Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alles in ons land is bedorwe; politiek, kerk, kultuur, handel, ja, alles! Nêrens gaan dit beter as in die verlede nie. Dis die gevolg van die Christengrondwet wat met ʼn sekulêre een vervang is en die Tien Gebooie met ʼn Handves van menseregte! Dit laat ʼn mens aan die woorde van Ps.2 dink: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (:2,3). Suid-Afrika het met iets anders as die nag donker geword!
HET KRUISTEKENS PLEK IN CHRISTENE SE LEWE?
Ds AE van den Berg
KRUISE EN KRUISTEKENS
Eseg.8:13-18; 2 Kor.5:11-21
Die rede waarom kruis-simbole vir die Christendom belangrik is, is dat dit gelowiges aan die kruisdood van Jesus herinner toe Hy die mens se sondes op Hom geneem het:
“Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem en ons smarte – die het Hy gedra, maar ons het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was, maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes.53:4-6)
Sedert die vroegste dae is kruis-simbole ook tydens duiweluitdrywing, genesing en seën gebruik. Baie van die ouer kerkgeboue is selfs met die kruis as grondplan opgerig en het as kruis-kerke bekend gestaan. Die kruis-simbool is ook eie aan die Gereformeerde tradisie.
Kruise is baie gewild as juweliersware en die dra daarvan neem opvallend toe. Is dit vir ’n gelowige geoorloof om dit te dra? Ja, slegs indien dit vir godsdienstige redes gedra word en die draer daarvan vir die wêreld wil sê dat hy/sy aan Jesus Christus behoort en nie as blote versiering nie. As die kruis nie in die hart is nie, moet dit nie om die nek hang nie, want dis bedrog - so ’n persoon laat mense glo dat hy ’n kind van God is!
Die dra van kruis-simbole is Rooms van oorsprong. Die Roomse Kerk (RK) moedig lidmate nie aan om kruis-simbole te dra om die aandag op die pyn en lyding van Christus te vestig nie, maar as vroomheid-simbool vir die armes. Baie Roomsgesindes glo dat so ’n kruis wonderkrag het. As jy swaar kry, sal die kruis jou help om jou eie persoonlike lyding draagliker te maak. Daarom hou hulle ook aan handkruise vas as hulle tot Maria bid.
In hierdie opsig verskil die Roomse kruis nie van ander afgodsimbole met sogenaamde magiese kragte nie. Ons moet duidelik tussen kultiese gebruike en evangeliese simboliek onderskei. Kultiese gebruike is gewoonlik afgodies ingeklee terwyl evangeliese simboliek die Bybel as fondament het.
Die kruis is nie oorspronklik ’n Christelike simbool nie, maar Babilonies van oorsprong en as ‘n simbool ter ere van Tammuz wat as songod aanbid is ontwerp (Eseg. 8:13-18). Dis die tau genoem. Daarom het dit ‘n T-voorkoms. Tammuz was die buite-egtelike seun van Semiramis, die vrou van Nimrod, wat ’n priester na Nimrod se dood by haar verwek het. Nimrod was die kleinseun van Gam oor wie se nageslag ’n vloek uitgespreek is (Gen.9:24-27) en tot vandag toe nog in ’n dienskneg verhouding met die nakomelinge van Sem en Jafet staan.
Nimrod was die eerste koning op aarde en was opstandig teen God. Hy het Babilon laat bou asook die omstrede toring van Babel waarvan Gen.11 melding maak. Toe hy gewelddadig sterf, het sy weduwee, Semiramis, wat in Babilon as hemelkoningin aanbid is, van ’n priester swanger geraak en die mense in Babel vertel dat sy deur die gees van haar ontslape man bevrug is. Almal het haar geglo en so is Tammuz gebore.
Daarna het Semiramis hom tot amptelike songod verklaar, met haar as koningin. Sy is wyd en syd vereer, selfs in Israel in tye van geestelike verval: “Die kinders maak hout bymekaar en die vaders steek die vuur aan en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin…om My te terg” (Jer.7:18).
Om Tammuz te vereer, het Semiramis vir hom ’n simbool ontwerp wat die vorm van die eerste letter van sy naam aangeneem het – T (die mistieke tau teken). Hieruit het alle kruis-simbole ontstaan en hoofsaaklik van hout gemaak. Kruise is later ook vir die teregstelling van slawe, mense van laer stand asook enigeen wat nie ’n Romeinse burger was nie, gebruik.
Die ou Babiloniërs het ook menslike offerandes vir Semiramis gebring en babas daarvoor gebruik. Die kruisteken is in ’n kindjie se bors gesny waarna die hartjie verwyder en die oorskot met vuur verbrand is.
