Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moet u nie laat wysmaak dat almal voor die HERE gelyk is nie. Die HERE sonder vandag nog volke vir Hom af net soos Hy individue vir Hom uitsonder met wie Hy 'n besondere verhouding het; en sommige ander laat Hy geheel en al verlore gaan. Reeds in Núm 8 leer ons dat Hy opdrag gee dat die Leviete onder die kinders van Israel uit afgesonder word sodat hulle net die HERE s'n sal wees. Die Afrikanervolk is ook die HERE se spesiale volk; laat ons dan ons volkshart in geheel na Hom terugdraai sodat Hy ons weer sal begenadig in ons eie land.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (56)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 5
GOD VERLOS WONDERBAARLIK
2 Kon 6 -7
1. ʼn Byl dryf op water
Toe die blyplek van die profeteseuns in Jerigo te klein word, het hulle ‘n paar bome by die Jordaanrivier gaan afkap om dit te vergroot. Hulle was sterk genoeg om self die werk te doen (2 Kon.2:16). Elisa is gevra om saam te gaan. Toe een van die profeteseuns se byl breek en die kop in die water val, was hy in die verknorsing. Dit was ‘n geleende byl! Elisa het nadergekom, ʼn stok afgesny en dit in die rigting van die byl gegooi waarna die byl op die water gedryf het. God gee selfs in daaglikse klein dingetjies uitkoms!
2. God gryp in
Toe daar weer oorlog tussen Israel en Aram kom, het God ingegryp. Toe die koning van Aram en sy offisiere plan gemaak het om Israel goed op hulle baadjie te gee, het God dit aan Elisa meegedeel waarna hy die koning ingelig het. Die Aramese planne is telkens so verydel, dat die koning selfs verraad in eie geledere vermoed het. Nadat ʼn offisier hom meegedeel het dat dit nie so was nie, maar dinge skeef geloop het omdat Elisa in Israel was, het die koning besluit om hom te laat vang. Elisa was daardie tydstip in Dotan tuis. Die Arameërs het die dorpie met ʼn groot leër omsingel waarna Elisa sy dienaar gerus gestel het dat die vyand in die minderheid was.
Elisa het in die onsigbare wêreld van God gesien, iets wat by sy dienaar ontbreek het. Nadat Elisa vir ʼn openheid van sy geestesoog gebid het, het die dienaar dit ook gesien. Daar was ʼn magdom van waens en perde van vuur rondom hulle. God staan sy kinders met ʼn hemelse leërmag by (Ps.38:8; 91:11,12; Mt.26:53)!
Daarna het God die vyand met blindheid getref waarna Elisa hulle in die stad gebring het. God maak nie net gelowiges se oë oop soos in Elisa se dienaar se geval nie; Hy maak ook ongelowiges se oë toe soos wat met die Arameërs gebeur het! Toe die koning van Israel by Elisa wou hoor of hy die Arameërs maar kon doodmaak, het Elisa dit nie net afgekeur nie, maar die vyand van kos voorsien en na Aram laat terugkeer. Daarmee het die koning van Israel die naam behou dat die konings van Israel genadige konings was (1 Kon.20:31).
3. Samaria word beleër en verlos
Kort daarna het Benhadad, die koning van Aram na Samaria opgetrek om dit te beleër. Dit was nie dieselfde Benhadad wat Agab laat vrykom nie, maar ʼn latere een. Die naam van die Israelitiese koning word nie genoem nie. Dit was heelwaarskynlik Joram. Dit het nie hier oor militêre welslae gegaan nie, maar oor God wat ʼn ongehoorsame volk genadig was.
Elisa was weereens in die spervuur. Die eerste keer wou die koning van Aram hom doodmaak en daarna selfs sy eie koning. God het dit egter verhoed. As gevolg van die langdurige vyandelike belering van Samaria, was daar hongersnood en is lewensmiddele teen buitensporige pryse verkoop.
Terwyl die koning by geleentheid op die muur geloop het, het ʼn vrou na hom om hulp geroep. Hy het verwytend geantwoord dat as God haar nie wou help nie, hoe kon hy? Dis toe dat die vrou hom van haar en haar buurvrou se voorneme vertel het om hul seuntjies te slag en te eet. Sy het haar belofte nagekom, maar nie haar buurvrou nie. Die koning moes regspraak lewer. Dit was ʼn ergerlike sonde en so eie aan godsdiensverval (Lev.26:29; Deut.28:53). Daarna het die koning gesweer om Elisa dood te maak omdat dit sy skuld was dat God nie wou help nie. Elisa het alles met sy geestesoor gehoor.
Kort hierna het ʼn boodskapper by hom opgedaag met die berig dat Joram op sy drumpel staan. Joram het geaarsel om sy voorneme te voltrek en beken dat die onheil wat sy volk getref het, God se straf op hul sonde was. Ná hierdie bekentenis het Elisa God se verlossing oor Israel aangekondig.
Daarna het die toneel na vier melaatses in die poort verskuif. Hulle het honger gely omdat mense nie kos gehad het om aan hulle af te staan nie. Melaatses is uit die samelewing buitekant die poorte verdryf en het van aalmoese geleef. Toe die vier melaatses teen wil en dank kos by die Arameërs gaan bedel het, was daar geen spoor van die vyand nie. God het die vyand die gedruis van ʼn groot leërmag laat hoor wat hulle paniekbevange laat vlug het (7:6). Die melaatses het van hulle voorrade geëet en van die buit geneem. Hulle kon egter nie oor die verlossing van God swyg nie en het Joram daarvan laat weet.
Joram was egter op sy hoede en bang dat dit ʼn strik kon wees. Gevolglik het hy verkenners vooruit gestuur wat klere en ander voorwerpe langs die pad gevind het; ʼn bewys dat die vyand hals-oor-kop gevlug het! Daarna het die volk die vyandslaer geplunder. Van die buit is, soos Elisa voorspel het, billik in die stad verkoop. In die gedrang is die adjudant wat met Elisa se woorde gespot het, doodgetrap soos Elisa voorspel het. God het die Israeliete verlos deur die vyand ʼn gerug te laat hoor waarna ʼn gees van verskrikking hulle beetgepak het. God het menige verlossingswonders verrig deur op die vyand se gehoor- en gesigsvermoë in te werk. In hierdie geval het Hy mense iets laat hoor wat daar nie was nie!
Vervolg...