Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy dat jou laste te swaar druk? Kniel dan neer! Want met elke neerkniel sal jou las ligter word! Vertel God alles. As jy Hom al die stukke gee, wil Hy jou gebroke hart heelmaak!
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (54)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
ELIA EN ELISA
2 Kon 2; 4:1-37
1. Elia word in die hemel opgeneem
Elia het Elisa op God se bevel as sy opvolger aangewys. Alhoewel Elisa sy dienaar was, het Elia grotendeels alleen opgetree. Op pad na Gilgal was hulle vir die eerste en laaste keer saam. Hierdie Gilgal was nie die stad by die Jordaan nie, maar een noord van Bet-el, naby Silo. God het die doel van hul reis nie vooraf bekend gemaak nie. Dit was te groot. Elia sou ten hemele vaar!
Elia wou aanvanklik alleen gaan en Elisa gevra om te bly. Elisa het egter gesweer om hom hierdie keer nie te verlaat nie. Elia het daarin berus. Gevolglik het hulle saam in Bet-el aangekom en profeteseuns teëgekom wat deur God oor die komende gebeure ingelig was. Elisa het hulle egter gevra om eers daaroor te swyg.
Daarna het hulle ook in Jerigo profeteseuns teëgekom wat van die komende gebeure bewus was. Ook hulle is versoek om daaroor te swyg. Toe Elia hom weer probeer oorreed het om terug te gaan, het Elisa hom dieselfde antwoord gegee. Daarna het 50 van die profeteseuns hulle tot by die Jordaanrivier op ʼn afstand gevolg en gesien hoe Elia sy mantel oprol en die water daarmee slaan. Die water het oopgemaak sodat die twee profete, net soos ʼn Moses en Josua van ouds, op droë grond deurgeloop het. Daarna het die profete uit hul gesigsveld verdwyn.
Beide het geweet wat sou gebeur, maar het geswyg. Toe Elia die saak aanraak, het hy hom gevra wat hy vir oulaas vir Elisa kon doen. Elia het geweet dat daar ʼn moeilike toekoms op sy opvolger gewag het. Hy het dit self nie aldag maklik gehad nie. Sou Elisa dit kon hanteer? Elisa het die erns van die saak besef en Elia om ʼn dubbele deel van sy gees gebid. Elia moes hom soos ʼn oudste seun behandel wat altyd ʼn dubbele deel van sy vader ontvang het (Deut.21:17).
Elia was vir Elisa soos ʼn vader. Daarom het hy hom om ʼn geestelike eersgeboortereg gevra ten einde sy profetiese taak te vergemaklik. Dit sou vir Elisa soveel beteken om van die ou profeet se geesteskrag te kon erf. Wat dit vir Elia moeilik gemaak het, was dat dit oor geestesgoedere gegaan het. Hy het uiteraard nie daaroor beskik nie. Net God alleen.
Daarop het Elia aan Elisa gesê dat God hom ʼn teken sou gee. As Elisa hom persoonlik sou sien wegvaar, sou dit ʼn bevestiging van die geestelike erfenis wees. Andersins nie. Elia het God aan ʼn teken gebind; ʼn bewys van die noue kontak wat daar tussen hom en God was. Elisa wou baie graag daar wees, maar Elia wou hom nie met sy laaste en grootste ervaring van God daar hê nie. Dit was deel sy persoonlikheid. Hy het Elisa nie in sy persoonlike lewe toegelaat nie (Jak.5:17).
Met Elia se hemelvaart het God aan Elisa die teken gegee. Hy sou ʼn dubbele deel geesteskrag ontvang en ʼn volwaardige opvolger wees. Terwyl hulle saam geloop en praat het, het ʼn wa en perde van vuur skeiding tussen hulle gemaak en Elia in ʼn storm in die hemel opgeneem. Die ou stryder is as’t ware met militêre eer deur sy Koning teruggeroep. Hy was immers die profeet van storm en vuur en is met dieselfde verskynsels hemel toe. Baie eeue later sou die Heilige Gees met dieselfde verskynsels, stormwind en vuur, uitgestort word.
Elia het verwonderd en oorbluf deur die skouspel na God uitgeroep. Johannes die Doper, die voorloper van Christus, sou eeue later in die krag en gees van Elia verskyn (Luk.1:17). Elia sou baie eeue na sy hemelvaart weer op aarde verskyn - op die berg van verheerliking saam met Moses (Mt.17) om die profete te verteenwoordig. Moses het die wet verteenwoordig.