Hierdie Babiloniese moeder-kind aanbidding het daarna na talle lande versprei en later ook die Christendom deur Roomse Katolisisme binnegedring en vir meer as 1200 jaar oneindige skade veroorsaak. Die Maria-en-Jesus beelde is in der waarheid niks anders as moderne weergawes van Semiramis en Tammuz nie. Let op Roomse skilderye wat sg. heiliges met stralekranse bo die kop uitbeeld. Waarom is dit so geskilder? Omdat dit die teken van die songod was en songod aanbidding uit Babilon kom. Die teken is net so deur die RK oorgeneem. Afbeeldings van die kruis wat deur hulle gebruik word, het ook dikwels ’n son daaragter. Dis alles songod verering! Die Bybel verbied ons om die sienlike i.p.v. die onsienlike te aanbid (Ex.20).
Die ou Egiptenare het ook ’n kruis in hul afgodsaanbidding gehad. Toe die Spanjaarde 700 jaar gelede in Mexiko kom, was hulle verbaas om ’n kruis-simbool onder die inboorlinge te vind, ’n nasie wat nog nooit van die Evangelie gehoor het nie.
Die kruis-simbool is minstens 1 500 jaar ouer as die Christelike kerk en deur talle heidennasies gebruik. Die Kelte het byvoorbeeld die kruis lank voor die geboorte van Christus al geken. Die Spanjaarde was verbaas toe hulle in die tempels van Anahuak in Mexiko kruis-simbole gevind het, so ook in ander Suid-Amerikaanse lande.
Dr. Austen Layard wat in die laat 1800’s in Mesopotamië opgrawings gedoen het, het bevestig dat die Babiloniese tau ‘n kruisvormige amulet was wat deur ingewydes soos ‘n hangertjie op die hart gedra is. In Egipte is dit die ankh genoem en is as teken op heidenpriesters se ampsgewade aangebring. Heidenkonings se ampsstaf was ook in die vorm van die ankh. Die tempelmaagde van oud-Rome het, net soos die Roomse nonne, die kruis sigbaar om die nek gedra.
Die vroeë Christelike kunsvorms het nooit enigiets van die kruisiging uitgebeeld nie. Die eerste uitbeelding daarvan binne kerkverband, het in die vyfde eeu plaasgevind toe ’n kruis op die houtdeur van ’n kerk in Rome uitgekerf is. Dit was die begin van kunssinnige uitbeeldings van die kruis. Daarna het die Roomse Kerk, omdat dit Babilonies van oorsprong is, allerlei ou Babiloniese afbeeldings oorgeneem en het die simbool van die kruis die ware Christendom binnegedring.
Is dit nodig dat ’n Christen tekens moet gebruik om sy Christenskap aan te dui? Moet ons optrede en getuienis nie hard genoeg spreek nie? Sommige raak selfs paniekbevange as hulle vergeet het om hul kruisie om die nek te hang! Hulle verbeel hulle dat hulle daardie dag ’n ongelukkige dag sal hê en aan bose dinge blootgestel sal wees. Beskerm die Here ons nie volgens Ps.91 ten alle tye nie?
Die maak van die kruisteken oor die bors is een van die opvallendste kenmerke van Roomsgesindes. Hulle doen dit instinkmatig. In die Roomse Kerk vind geen aanbidding daarsonder plaas nie en word vir geen ander rede as ‘n bewaringsteken teen bose magte gebruik nie. Dis ook Babilonies van oorsprong. Heidene wat by die verborgenhede ingelyf was, het die kruisteken as bewaringsteken teen bose magte gemaak.
Wanneer die Bybel van die kruis praat, verwys dit òf na die soenoffer van Christus of die kruis wat ons moet opneem om Jesus te volg, wat beteken dat ons standpunt vir Jesus moet inneem en bereid wees om vir ons geloof te ly.
In die Bybel word van die kruis as ’n vloekhout gepraat: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang” (Gal.3:13). Moet ons as gelowiges aan die kruis so ’n ereplek in ons lewens en aanbidding tot God gee? Wat is die kruis vir jou? ’n Gelukbringer, voorwerp van aanbidding, ’n amulet teen die bose? Pasop dat dit nie die plek van Christus inneem nie!
Die vroeë Christene het hul daarvan weerhou om Christus in sy staat van vernedering aan ‘n kruis voor te stel. Sy staat van verhoging en verheerliking as die opgestane Heiland en Oorwinnaar oor die dood was vir hulle baie belangriker. Daarom het die eertydse Christenkunstenaars niks van die kruisiging uitgebeeld nie. Die Roomse kruis spot in werklikheid met Christus omdat ‘n dooie Jesus daaraan hang. Dis tot ‘n godsdienstige voorwerp van beskerming verhoog wat dit nie durf wees nie.
Waarom kom die gebruik van die kruis deesdae so sterk na vore? Probeer mense Jesus deur die kruis vereer soos wat die Israeliete God deur die goue kalf vereer het? Miskien is dit nog ’n slenter van Satan om mense van die ware aanbidding van Jesus af weg te hou. Die enigste simboliek wat Christus aan gelowiges gegee het, is die doop en die nagmaal. Hou eerder daarby!