Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voordat ek getroud is het ek twee teorieë gehad oor hoe om kinders groot te maak; nou het ek twee kinders en geen teorie meer nie...
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (41)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
1 KONINGS
LES 1
DIE EINDE VAN KONING DAWID
1 Kon 1-2
1. Die sameswering van Adonia
Dawid is waarlik gestraf vir sy sonde met Batseba en moord op Uria. Alhoewel sy sonde vergewe is, het God onheil oor sy huis verwek. Absalom se dood het Dawid diep geruk. Dit was egter nie die einde van sy smarte nie. ʼn Ander seun, Adonia, het ook na sy troon gryp. Hy was die oudste oorblywende seun en volgens hom daarop geregtig. Hy was egter bang dat hy dit nie sou kry nie en het ʼn sameswering geloods.
Dawid was oud en kon nie meer langer regeer nie. Sy ouderdom word treffend beskryf. Toe hy nie warm kon word en komberse nie gehelp het nie, het sy hofdienaars hulle na ʼn natuurlike hulpmiddel aangewend; ʼn jongmeisie om hom warm te hou (Pred.4:11).
Adonia het ʼn klomp waens en ruiters aangeskaf en 50 man voor hom laat uitloop om mense onder die indruk van sy waardigheid te bring. Hy het selfs die guns van Joab en Abjatar, eertydse vertrouelinge van Dawid, gewen. Waarom hulle hom ondersteun het, word nie gesê nie. Dit was heelwaarskynlik persoonlik van aard. Joab en Dawid het dikwels gebots. Die feit dat hy op die ou einde nie saggies met Absalom gewerk het nie, het juis op ʼn verswakking in sy verhouding met Dawid gedui. Joab het dus voor ʼn keuse te staan gekom en verkeerd gekies!
Adonia wou die staatsgreep tydens ʼn maaltyd laat plaasvind waarheen hy sy broers, wat almal jonger as hy was, genooi het om getuies van sy kroning te wees. Joab en Abjatar is ook genooi, maar nie Natan nie. Die plan was om Adonia tydens die feesmaal as koning uit te roep waarna hy Jerusalem sou binnery sonder om die inwoners ʼn keuse te laat.
Dit sou egter nie gebeur nie. Daarvoor het Natan gesorg. Toe hy die feesgedruis hoor, het hy eers na Batseba en daarna na Dawid gegaan. Natan het Batseba op die gevaar wat Adonia se opstand vir haar en haar seun se toekoms ingehou het gewys. Hulle kon aan sy hand sterf! Daarom het Batseba onmiddellik met Dawid gaan praat. Hy het pas tevore gesweer dat Salomo koning sou word omdat God hom op die troon van Israel wou hê (1 Kron.28:5).
Dawid was helder van gees toe Natan en Batseba met hom gepraat het. Hy het geweet wat om te doen en Salomo onmiddellik as koning aangestel. Natan en Sadok moes Salomo by Gihon, ʼn waterbron naby Jerusalem, salf waarna hy op ʼn koninklike muil die stad moes inry (Ester 6:7,8).
Sadok het die horing met olie gebring en in Gihon die ramshorings laat blaas en uitgeroep: Mag koning Salomo lewe! waarna hulle die stad binnegery het. Die hele volk het by die feesgangers aangesluit en vrolik geraak. Toe dit Adonia se ore bereik het, het hy besef dat Dawid hom voorgespring het. Sy medepligtiges het uit vrees vir vervolging gevlug omdat ‘n sameswering teen die koning met die dood gestraf kon word! Adonia het aan die horings van ʼn altaar gaan vashou en homself onder die versoenende genade van God gestel (Ex.21:14). ʼn Offerdier se bloed is gereeld aan die horings gesmeer (Lev.4:25). Hierdie bloed is selfs aangewend om geweldenaars te beskerm.
Of die jong Salomo die altaar sou eerbiedig, was ʼn ope vraag. Adonia wou die horings nie los alvorens Salomo gesweer het om hom nie dood te maak nie. Salomo het sy woord gehou en Adonia en sy makkers vermaan dat hulle op dun ys was. Daar is later wel teen hulle opgetree.
2. Die betekenis van Dawid
Dawid het geweet om lojaliteit te verkry en onordelikes in toom te hou. Hy was ʼn gebore koning, maar nie sonder foute nie. Hy was streng met sy volk, maar laks teenoor sommige van sy eie seuns. Hy het soms swaar gesondig, maar ook diepe berou voor God gehad. Hy was wellustig en tog ook vroom. Petrus sien hom selfs as een van die aartsvaders (Hand.2:29).
Dawid het nooit soos Saul teen die karakter van sy koningskap gesondig nie. Hy was ʼn teokratiese koning wat God eerbiedig en na God se profete geluister het. Dawid het God liefgehad. Die gevoel was wedersyds. Daarom het God ter wille van hom aan talle konings van Juda genade bewys (1 Kon.11:36; 15:4; 2 Kon.8:19). Dawid was verhef tot 'n vors en gebieder van nasies. (Jes.55:4).
Toe hy die twee stamme in sy nuwe koningstad verenig het, het Dawid van Israel ʼn staat gemaak. Hy het baie roem deur puik binnelandse organisasie en buitelandse verowerings verwerf. Daarbenewens was hy ʼn puik administrateur en het talle kundige amptenare aangestel. Dawid het sy leër in 12 afdelings van 24,000 man opgestel, elkeen met ʼn bevelvoerder. Daarbenewens het hy skatmeesters na sy besittings laat omsien sodat hy aandag aan die godsdiens kon gee. Hy het veral baie aandag aan die musikale aspek gegee en daarmee die grondslag vir tempelmusiek gelê.
3. Dawid sterf
Soos wat Moses nooit die beloofde land sou binnegaan nie, sou Dawid nooit die tempel sien nie. Hy het aan die einde van sy lewe ʼn groot vergadering in Jerusalem belê waartydens hy plegtig verklaar het dat God sy seun Salomo op die troon wou hê om vir Hom ʼn tempel te bou. Dawid het van sy eie goud en silwer as ʼn bydrae vir die tempel gegee. Daarna het Dawid ʼn dankgebed voor die volk gedoen waarna hulle ʼn feestelike maal genuttig is.
Dit was Salomo se kroningsfees waarna hy vir ʼn tweede keer koning gemaak is. Die eerste keer was by Gihon. Terselfdertyd is Sadok ook tot sy priester gesalf. Abjatar kon na sy medepligtigheid aan die opstand van Adonia nie langer priester wees nie.
Dawid het aan Salomo etlike bevele in sake Joab gegee. Soos reeds vermeld was die verhouding tussen Dawid en Joab ná die dood van Absalom maar betreklik gespanne. Hy was ʼn neef en vertroueling van Dawid wat hom nie net teen die vyande gehelp het nie, maar ook aan sy ryk help bou het. Dawid kon Joab egter nie vir sy misdade straf nie en die aangeleentheid aan Salomo oorgelaat om na goeddunke te handel. Dawid is kort hierna oorlede en in Jerusalem begrawe.
Vervolg...