Toe Elisa die ou profeet nie meer kon sien nie, het hy, ontsteld deur die gebeure, sy klere geskeur. By sy terugkeer het hy die mantel van Elia op die grond sien lê en dit vir hom geneem (Jes.61:10). Dit was alreeds vroeër op sy skouers (1 Kon.19:19). Toe hy by die Jordaan kom, het hy die water weer met die mantel gekloof. Die gees van Elia was waarlik op hom!
2. Slegte water word bruikbaar
Elisa het vir ʼn tyd lank in Jerigo vertoef. In daardie tyd het die water so sleg geword dat die boere daaronder gely en die oeste verswak het. Die inwoners het van Elisa se optredes verneem en by hom gepleit om iets aan die situasie te doen. Hulle het nie soos die mense van Bet-el die profete van God geminag nie. Elisa het vir ʼn nuwe skottel met sout gevra en dit in die bron gegooi waarna die water bruikbaar geword het.
3. God straf die spotters
Van Jerigo af is Elisa na Bet-el waar jong seuns met hom gespot het. Hulle het, soos die res van die inwoners, geen agting vir God of sy gesante gehad nie. Hulle het Elisa kaalkop genoem; nie dat hy noodwendig bles was nie. Dit was eerder ʼn woord van minagting. Hulle opmerking gaan op, dui daarop dat hul kennis van Elia se hemelvaart gehad het. God het twee beerwyfies uit ʼn bos laat kom wat 42 van die kinders doodgebyt het. Daarna is Elisa na Karmel, ʼn omgewing wat hom sterk aan Elia herinner het. Daar het God hom vir sy groot taak versterk waarna hy na sy huis in Samaria vertrek het (2 Kon.5:9).
4. Die vol kanne
Toe een van die profeteseuns oorlede is, het sy weduwee in stoflike nood beland. ʼn Skuldeiser het selfs twee van haar kinders as slawe geneem. In haar nood het sy na Elisa gegaan en die ongevoeligheid van die skuldeiser teenoor die godsvrug van haar oorlede man bekla. Sulke liefdelose eise was algemeen (Amos 2:6; 8:6).
Die vrou het bitter min besit. Slegs ʼn klein bietjie olie in ʼn fles. Daarop het Elisa haar aangesê om baie kanne te gaan leen en dit uit die flessie vol te maak. Dit het geloof gevra! Die olie in die kanne het nie opgeraak nie. Sy is selfs aangesê om daarvan te verkoop en haar skuld te betaal. In teenstelling met die ongevoeligheid van die skuldeiser, was God barmhartig.
5. Die ryk vrou van Sunem
In Sunem was daar ‘n ryk egpaar wat vir Elisa ʼn bokamer laat bou het sodat hy tydens sy reise daar kon oorbly. By geleentheid het hy sy dienaar, Gehasi, met hom saamgeneem. Elisa wou as blyk van waardering graag iets vir hulle doen en met Gehasi daaroor gepraat. Die weldoeners het nie ʼn seun gehad nie en die man was al oud. In ʼn voorsegging het God vir Elisa laat weet dat sy ʼn seun sou baar. Sy was egter, net soos ‘n Sara van oud, baie skepties oor die belofte.
Die voorsegging het in vervulling gegaan toe ʼn seuntjie vir hulle gebore is. Toe die knapie groter was, het hy saam met sy pa gaan oes en sonsteek opgedoen. Hy het sonder sy pa se medewete tuis gesterf. Daarna het die ontstelde vrou Elisa in Karmel gaan sien. Omdat God hom dit nie te kenne gegee het nie, het hy van geen sout of water geweet nie. Daarom het hy Gehasi in der haas gestuur om sy staf op die kind se gesig neer te sit; die sigbare teken van God se teenwoordigheid in die aangesig van die dood. Die vrou wou egter nie saam met Gehasi gaan nie. Toe hy terugkeer met die nuus dat die kind nie wakker word nie, is Elisa vinnig daarheen. Hy het in ‘n gebedsworsteling oor die kind gaan lê waarna die seuntjie lewend geword het.
Vervolg...