.
Vervolg...