Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al is die rede vir jou pyn wat jy nou ervaar slegs sodat jy kan verstaan waardeur ander mense gaan wat dalk vorentoe jou pad sal kruis, dan is dit genoeg rede om jou eie pyn te verduur.
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (68)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 17
DIE EINDE VAN JUDA
II KON 23-25
1. Joahas koning van Juda
Josia het vier seuns gehad. Alhoewel Sallum nie die oudste was nie, het hy koning word en die troonnaam Joahas aangeneem. Hierdie naam kom ook by Israel se konings voor. Die volk het hom koning gemaak omdat hy die anti-Egiptiese politiek van Josia sou laat voortduur. Nego het nie daarvan gehou nie en Joahas laat vang en hom na sy hoofkwartier in Ribla, tussen Hamat en Damaskus, gebring.
Daarna het Nego vir Aljakim, ‘n ouer broer van Joahas, koning van Juda gemaak. Nego het die mag gehad om die koningskap van Joahas ter syde kon stel en ‘n ander man koning te maak. Daarna het hy Juda ‘n swaar boete opgelê. Alhoewel Joahas maar kort regeer het, word daar gesê dat hy goddeloos was.
2. Jojakim koning van Juda
Nego het die naam van sy vasaal na Jojakim verander. Hy was 11 jaar lank aan Egipte onderdanig en het in Jerusalem regeer totdat Nebukadneser vir Nego verslaan het. Jojakim se eerste taak was om die boete bymekaar te maak. In plaas van tempel- en paleisskatte te gebruik, het hy ‘n grondbelasting op al sy burgers gehef om die boete mee te betaal.
Nadat Nego verslaan is, het Nebukadneser mag oor Sirië en Palestina verkry. Jojakim sou drie jaar lank aan hom onderdanig wees. Nebukadneser het hom egter nie goed behandel nie en by geleentheid in koperkettings saam met ‘n klomp tempelskatte na Babel laat bring. Hy het toe alreeds ‘n hele klompie jong Judese manne na Babel weggevoer. Daniël was onder hulle (Dan.1 :1-6).
Jojakim is later vrygelaat en het drie jaar later kans gesien om teen Nebukadneser in opstand te kom. Hierdie opstand het heelwaarskynlik verband gehou met die ander opstande wat Nebukadneser in sy ryk die hoof moes bied. In hierdie tyd is Juda deur bendes geteister. Hulle was ‘n tugroede in God se hand; alles die gevolg van Manasse se onheilige lewenswandel. Daarna het Nebukadneser opgetrek en Jerusalem beleër.
Jeremia was die vernaamste profeet in hierdie tyd. Jojakim het nie na hom geluister nie en hom selfs met die dood gedreig. Uria, ‘n ander profeet, het na Egipte gevlug toe Jojakim hom probeer doodmaak het. Hy is egter agtervolg en vermoor. Toe die gesproke woord nie meer help nie, het God aan Jojakim ‘n geskrewe woord gestuur. Toe die boekrol aan Jojakim voorgelees is, het hy dit stukkend gesny en in die vuur gegooi.
Kort hierna is Jojakim oorlede. Van sy dood word niks gesê nie. Hy het egter nie ‘n eervolle begrafnis gehad nie, maar ‘n eselsbegrafnis. So ‘n persoon is nie begrawe nie, maar buite die stadspoorte laat lê om soos ‘n karkas te vergaan. Daarna het sy seun Jojagin koning geword.
3. Jojagin koning van Juda
Jojagin het baie kort regeer. Toe hy koning word, was Jerusalem alreeds deur Nebukadneser beleër. Jojagin het ná ʼn bietjie meer as drie maande oorgegee waarna hy en 10,000 van die room van die land na Babel weggevoer is. Dit was die begin van die ballingskap. Esegiël was onder die ballinge. Daniël was toe alreeds weggevoer. Nebukadneser het al die skatte van die paleis en tempel geroof. Dit het al die goud wat Salomo vir die tempel gebruik het, ingesluit ( Jer.27:18-22). Jerusalem is egter nie verwoes nie. Nebukadneser het al die arm mense in die stad laat agterbly en Sedekia koning oor hulle gemaak.
Toe Nebukadneser 37 jaar later deur sy seun Evil-Merodag opgevolg is, het dié Jojagin uit die tronk vrygelaat en hom ʼn lewenslange pensioen betaal. Tydens opgrawings wat baie jare gelede in Irak gemaak is, is die kleitablette gevind waarop die lewensmiddele wat vir Jojagin en sy vyf seuns bestem is, beskryf is.
