Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het jy geweet 'n hert ( 'n bergbokkie) het die instinktiewe vermoë om sy agterpootjie presies neer te sit waar hy sy voorpootjie optel? Daarom beweeg hy veilig op hoë rotse. "Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes" sê die Psalmdigter in hoofstuk 18. God laat ons oor duiseligwekkende dieptes veilig tree; in doodsgevaar is sy Hand oor jou; by Hom is ons veilig.
REÏNKARNASIE...
...FEIT OF FABEL?
Andrè van den Berg
Meer as een biljoen mense op aarde glo aan reïnkarnasie. Hulle glo dat ’n mens se gees ná sy afsterwe keer op keer in ’n ander liggaam hergebore word. Dit laat my so dink aan bande wat versool word! Wat sê die Woord van God oor reïnkarnasie? Hoegenaamd niks nie! Salomo sê in Pred.12:5 dat die mens na sy ewige huis gaan en die skrywer van die Hebreër-brief: “En net soos die mens bestem is om eenmaal te sterwe en daarna die oordeel” (Heb.9:27).
Nêrens in die Bybel is daar die geringste aanduiding van mense wat ’n tweede kans op lewe op die aarde gekry het nie. Jesus sê vir die misdadiger aan die kruis: “….vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43). Jesus sê nie vir hom dat hy ’n tweede geleentheid op die aarde gaan kry om reg te maak wat hy verbrou het nie. Die Bybel sê dat ongelowiges die ewige hel en gelowiges die ewige heerlikheid ingaan: “En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe” (Mt.25:46).
Die leer van reïnkarnasie is al vir duisende jare ’n gewilde leer onder heidene maar nooit vir gelowiges aanvaarbaar nie omdat dit die Skrif weerspreek. Reïnkarnasie is ’n baie ou geloof en is sentraal in die leer van Hindoeïsme en Boeddhisme. Dis selfs by moderne heidene soos die New Age beweging en spiritiste baie gewild. Christene twyfel geensins daaroor nie - reïnkarnasie is onbybels en niks anderste as ’n Sataniese misleiding weg van die Skrif nie.
Die enigste Skrifgedeelte wat enigsins in die rigting van reïnkarnasie sou kon dui, is Mt.17:10-12 waar Jesus Johannes die Doper met Elia verbind. Nogtans sê hierdie gedeelte nie dat Johannes ’n reïnkarnasie van Elia was nie maar dat hy ’n profesie van Jesaja kom vervul het sodat mense moes glo dat Jesus die langverwagte Messias is. Toe mense Johannes reguit gevra het of hy Elia was, het hy dit onomwonde ontken (Joh.1:21).
Alhoewel die Bybel die leer van reïnkarnasie nooit direk aanspreek nie, is dit duidelik dat dit wat die Bybel oor die lewe, dood en hiernamaals leer, nie met die leer oor reïnkarnasie versoenbaar is nie. Heb.9:27-28 is genoegsaam om enige moontlikheid van ’n reïnkarnasie uit die weg te ruim. “En net soos die mens bestem is om eenmaal te sterwe en daarna die oordeel”. Luister wat skryf Jakobus: …want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn” (Jak.4:14). Ons lewe is relatief bitter kort en uniek en word nie herhaaldelik oor en oorgelewe nie.
Dink ’n bietjie hieraan: Indien siele gereïnkarneer sou word, hoe sou mense waarvan ons in die Bybel lees die siele van mense wat al lankal dood was, kon herken? Samuel verskyn aan Saul en Moses en Elia aan Jesus op die berg van verheerliking. Moses was op daardie tydstip reeds 1500 dood en Elia 800 jaar! Indien reïnkarnasie plaasvind, sou hulle nie hul aanvanklike identiteit behou het nie en as ander mense geleef het!
Desondanks is daar gedurig mense wat na vore kom en beweer dat hulle vantevore geleef het. Boeke hieroor verkoop soos soetkoek! Een van die interessantste verhale is van ’n vrou wat beweer het dat sy eeue gelede as ’n barones in ’n Duitse kasteel geleef en ’n buite-egtelike verhouding met ’n werker gehad het. Toe haar man dit uitvind, het hy hulle laat vermoor en hulle liggame in een van die kasteelmure laat toemessel. Nadat sy die muur uitgewys het, is dit oopgekap en twee geraamtes daarin gevind!
