Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE behae het in die weë van 'n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou – Spreuke 16. Hierdie woorde geld ook vir 'n hele volk; en as ons volk nie vrede met ons vyande het nie soos dit vandag die geval is, dan het die HERE mos nie behae in die weë van die Afrikanervolk nie!
HET GOD NOG 'N PLAN MET ISRAEL?
Ds Andrè van den Berg
Mt.21:33-46:1 Pet.2:7-10
Daar word in verskeie godsdienstige kringe geglo dat Israel nog steeds die uitverkore volk van God is en ʼn beduidende rol in die laaste dae gaan speel. Hulle glo dat God nooit sy beloftes aan Israel opgeskort het nie en net voor die wederkoms van Christus vir ʼn grootskaalse bekering onder die Jode gaan sorg ten einde sy beloftes aan Israel na te kom.
Dis ʼn dwaling! Die Bybel leer dat die Christelike kerk die nuwe Israel is en dat God se beloftes op hulle van toepassing is. Mense wat die Skrifgedeeltes wat al vir 2000 jaar op die kerk betrekking het op die fisiese Israel van toepassing wil probeer maak, slaan die bal baie ver mis!
Christus waarsku die kerklui van sy tyd dat daar ʼn tyd gaan aanbreek dat hulle hul guns as uitverkore volk van God gaan verloor: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ʼn volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Mt.21:43). Hierdie volk kon net die Christendom wees en geen ander nie.
Met die koms van die Christendom is Joodwees nie langer aan vleeslike nie, maar aan geestelike standaarde gemeet: “Want nie hý is ʼn Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ʼn Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart , in die gees, nie na die letter nie...” (Rom.2:28,29).
In die oë van God het Joodwees op ʼn nuwe skepsel gedui, die wedergebore mens: “Want in Christus Jesus het nog die besnydenis nog die onbesnedenheid enige krag, maar ʼn nuwe skepsel” (Gal.6:15). Die fisiese besnydenis was vir die Jode die uiterlike teken van Joodwees, maar vir Christene waardeloos: “Want ons is die besnydenis, ons wat God in die gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (Fil.3:3).
As ʼn sondaar nie deur die Heilige Gees omgekeer word nie, sal hy nooit die hemel sien nie. Jesus sê vir Nikodemus: “.... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).
Daarmee het die Christendom ʼn radikale omwenteling in die teologie van die dag gebring - nie meer Israel na die vlees nie, maar Israel na die Gees. “... hulle is nie kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag” (Rom.9:8). “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).
Die kerkvaders het hierdie omwenteling geesdriftig verkondig. In hoofstuk 123 van sy dialoë skryf Justinus die Martelaar (130nC) as volg: “Christene is die ware Israel” en in hoofstuk 135 sê hy: “Christus is Koning van Israel en Christene is die volk Israel”.
In die gelykenis van die landbouers (Mt.21) is dit duidelik dat God die Jode as die volk van sy guns met ʼn nuwe volk gaan vervang nl. die kerk. “Die slegte mense – hy sal hulle ʼn slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee” (Mt.21:41). Hierdie slegte dood waarvan Christus praat, het Israel 36 jaar ná Christus se kruisiging met die verwoesting van Jerusalem in 70nC getref. Die geskiedskrywer Flavius Josephus beskryf hierdie treurspel in fyn besonderhede.
Die leierskap van die eerste Christelike kerk en meeste van die gemeentelede was Joods van geboorte. Toe hulle egter Christene word, het hulle die Sabbat en die wettiese sisteem van Moses nie verder onderhou nie en die dag van die Here, soos die Heilige Gees hulle oortuig het, op ʼn Sondag begin vier.
Die Jode was bevoorreg. Die langverwagte Messias het eerste na hulle gekom. Maar toe hulle Hom verwerp het, is die deure van die kerk ook vir nie-Jode geopen. Die Jode het nie ʼn spesiale roete na die hemel gehad nie. Beide Jode en nie-Jode moes uiteraard tot bekering kom en Jesus Christus as Verlosser bely alvorens hulle deel van die kerk kon word.
Paulus het tydens sy Sendingreise na die sinagoges gegaan om daar te preek en die Jode weereens eerste die geleentheid gegee om Jesus as Messias te aanvaar. Die meeste het nie. “Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is. Maar Paulus en Barnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene” (Hand.13:45,46).
Die Christelike kerk het as die nuwe Israel God se ewige guns ontvang: “Maar julle is ʼn uitverkore geslag, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry.... julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is...” (1 Pet.2:9,10).
Die uitdrukking: “.... uitverkore geslag, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk...” is ʼn uitdrukking wat vir die eerste keer aan die voet van Sinai vir die fisiese Israel gebruik is. “En julle sal vir My ʼn koninkryk van priesters en ʼn heilige nasie wees...” (Ex.19:6). In die NT gebruik Petrus vir Christene.
Israel was deur God uitverkore: “Want jy is ʼn volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees” (Deut.7:6). Maar toe Israel weier om Christus as Messias te aanvaar, is hulle uitgesluit en het hulle hul eie lot verseël waarna God se spesiale seëninge na die nie-Jode oorgegaan het.
