Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al is ons hulpeloos, arm en ellendig, help God ons. Dis mos die hart van die Evangelie – in Jesus Christus buig God tot ons neer wanneer Hy self die kuil van vernietiging op Golgotha betree. As ek dus deur donker dieptes gaan, is Jesus my beste Metgesel.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (67)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 16
MANASSE, AMON EN JOSIA KONINGS VAN JUDA
II KON 21-22
- 1. Manasse
Manasse en Amon was goddeloos. Manasse het byvoorbeeld die godsdienshervorming wat Hiskia geloods het, ongedaan gemaak en die Baäldiens heringestel. So ook heilige boomstamme en hoogtes. Manasse het selfs Agab in goddeloosheid oortref (1 Kon.16:31-33). Hy het hom voor die son, maan en sterre neergebuig en hulle aanbid. Uit 2 Kon.23 kan afgelei word dat Agas alreeds daarmee begin het. Dit kom oorspronklik uit Babel en is astraalgodsdiens genoem. God het dit streng verbied (Deut.4:19; 17:3).
Manasse het altare vir die verering van die hemelliggame gebou en in die voorhowe van die tempel geplaas. Daarbenewens het hy sy eie seun vir Molog geoffer soos Agas ook gedoen het (2 Kron.28:3).
Hy het met goëlery, verklaring van voortekens, dodebesweerders en waarsêers omgegaan. Hy het alles gedoen wat God verbied het. Desondanks het hy die langste van Juda se konings regeer – 55 jaar.Die Bybel maak min van Manasse se lang regeringstyd melding. In hierdie tyd het hy baie onskuldige bloed vergiet, soveel so dat dit Jerusalem spreekwoordelik van hoek tot kant gevul het! Baie van die profete en volksgenote wat hom vermaan het, is om die lewe gebring. Hulle was heelwaarskynlik die slagoffers waarvan Christus in Mt.23:37 melding maak. Kronieke vertel meer van hierdie bloedige stuk geskiedenis.
Omdat Manasse nie na die profete wou luister nie, het God die Assiriërs as tugroede gebruik om Juda te straf. Hulle het hom ná ʼn skermutseling gevang en in kettings na Babel gebring. In sy benoudheid het hy God om genade gesmeek, waarna God ingegryp en Manasse na Jerusalem laat terugkeer het. Daarna het Manasse alle afgodiese instellings verwyder.
- 1. Assirië gaan van krag tot krag
Tydens die regering van Manasse, het die Assiriese ryk van krag tot krag gegaan. Esar-Haddon en Assurbanipal was konings in hierdie tyd. Hulle het selfs Egipte verower, alhoewel nie vir lank nie. Hulle moes by Jerusalem verbygaan om Egipte die stryd aan te sê, maar Juda in vrede gelaat omdat Manasse die stad aansienlik versterk het.
- 2. Amon
Ná Manasse se dood het sy seun Amon koning van Juda geword. Amon het slegs twee jaar regeer waarna hy deur sy eie dienaars doodgemaak is. Die rede hiervoor word nie genoem nie. Daarna het die volk die moordenaars gegryp en hulle almal doodgemaak. Hulle was heelwaarskynlik ʼn kliek. Die volk se optrede kan as ʼn gehegtheid aan die huis van Dawid gesien word. Amon is in die tuin van Ussia te ruste gelê waar Manasse ook begrawe is.
- 3. Josia
Die volk het Josia in die plek van Amon koning gemaak. Hy was slegs agt jaar oud en is deur kundiges bygestaan. Toe Josia 16 jaar oud was, het hy hom tot God bekeer. Hy sou vir die res van sy lewe doen wat vir God reg was. Voor hom was daar geen koning soos hy nie. Hy het die weg van sy vader Dawid bewandel en nie links of regs daarvan afgewyk nie. Josia het volgens die wet van Moses regeer en selfs bo sy oupa (Hiskia) uitgeblink!
5. Die hervormer
Josia was ʼn hervormer soos sy oupa. In die 12e jaar van sy regering het hy begin om Juda te reinig deur die hoogtes, heilige boomstamme, sonpilare, vreemde altare en beelde te vernietig. Hy het selfs die gruis van die gemaalde beelde oor die grafte van diegene wat aan hulle geoffer het, laat strooi! Daarna het hy ook die beendere van die priesters laat opgrawe en verbrand.
Josia het sy hervormingswerk selfs na die eertydse gebied van die ou tienstammeryk uitgebrei. Sy oupa het Israel destyds met min welslae probeer bekeer (2 Kron.30:1,10,11). Josia kon dit beter doen omdat die Assiriese mag begin kwyn het. Josia het heelwaarskynlik geglo dat die tienstammeryk herstel kon word.
In die 18de jaar van sy regering het hy met reiniging en herstelwerk aan die tempel begin. Dit was ʼn groot taak omdat die verontreiniging groot van omvang was. Die Baäldiens moes in die geheel vernietig word. Josia het die beeld van Asjera wat Manasse in die tempel geplaas het, in die Kidronvallei verbrand. Daarna is al die afgodspriesters doodgemaak en is tempelprostitusie verban. Benewens talle ander streng optredes in sy eie land, het Josia ook afgodstekens in die stede van Samaria vernietig en afgodspriesters uitgeroei.
6. Die wetboek word gevind
Tydens die opruiming van die tempel is die wetboek van God gevind. Hierdie fonds het Josia verder aangespoor om streng teen afgodery op te tree. Hy het die voorskrifte van die wetboek met die gedrag van sy voorgangers vergelyk en besef dat God baie kwaad vir Juda moes wees. Hy het ʼn kommissie na die profetes Hulda gestuur om te verneem of God hulle nog genadig kon wees. Sy het hulle meegedeel dat God inderdaad kwaad was en Juda gaan straf. Dit sou eers ná Josia se dood plaasvind.
Daarna het Josia al die oudstes van Juda by die tempel byeen laat kom en die wetboek aan hulle laat voorlees. Hy het by hierdie geleentheid ook die verbond met God hernuwe. Daarna het die volk besluit om die voorskrifte van die wetboek na te volg en God se gebooie te bewaar. Dit was die begin van die uitroei van afgodery.
Toe het Josia die pasga laat vier. Dit was die grootste viering daarvan sedert die dae van die Rigters. Die plan en uitvoering van die pasga het hoofsaaklik van die koning uitgegaan. Hy het die priesters aangespoor en versterk omdat hulle, net soos in die dae van Hiskia, nie meer so toegewyd soos die Leviete was nie (2 Kron.29:34). Die offerdiere het uit Josia se kudde gekom. Hierna het die fees van die ongesuurde brode gevolg.
7. Die dood van Josia
Josia het 31 jaar lank in Jerusalem regeer en was maar ‘n skamele 39 jaar oud toe hy in ʼn skermutseling met farao Nego gedood is. Die oorsaak van die oorlog word nie vermeld nie. Nego was heelwaarskynlik oppad na Assirië toe Josia hom wou verhoed om verder te gaan. Hy het Josia egter vooraf gewaarsku om hom nie teen te staan nie waarna Josia by Megiddo gedood is. Daarna is hy in die graf van sy voorsate in Jerusalem begrawe. Die tyd was ryp vir die vervulling van die profetes Hulda se woorde!