Omdat Jojagin op ʼn ouderdom van 18 jaar weggevoer is, kan aanvaar word dat al sy seuns in ballingskap gebore is. Hy was dus nie in eensame opsluiting nie! Hy en sy huishouding was heelwaarskynlik iewers in gebiedsarres. Josef, die aardse vader van Christus, is volgens Mt.1 ‘n afstammeling van Jojagin.
- 4. Sedekia die laaste koning van Juda
Sedekia was ʼn oom van Jojagin en as Mattanja gebore. Nebukadneser het sy naam na Sedekia verander. Sy moeder was Hamutal, ʼn vrou met ʼn sterk persoonlikheid. Esegiël noem haar selfs ʼn leeuwyfie! Sy was met Josia getroud. Sebudda, die moeder van Jojakim, was Josia se ander vrou; ʼn stammoeder van Christus.
Sedekia was goddeloos. Esegiël beskryf sy bose optrede in harde woorde. Hy was egter ʼn swak karakter wat by geleentheid selfs vir Jeremia uit die tronk laat haal om hom raad te vra. Daarna het hy die profeet met die dood gedreig indien hy daarvan sou praat! Alhoewel Nebukadneser met Sedekia ʼn verbond gesluit het, het Sedekia later teen hom in opstand gekom. Hy was die jong leeu uit Juda van wie Jakob geprofeteer het (Gen.49:9). Christus is ook later die Leeu van Juda genoem (Openb.5:5).
In die vierde jaar van sy regering het die gesante van vyf konings (Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon) Sedekia besoek. Hulle wou almal van Babel vrykom in ʼn tyd toe Babel binnelandse moeilikheid ondervind het. Valse profete het ʼn komende bevryding begin verkondig waarna Jeremia hulle tereggewys het dat hulle lieg.
Van die buitelandse gesante se planne het daarna niks gekom nie. Nebukadneser het van die valse profete onder die ballinge gehoor en hulle swaar gestraf (Jer.29:21-23). Daarna het Sedekia ʼn paar gesante na Babel gestuur om die koning van sy trou te verseker. Hy was moontlik self daar (Jer.51:59).
Intussen het daar in Jerusalem ʼn gees van opstandigheid ontstaan wat Sedekia meegevoer het. Jeremia het hom gewaarsku om hom nie teen Babel te verset nie. Sedekia het nie geluister nie. Daarna het Nebukadneser besluit om eens en vir altyd met Juda af te reken en Jerusalem beleër. Toe Egipte ook in opstand kom, het Nebukadneser die beleg eers onderbreek en met Egipte gaan afreken. Daarná is die beleg teen Juda hervat.
Jerusalem was in groot ellende toe daar hongersnood kom en ʼn pes-epidemie uitbreek (Jer.19:9; 38:2; Eseg.4:16; Klaagl.4:8,10). Lyke het in die strate bly lê sonder dat dit begrawe is. Toe die Babiloniërs deurbreek, het Sedekia en sy bevelhebbers gevlug. God het hom egter in die hand van Babel oorgegee en sy hele leër verstrooi (Eseg.12:13).
Hierna is Sedekia na Nebukadneser in Ribla gebring om gevonnis te word. Hy is egter nie doodgemaak nie, maar moes aanskou hoe sy seuns voor hom geslag word. Sedekia was self net 32 jaar oud. Gevolglik was sy kinders maar klein. Die slagting was die laaste ding wat Sedekia ooit sou sien omdat sy oë daarna uitgesteek is en hy in die tronk gegooi is waar hy later dood is.
Nebukadneser het ook die mense van Juda vir hul opstand laat boet. Al die hooggeplaastes is in Ribla tereggestel en die res in ballingskap weggevoer. Hierdie tweede wegvoering het in die 18de jaar van Nebukadneser plaasgevind. Jeremia was aanvanklik onder hulle, maar is spoedig vrygelaat (Jer.39).
Toe het die Babiloniërs al die tempelskatte geroof. Dit was so baie, dat dit nie geweeg kon word nie! Ook die tempel en al die groot huise van Jerusalem is verwoes. Om alles te bekroon, is die stadsmure ook omgegooi waarna die koninkryk van Juda tot ʼn einde gekom het.