Diegene wat glo dat Israel as volk aan die einde van tye ʼn groot rol gaan speel, haal graag Rom.9:26 aan om te probeer bewys dat God ʼn spesiale plan met die Jode het en dat dit anders as dié van die nie-Jode sal wees: “...en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie My volk nie! – daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God”. Israel gaan glo op ʼn ander manier gered word.
Nee, die Bybel het net een reddingsplan vir almal. “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here is tog Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom.10:12,13).
Toe die Jode as volk Christus verwerp het, is nie alle Jode van redding uitgesluit nie. Wie tot bekering gekom het, is wel gered. Hulle het geen nadeel teenoor die nie-Jode gehad nie, maar ook geen voordeel bo hulle nie. Die enigste voordeel wat hulle wel bo nie-Jode gehad het, was dat dit vir hulle eintlik baie makliker was om Jesus as Messias te aanvaar. Die Jode het die OT gehad en hulle op sy koms voorberei. Gevolglik het die Jode van die eerste Christelike eeu ʼn aansienlike voordeel bo nie-Jode gehad wat glad nie met die OT vertroud was nie.
Paulus bevestig die bestaan van ʼn nuwe Israel as hy aan die Kolossense as volg skryf: “... in wie julle ook besny is met ʼn besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop...” (2:11,12). Die besnydenis was die fisiese verbondsteken in die OT. Die doop is dié van die geestelike volk van God.
Die besnydenis is uitgedien: “Want in Christus Jesus het nog die besnydenis nog die onbesnedenheid enige krag, maar ʼn nuwe skepsel” (Gal.6:15). Wanneer ʼn Jood ʼn Christen word, staak hy die ou wettiese gebruike omdat hy ʼn nuwe skepsel is: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel.; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” ( 2 Kor.5:17).
In Christus ding geen volke met mekaar mee soos in die OT nie. Christene is God se uitverkore volk en kan van enige volk wees. Daarom lees ons in Openb.5:9: “Toe sing hulle ʼn nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak....” Openb.7:9 is gelykluidend: “Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ʼn groot menigte wat niemand kon tel nie, uit al die nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande”.
Ten slotte iets oor die Gog-Magog oorlog. God het in die OT ʼn belofte aan die fisiese Israel gemaak wat na baie eeue op die punt is om in vervulling te gaan. Hy sal met die Gog-Magog oorlog Israel ʼn opspraakwekkende oorwinning oor die vyandige magte gee. Dat die grondgebied van die Beloofde Land nie in vyandshande sal wees wanneer Christus op die wolke kom nie, is ʼn ewige belofte. Die Jode het Israel vir baie eeue verloor, maar sal dit nooit weer aan vreemde magte afstaan nie.
Hierdie herstel het in die 20ste eeu begin en op die totstandkoming van die staat Israel in Mei 1948 uitgeloop. Esegiël het dit 2600 jaar gelede al voorspel (Eseg.36-37). So ook die profeet Sagaria wat in ʼn profetiese gesig gesien het hoe die Jode na ʼn lang tyd van verstrooiing weer in Jerusalem deur hul eie mense regeer word (Sag.12-14).
Esegiël het egter ook voorspel dat ʼn konfederasie van vyandige volke Israel op ʼn stadium tydens ʼn bloedige oorlog gaan probeer vernietig, maar dat God sal ingryp en Israel laat wen (Eseg.38-39). Dit is die Gog-Magog oorlog.
Die Christendom, Judaïsme en Islam se leer van die eindtyd beskryf hierdie oorlog as ʼn beslissende wêreldgebeure. Met hierdie oorlog gaan ʼn deel van Rusland haar met Islamitiese volke verbind om Israel te probeer vernietig. God gaan, getou aan sy ewige belofte, hulle Self verslaan. Die Jode sal hulle egter nie tot Christus bekeer nie maar deur die Antichris laat verlei: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word.... die teenstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:3,4).
Namate die uurglas uitloop, word die beheer oor Jerusalem al hoe meer op die spits gedryf. Die Joods-Palestynse haatstryd stuur onafwendbaar op oorlog af. Israel se buurlande haat haar almal. Die Palestyne het gesweer om die stryd om Jerusalem nie te laat vaar alvorens hulle die stad van die Jode afgeneem het nie. Daarvoor geniet hulle die steun van Sirië, Irak, Iran en Egipte. Almal berei hulle vir oorlog voor. Iran is ongetwyfeld die grootste bedreiging omdat sy militêre sowel as ekonomiese bande met Rusland het en oor kernwapens beskik.
Van een ding moet ons egter wees - niks gebeur sonder God se wil op aarde nie. Hy is van die begin af aan die stuur van sake en sal dit tot aan die voleinding bly. Die Jode gaan God se ingrypende genade oor Israel sien, maar nie as volk tot bekering kom nie. Daarvoor het God die kerk as ʼn heilige Israel tot stand laat kom!