Hoe is dit moontlik? Dis niks anderste as sataniese misleiding nie! Die vrou was waarskynlik met okkultiese dinge bedrywig en het ’n vorm van besetenheid ervaar waarin die Satan haar sekere dinge in die verre verlede wysgemaak het asof sy dit beleef het. Jare gelede het ’n Suid-Afrikaanse vrou, Joey Verwey, beweer dat sy vorige lewens gehad het. Sy was met okkultiese dinge bedrywig.
Hoe moet gelowiges oor bewerings van vorige lewens oordeel? Die belangrikste vraag wat ’n mens moet vra, is of sulke gedagtes eg is. ’n Mens se gedagte loop soms snaakse draaie met jou! “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer.17:9). Mense is so geneig om dinge verkeerd te verstaan en sal selfs dinge onthou wat nooit regtig gebeur het nie. Fantasie en drome word spoedig geglo terwyl dit in baie gevalle verbeelding is.
Kom ons let vervolgens op Johannes die Doper en Elia. Was hy dalk ’n reïnkarnasie van die groot profeet? In Mt.11:13,14 sê Jesus: “Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer. En as julle dit wil aanneem: hy is die Elia wat sou kom”. Jesus verwys hier na Mal.3:1: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor my uit sal baan….”
Wie is dié boodskapper? Die tweedelaaste vers in die OT antwoord: “ Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek” (Mal.4:5). Nou lyk dit asof die Here ’n uitsondering gemaak het en dat Johannes die Doper werklik ’n reïnkarnasie van Elia was. Nee, gelukkig nie, en vir die volgende redes:
Eerstens is die konsep van reïnkarnasie geheel en al vreemd aan die Skrif. Indien Johannes die Doper letterlik Elia was, sou dit ’n opwekking uit die dood en nie ’n reïnkarnasie gewees het nie. Om iets anders daarin te wil lees, kom op buikspraak neer. As mense self wil besluit oor wat die Skrif moet sê, buikspreek dit!
Lukas skryf in geen onduidelike taal oor Johannes die Doper se opdrag nie: “En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei” (Luk.1:17). Dis baie duidelik ’n Elia in die gees en nie in die persoon nie.
Johannes die Doper is die NT voorloper wat die weg moes aandui vir die koms van die Messias net soos wat Elia dit in die OT gedoen het in ’n tyd dat dit vir hom gevoel het dat hy die enigste in Israel was wat God gedien het.
Nog ’n punt wat ons nie moet miskyk nie, is die verheerliking op die berg. Dit gebeur na Johannes die Doper se dood. Elia verskyn aan Jesus en ’n paar dissipels. Dit sou nie moontlik gewees het as hy Johannes die Doper was nie, want dan sou hy as Johannes verskyn het.
Die mense in die tyd van Jesus het duidelik tussen Johannes die Doper en Elia onderskei al het sommige gewonder. Johannes identifiseer hom met die boodskapper van Jes.40:3: “’n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God!” Dié profesie kan op niemand anders as Johannes die Doper betrekking hê nie.
Elia het ’n belangrike rol in oud-Israel gespeel. Israel het in sy tyd geestelik so veragter dat hulle optrede nouliks van die heidene s’n verskil het. God het hom op die regte tyd gebruik om ’n kragtige keerpunt in Israel te bring. Die vuuroffer en slagting van die Baal-profete by Karmel is een van die uitstaande verhale van die ganse Skrif. Daarna het Israel in berou tot God teruggekeer.
Dieselfde ding gebeur in die tyd van Johannes die Doper. Hy het ook in ’n tyd van geestelike afval opgetree. Na Maleagi se laaste profesie het die stem van die profete vir 400 jaar stil geword omdat God niks meer vir sy volk te sê gehad het nie. Toe Johannes die Doper in die woestyn begin preek het, het mense daarvan gehoor en na hom gestroom omdat God weer gepraat het! Sy prediking het gemaak dat baie mense Jesus as Messias aanvaar het.
Johannes was nie ’n reïnkarnasie van Elia nie, maar ’n persoon wat ’n soortgelyke rol in ’n soortgelyke tyd kom vervul het. Sy identifisering met Elia was nie op die persoon van Elia gerig nie, maar op mense se reaksie op die rol wat hy, soos ’n Elia van ouds, vertolk het. Vir hulle wat in Jesus geglo het, was Johannes se rol net soos dié van ’n Elia van ouds. Die Jode wat Jesus verwerp het, wou dit nie aanvaar nie.
Reïnkarnasie is ’n leerstelling van Satan waarmee miljoene mense mislei word. Christene weet een ding: As die lewe eindig, begin die ewigheid. En daardie ewigheid is eens en vir altyd by Jesus.
Mt.11:1-14; 17:1-13