Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan geen verdriet van jou afskuif asof dit jou nie aangaan nie. Jy kan leed en bekommernisse nie vermy nie, jy moet moet daardeur gaan na nuwe rus en vreugde.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (47)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 7
ELIA TREE TEEN DIE AFGODSDIENS OP
1 Kon 16:29-34; 17-18
1. Die regering van Agab
Israel se afgodery het gemaak dat Elia teen sy koning moes optree. Nadat Agab Isebel as vrou geneem het, het hy weer die Kanaänitiese kalwerdiens ingevoer. Sy was die dogter van Et-Bäal, die koning van Sidon, ʼn Fenisiese gebied. Et-Baäl het in Tirus gewoon nadat hy Hiram, ʼn bekende uit die dae van Dawid en Salomo, opgevolg het ( 1 Kon.5:1). Die Fenisiërs het die Baäls so vurig aanbid, dat Fenisië die land van die Baäls genoem is.
Agab se Fenisiese vrou het van meet af aan die septer in Israel geswaai. Sy het selfs ʼn Baältempel in Samaria laat bou en so God geterg. Daarna het Agab die stad Jerigo, waarop daar ʼn vervloeking gerus het, deur Hiël laat opbou (Jos.6:26). Hierdie ongehoorsaamheid het hom die lewe van twee van sy seuns gekos!
2. Elia tree sterk op
Elia was van Tisbe in Gilead afkomstig. Hy het by geleentheid vol van die Heilige Gees na Samaria vertrek om die Baäldienste teen te staan. By sy aankoms het hy God se straf oor Israel se afvalligheid aangekondig. Daar sou nie weer reën in die land val behalwe op sy bevel nie. Daarna het hy by die spruit Krit gaan skuil waar God hom op ʼn wonderlike manier versorg het. Kraaie het vir hom brood en vleis gebring!
Elia was alleen met God. Die bosse het vir hom skuiling gebied en die spruit het hom van water voorsien. Hy moes vir God ʼn ding klaarmaak waarmee hy begin het. Hy was soos Christus baie eeue later alleen met God omdat daar vir hom ʼn groot stryd voorgelê het. Die kraaie was vir hom die duidelike bewys dat God met hom was en in sy daaglikse behoeftes voorsien het.
3. Elia in Sarfat
Die volk se afvalligheid van God is daarna met hongersnood gestraf. Toe dit nie reën nie en die spruit later ook opdroog, het Elia op God se bevel na ʼn weduwee in Sarfat gegaan. Sy het hom water gegee, maar nie brood nie omdat sy net genoeg vir ʼn laaste ete vir haar en haar seun gehad het. Op sy versekering dat die meel en die olie nie sou opraak totdat dit weer begin reën nie, het sy vir hom ʼn broodkoek gebak. Sy het geglo en die hele tyd lank oorleef.
4. Die seun van die weduwee
Die wonder wat gebeur het, was geen waarborg dat niks verder met die weduwee sou gebeur nie. Die seun was klein en het so siek geword dat hy oorlede is. God se weë is soms baie vreemd. Dit kan ook genadeloos voorkom. Die gebroke weduwee wou soos ʼn Job van ouds weet of haar verlies as gevolg van God se straf op sonde is? Elia het nie probeer verduidelik nie, maar die kind na die bokamer geneem en vir ʼn wonderwerk gebid. God het hom verhoor en die kind se lewe teruggegee. Die weduwee was oorstelp van vreugde en haar geloof het verdiep!
5. Elia voor Agab
Die droogte het 3 jaar en 6 maande geduur (Luk.4:25; Jak.5:17). Daar sou eers op Elia se woord weer reën in Israel val. God het ten spyte van Agab se onbekeerlikheid reën gegee. Hy is ʼn barmhartige God! Die droogte was so erg, dat die koning self na gras vir sy diere gaan soek het. Hy het Obadja, ʼn vroom man en toesighouer oor die paleis, met hom saamgeneem. Obadja beteken dienaar van die Here. Die feit dat hy in Agab se diens was, dui daarop dat Agab nie so dweepsiek soos sy vrou was wat selfs die profete van God laat uitgeroei het nie. Obadja het destyds 100 van hulle gered deur hulle in ʼn spelonk te versteek waar hy hulle met brood en water onderhou het.
Agab en Obadja het op hul soektog afsonderlike weë ingeslaan. Toe Obadja vir Elia teëkom, het Elia hom aangesê om Agab van sy teenwoordigheid te verwittig. Agab het op daardie tydstip Elia oral gesoek om hom dood te maak. Obadja was egter bang om die berig te bring omdat Elia moontlik kon verdwyn en Agab vir Obadja leed kon aandoen.
Nadat Elia gesweer het om op hulle te wag, het Obadja na Agab gegaan. Toe Agab daarna vir Elia sien, het hy hom ʼn beroerder van Israel genoem en die skuld vir die droogte en hongersnood voor sy deur gelê. Daarna het Elia aan hom die ware rede verstrek - Agab en sy huis was daarvoor verantwoordelik. Hulle het dan God se gebooie verwerp en Hom geterg!
Daarna het Elia die koning uitgedaag. Agab moes met die hele Israel asook die 450 Baälpofete by Karmel byeenkom om te sien wie se God die sterkste is. Karmel was ʼn losstaande bergland wat soos ʼn kaap in die Middellandse See inloop. Agab het in sy dwaasheid hierdie uitdaging aanvaar.
6. ʼn Skouspelagtige uitslag!
Toe die volk by Karmel saamgetrek het, het Elia hulle oor hul ongeloof geroskam. Hulle moes ʼn baie duidelike keuse maak – òf God òf Baäl. Israel se hart was darem nie heeltemal deur afgodery verower nie. Nogtans het hulle nie daarteen beswaar gemaak nie; iets wat Elia nie kon begryp nie. Israel het die koning slaafs nagevolg en nie gedink nie - die pad van die minste weerstand.
Toe Elia tot die daad oorgaan, het hy alleen teen die 450 afgodspriesters te staan gekom. Beide partye moes ʼn altaar bou en, sonder om vuur te maak, elkeen hul godheid aanroep om vuur uit die hemel op die altaar te laat daal. Dit was vir Elia geen waagstuk nie, maar eerder ʼn geloofstuk (Mark.11:23).
Die afgodspriesters was eerste aan die beurt. Hulle het die hele dag gebid, rituele danse uitgevoer en rondgespring. Alles tevergeefs! Elia het selfs met hulle gespot en gesê dat hulle harder moes roep. Hy was baie seker van sy saak. Daarna het die afgodsdienaars hulle selfs verwond om Baäl te laat roer. Weereens alles tevergeefs.
Teen die tyd van die aandoffer was dit Elia se beurt. Hy het ʼn altaar van 12 klippe (stamme) gebou, ʼn bul in stukke gesny en die altaar natgegooi. Daarna het hy gebid, waarna God vuur uit die hemel laat daal het wat selfs die klippe van die altaar verteer het. God het Israel oortuigend geantwoord!
Daarna het Israel neergeval en hul geloof opnuut in God bely. Elia het van die geleentheid gebruik gemaak, die priesters gegryp en na die Kisonspruit aan die voet van Karmel gebring waar hulle keelaf gesny is. Dit was nie verkeerd in God se oog nie want Hy self het die doodstraf vir afgodery ingestel (Deut.17:5). Daarna het dit in Israel begin reën.
Vervolg...