Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal moet soms op 'n ver afstand van die wêreld se gejaag staan sodat daar in stilte geluister kan word na wat binne die persoon afspeel. Dan leer mens om te luister na dít wat die oor nie kan hoor nie – ons orden ons waardes so, besin, beraam deurdagte planne, word verlig van innerlike spanning en druk, en droom so ons ideale sodat ons dit kan nastreef. Laat ons die Here vra om ons te help om genoeg stilte in ons lewens te kry sodat ons hierdie dinge kan doen.
VVV'S NET STORIES
IS DAAR LEWE IN DIE BUITENSTE RUIMTE?
Ds AE van den Berg
"Amerika spandeer jaarliks miljoene dollar belastinggeld op soek na tekens van lewe in die buitenste ruimte, maar spandeer nie ’n sent om na God te soek nie."
Miljoene mense glo dat daar intelligente lewe in die buitenste duisternis is, ’n geloof wat met bykans godsdienstige koors groei! Dit word aangevuur deur verhale van vlieënde pierings en mense se ontmoetings met ruimtewesens. Dan is daar ook nog rolprente en TV-reekse oor ruimtewesens (aliens) wat jaarliks biljoene dollar insamel!
In 1995 is daar selfs ’n Wêreldkongres van Vreemde Vlieënde Voorwerpe in Duitsland gehou. In ’n onlangse meningsopname in Duitsland het 17% van die Duitsers geglo dat ruimtewesens die aarde besoek en 31% dat daar lewe op ander planete is.
In 1900 het die Franse Akademie vir Wetenskap ’n aansienlike bedrag geld uitgeloof vir enigeen wat met ’n buiteruimtelike beskawing kontak kon maak. Sedertdien is daar nog geen spoor van enige groen mannetjies of enige planetêre lewe gevind nie. Wetenskaplikes soek al langer as ’n eeu tevergeefs na enige tekens van buite-ruimtelike lewe. Selfs die duisende frekwensies wat daarvoor ingespan word, het nog geen ware teken van lewe opgespoor nie.
Lewe op ander planete sou slegs moontlik wees indien ’n planeet die regte afstand van die son af is – nie te warm of te koud nie, en water het. Die grootste probleem is afstand. Ons naaste ster is Proxima Centauri, miljoene kilometer weg. Dit het die Apollo-maantuie drie dae geneem om die maan te bereik. Teen dieselfde spoed sal dit ’n ruimtetuig 870,000 jaar neem om ons naaste ster te bereik!
Navorsing toon dat 90% van alle VVV wat gesien word, stories of natuurlike verskynsels was. Oor die res heers daar onsekerheid gewoonlik sonder uitsluitsel. Ondersoek het verder getoon dat mense wat nie kerk toe gaan nie maar sê dat hulle wel godsdienstig is, vatbaarder vir buiteruimtelike fantasie is. Vir baie het “UFOlogy” as’t ware ’n plaasvervangende godsdiens geword.
Die naaste wat die Bybel aan buiteruimtelike wesens kom, is die engele in die hemel. Hulle is kragtige wesens wat God dien en selfs sy wil op die aarde kom uitvoer: “...want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë” (Ps.91:11).
Dan is daar ook Satan. Paulus noem hom ”die owerste van die mag in die lug” (Efes.2:2). Sy heerskappy is slegs tot die aarde beperk. Hy het sy eie repertoire van misleiding in die vorm van okkultiese praktyke en bose rituele. Gevolglik is dit baie moontlik dat Satan as die meester-misleier agter hierdie onverklaarbare VVV verslae sit! Mense wat Jesus nie ken nie, word maklik deur hierdie onverklaarbare dinge beïndruk en selfs begeester.
Pasop vir misleiding! “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pasop dat niemand julle mislei nie” (Mt.24:4). Hoe kan dit verhoed word? “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel…wat die woord van die waarheid reg sny, maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy…” (2 Tim.2:15,16). Kortom: Bestudeer die Bybel dan sal jy weet wat waarheid en wat leuen is.
Die Bybel raak nie die vraag na buiteruimtelike lewe direk aan nie. Dit sê wel dat engele, mense en diere die enigste wesens is wat God geskep het. Ons moet ook daarop let dat die sterre en planete nie miljoene jare voor die aarde geskape is soos sommige geleerdes beweer nie. Die aarde is vóór enige ster of planeet geskep! Die aarde is op die eerste dag van die skepping gemaak. Die son, maan en sterre eers op die vierde dag. Dit maak die aarde uniek, daarom beklee dit die hoogste sport in God se skepping. Die lot van die heelal, ja, elke ster en planeet is met God se tydtafel vir die mensdom op aarde verbind.
Christus sal na die aarde terugkeer om die laaste hoofstuk in die mens se verlossing te skryf: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan….” (2 Pet.3:9,10).
Ná die oordeel sal alle hemelliggame saam met die aarde vernietig word. God bemoei Hom slegs met aardbewoners. Indien daar elders lewe is, sou dit baie onregverdig van Hom wees om hulle vir aardbewoners se ongehoorsaamheid te straf. En dis mos nie hoe gelowiges God ken nie! Daar is net een oplossing: Buiten mense, engele en diere is daar geen ander lewende wesens nie.
