Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die bekende uitdrukking "dit is wat binne jou gebeur wat saakmaak, nie wat rondom jou gebeur nie", vind gestalte in Spreuke 15:15 as die digter skryf: "Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees".
STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (72)
DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
die boek DANIëL
LES 1
DANIëL IN BABEL
DAN 1-2
1. Daniël aan die koninklike hof
Daniël is gedurende die regering van Jojakim saam met ʼn aantal jong seuns van edele afkoms na Babel weggevoer (2 Kron.36:5,6). Nebukadneser het ʼn paar van hulle as paleisdienaars laat oplei onder wie Daniël, Hananja, Misael en Asarja was. Hy het hulle name laat verander en aangesê om van sy kos en drank te gebruik. Hierdie opdrag het die vier jongmans teen die bors gestuit omdat hulle gelowiges was en die voedsel en drank aan afgode gewy is.
Daniël en sy vriende het hulle voorgeneem om nie daarvan te nuttig nie en trou aan God te bly. Al was die dinge waaraan hulle getrou was aan die uitwendige kant van die godsdiens, het hul weiering om aan afgodiese voedsel en drank deel te hê, hul geestelik versterk en tot besondere godsvrug gelei.
Die vergunning van ʼn proeftyd om net groente en water te gebruik, het goeie gevolge gehad. Hulle was baie gesonder as die ander ballinge wat wel van die koning se voedsel gebruik het. Omdat hulle aan God getrou was, het Hy hulle met uitsonderlike verstand geseën sodat hulle slimmer as al die ander was. Dit het aan hulle ʼn ereplek aan die koninklike hof besorg.
- 1. Nebukadneser se droom
Daniël en sy vriende het ʼn groot indruk op die geleerdes en towenaars gemaak toe hy die droom van Nebukadneser verklaar het. Nadat Nebukadneser die droom gehad het, wou hy by sy towenaars weet wat die droom en die uitleg daarvan was en het hulle selfs met die dood gedreig. Net voordat hulle tereggestel is, het Daniël aan Ariog, die teregstellingsbeampte, ʼn slim antwoord gegee wat die teregstelling uitgestel en die lewe van die wyse manne gespaar het. God het aan Daniël die droom bekend gemaak.
Daarna het Daniël voor Nebukadneser verskyn en die droom met sy uitleg aan hom bekend gemaak. Dit was geen droom in die ware sin van die woord nie, maar ʼn Goddelike openbaring. Die Babiloniese ryk het met die koningskap van Nebukadneser het ʼn hoogtepunt bereik. Ná hom sou daar iets gebeur wat die verloop van sake en die bestemming van die wêreld sou bepaal.
Die skrikwekkende beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het, het die geskiedenis van die wêreld volgens sy tydvakke voorgestel. Die hoof was van goud. Dit was Nebukadneser self. Die bors van silwer stel ander koninkryke voor. Die buikgedeelte was van koper, die bene van yster en die voete gedeeltelik van yster en klei wat nie wou meng nie. Die wêreldse magte was dus aan die kwyn!
Sonder die toedoen van mense het iets van buite af gekom; ʼn klip wat die beeld getref en verbrysel het sodat dit in sy geheel verdyn het asof dit nooit was nie. Die klip self het die hele aarde vervul. God sou ’n ander koninkryk verwek wat onvernietigbaar was en al die ander koninkryke vernietig. Dit sou vir ewig staan omdat dit geheel en al anders as die aardse koninkryke sou wees. Dit was die koninkryk van God wat ʼn einde aan alle aardse glorie sou maak en oor almal triomfeer.
Daarna het Nebukadneser aan Daniël eer bewys en hom oor die provinsie Babel aangestel. Daarbenewens is hy ook hoof oor die wyse manne gemaak en het sy metgeselle almal goeie poste bekom. Hyself het aan die koninklike hof gebly.
- 2. Die goue beeld
Daarna het Nebukadneser, gedagtig aan die beeld van sy droom, ʼn reusagtige goue beeld laat maak. Met die inwyding daarvan moes al die teenwoordige hoogwaardigheidsbekleërs op ʼn sekere teken die beeld aanbid. Wie geweier het, is in die brandende vuuroond gegooi. Hierdie oond was bo oop sodat veroordeeldes binne ingegooi kon word. Onder was ʼn ysterhek (deur) sodat mense binne-in kon sien.
Toe Daniël se drie vriende die bevel oortree is hulle by die koning aangekla. Omdat hulle hooggeplaaste amptenare was, het haat en jaloesie ʼn groot rol in die aanklag gespeel. Daniël was om een of ander rede nie teenwoordig nie. Sy drie vriende is tot verantwoording geroep waarna hulle volstrek geweier het om voor die beeld te kniel.
Die trou van hierdie drie jong manne aan God het Nebukadneser woedend gemaak waarna hy die oond tot sewe maal warmer laat maak het. Die hitte was so geweldig dat dit die teregstellingbeamptes wat die drie gelowiges in die oond moes gooi, doodgebrand het! Dis juis hier waar die wonderwerk begin het. Die drie gelowiges val lewend in die oond en stap daarin rond sonder om dood te brand! Hulle was nie eens meer geboei nie. Dan merk Nebukadneser ʼn vierde man by hulle op wat soos ʼn godeseun lyk.
Hierna het die verbaasde koning hulle na buite geroep en die hand van God in hierdie skouspel erken. Nou was hulle weer net drie. Die engel was weg - die sigbare teken van God se bemoeienis met getroue diensknegte. Hy was alreeds by hulle nog voordat Nebukadneser hom gewaar het! God kon sonder die tussenkoms van ʼn engel die reddingsdaad uitgevoer het, maar Hy wou nie. Hy wou die manne in die teenwoordigheid van die engel gerusstel. God is nooit ver van gelowiges in hul nood nie. By nadere ondersoek het geblyk dat hulle geen letsel gehad het nie en selfs nie eens na rook geruik het nie!
Soos met die uitleg van die vorige droom, was Nebukadneser weereens met die gelowige ballinge beïndruk. Hy het selfs ‘n opdrag gegee dat God vereer moes word. Almal wat geweier het, sou hul lewens verloor en van hul huis ʼn mishoop gemaak word.