Adam se sonde het die hele skepping geraak:” ...want die skepping is aan die nietigheid onderworpe …Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Rom.8:20,22).
Waarom het God dan so ’n onnaspeurlike groot heelal slegs vir mense op die aarde geskep? Sodat die mens daardeur tyd kon hou en rigting bepaal. Die Bybel sê dat God die son, maan en sterre gemaak het om die mens te help: “….en laat hulle dien as tekens sowel as vaste tye, asook vir dae en vaste jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel….om lig te gee op die aarde…” (Gen.1:14,15). Mense het kalenders opgestel deur die beweging van hemelliggame op te stel en seevaarders die sterre gebruik om rigting te bepaal. Daarom het God die sterre vir die mens op aarde gemaak en nie vir fabelagtige buiteruimtelike wesens nie.
Nog ’n rede vir die skepping van die heelal, is om die Skepper te verheerlik: “Die hemele vertel die eer van God en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Ps.19:2). Elke gelowige weet dat die hemelruim groot en wonderlik is, maar God nog groter: “O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele…As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers….” (Ps.8:2,4). Wie deur die grootheid van die heelal aangegryp word, moet eerder aan God se grootheid dink en nie deur verhale van buiteruimtelike wesens aangegryp word nie.
Die Bybel leer nêrens van bykomende lewe in die heelal nie. Alhoewel God daartoe in staat was, is dit uit die Skrif duidelik dat Hy nie wou nie. Daarom het Hy die mens na sy Beeld geskape. Hierdie verbintenis is so ’n uniek dat Hy selfs engele gebruik om mense te help. Dit maak van die mens die middelpunt van belangstelling in hierdie onmeetlik groot uitspansel!
Let gerus op 6:4: “In die dae was die reuse op die aarde en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mens ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het…” In Hebreeus word die seuns van God nephilim genoem. Talle mense glo dat hulle uit die buitenste ruimte afkomstig was.
Die Bybel leer ons dat lewe slegs deur skepping moontlik is. Al is daar ander sonnestelsels met planete naastenby soos die aarde, lewe dinge slegs daar waar die Skepper dit wil hê. As daar buiteruimtelike wesens was wat ons eendag sou besoek, moes hulle deur God geskep gewees het. Dan sou Hy iets daarvan in sy Woord gesê het en ons nie oningelig gelaat het nie.
Let op die Bybel - God het dan vir ons spesifieke besonderhede vir die toekoms gegee bv. rakende Jesus se wederkoms en al die tekens wat dit vooraf sal gaan. Johannes sien dat die heelal in die toekoms soos ’n boekrol opgerol sal word: “en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word…” (Openb.,6:14).
Indien God op nog planete lewe geskep het, sal hierdie eindgebeure outomaties ook hulle leefruimte vernietig want Adam se sonde raak die hele skepping. Waarom sal God diegene (as daar is) wat nie op die aarde is, dan ook straf?
Om die nephilim sonder meer as buiteruimtelike wesens te beskou, is ’n wilde siening. Job.38:7 sê dat die seuns van God engele is. Beteken Gen.6:4 dan dat engele letterlik omgang met aardse vroue gehad het? Dis nie moontlik nie, want in Mt.22:30 sê Jesus dat engele nie voortplant nie. Bose geeste kan wel in goddelose mans invaar en hulle liggame gebruik om ’n bose geslag op die aarde te vestig. “Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God en die aarde was vol geweld….En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens My besluit gekom….En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg” (Gen.6:11,13).
In Num.13:33 word die woord nephilim gebruik om die nasate van Enak, ’n reusagtige mens, aan te dui. Dit was nog steeds mense. Wat meer is, word seuns van God nie uitsluitlik vir engele gebruik nie, maar ook vir die kinders van Israel: “….Julle is kinders van die lewende God” (Hos.1:10).
Baie Gereformeerde teoloë meen dat die nephilim die nasate van Set was, ’n goddelike saadlyn wat met ’n goddelose saadlyn vermeng en ontspoor het. Die nasate van Set het hulle nie aan die geestelike inhoud van vroue gesteur nie, maar deur wellus gedryf, slegs na die uiterlike gekyk.
Uit die Woord van God is dit baie duidelik dat die aarde die as is waaromheen die hele skepping draai. Alles daar buite is vir God minder belangrik. Waarom sal dit vir die mens belangrik wees? Amerika spandeer jaarliks miljoene dollar belastinggeld op soek na tekens van lewe in die buitenste ruimte, maar spandeer nie ’n sent om na God te soek nie. “Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die Here soek, bly wees” (1 Kron.16:10). “Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek U aangesig Here!” (Ps.27:8).
Dit sou geen sin maak indien Jesus ook vir buiteruimtelike wesens gesterf het nie. Hy het dan juis aarde toe gekom en die menslike aard aangeneem sonder om sy Godheid te laat vaar. Die Bybel skets Jesus as ’n bruidegom wat op sy tyd sy kerk (bruid) kom haal om vir ewig in die hemel by Hom te bly. Jesus het nie verskeie bruide in die heelal nie, maar net een en sy is op die aarde. Almal wat Hom as Verlosser aangeneem het, is deel van hierdie bruid, ’n bruid wat nie na sterre en planete, maar eerder na die hemelse Bruidegom kyk!
- Ps.19:1-8 en 2 Pet.3:1-7