Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
BLOEDSONDES – FEIT of LEUEN?
Eseg. 18
Talle Charismatiese kerke leer dat daar so ʼn iets soos bloedsondes bestaan. Dis glo oorgeêrfde sondes wat kinders vir die sondes van voorouers laat boet. Hierdie leer is soos so baie ander leerstellings van die Charismatiese kerk ʼn gruwelike dwaling en van alle Bybelse waarheid ontbloot! Die Bybel is oor een ding baie duidelik: God dra die straf op sondes nie van die een geslag na die volgende een oor nie. Hy is ʼn liefdevolle en billike God.
Waar kom die Charismate dan aan hierdie dwaalleer? Hulle grond hul siening op subjektiewe, persoonlike waarneming i.p.v. die Bybel. As jy jou oog van God se Woord afneem, dwaal jy! Jesus waarsku: “.... julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).
Die siening oor bloedsondes is egter geen nuwigheid nie. Meer as 2,500 jaar gelede was daar alreeds ʼn debat rondom hierdie onderwerp wat in Esegiël 18 opgeteken is. En wat interessant is, is dat God self tot hierdie debat toegetree en die siening van bloedsondes as ʼn onwaarheid afgemaak het.
Hoe het die ou Jode bloedsondes beskou? Dat God die straf van ʼn oortreding of vergryp nie net op die oortreder plaas nie, maar ook op sy nageslag. Baie mense kan tot ʼn mate hul voorouers die skuld gee vir dinge wat in hulle lewe skeef geloop het, maar om hulle vir alles te verwyt asof dit ʼn bloedsonde is, gaan nie op nie.
In Eseg.18 maak God die Jode se siening van bloedsonde in geen onduidelike taal af nie. Dit strook geensins met die Bybelse sondeleer nie. In vers 2 vra God die Israeliete waarom hulle die gesegde gebruik: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword”. Hierdie gesegde het destyds die rondte gedoen asof dit die reine waarheid is. God sê vir die Israeliete dat dit nie waar is nie en verduidelik die kwessie waaroor dit gaan. Dit sal uiters onbillik van God wees om kinders vir ouers se sondes verantwoordelik te hou!
In vers 3 eis God dat Israel hierdie gesegde voortaan in hul gesprekvoering moet vermy: “dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie”. Hulle durf nie weer sê dat kinders die gevolge van hul ouers se sonde dra nie. Talle tekste in die OT sowel as die NT beaam dit. Elkeen dra sy eie las. God is ʼn regverdige God!
In vers 4 stel God die waarheid baie duidelik: Alle siele (mense) is syne. Die mens wat sondig, moet sterf. Dit beteken dat die een wat sondig gestraf word. Niemand word verplig om die gevolge van daardie persoon se straf te dra nie. Charismate glo dat bloedsondes sondes tot die dood toe is – wie daaronder gebuk gaan, beland in die hel! Dit strook nie met die Bybel nie. In Eseg.18:9 sê God iets belangrik oor die regverdige (gelowige) – hy sal lewe. Paulus skryf: “Want die geregtigheid van God word daarin openbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom.1:17). Dit as sulks trek ʼn streep deur die mite van bloedsondes!
In vers 13 praat God oor die onregverdige (ongelowige): “Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom”. Hy dra sy eie pak; nie die oortredings van sy voorsate nie, maar die sonde wat hy self begaan het. In vers 17 herhaal God hierdie gerusstellende waarheid: gelowiges word nie weens die ongeregtigheid van voorgeslagte veroordeel nie: “...hy sal nie sterwe weens die ongeregtigheid van sy vader nie, hy sal sekerlik lewe”.
Dan draai God die situasie om. Wat van ʼn gelowige vader met ʼn ongelowige seun? Kan hy vir sy seun se oortredings gestraf word? Dit gebeur soms dat ouers ʼn kind reg opvoed, maar dat hy op ʼn stadium, gewoonlik ná sy skoolloopbaan, handuit ruk. Kan sy ontsporing voor die deur van die ouers gelê word? Nee, as hulle werklik hul doopbeloftes nagekom en alles moontlik gedoen het om sondes hok te slaan, sal God hulle nie vir die kind se oortreding aanspreeklik hou nie. Maar dan moet hulle hande werklik skoon wees! Die gelowige ouers sal lewe en die bose kind sal omkom.
In vers 18 maak God dit duidelik waarom ʼn mens sterf: “Hy sal weens sy ongeregtigheid sterwe”. Wie sterf? Die onregverdige. Waarom? Weens ongeregtigheid (sonde). Wie se sonde? Sy eie!
Israel wat vas aan die mite van bloedsondes geglo het, was baie duidelik nie met God se antwoord tevrede nie en vra Hom waarom die seun nie die straf vir sonde saam met die vader kan dra nie? God antwoord hulle: “Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe!”
Israel was half verontwaardig oor die feit dat die seun nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, waarop God vir hulle sê dat dit onregverdig sal wees om hom vir sy vader se sondes verantwoordelik te hou. As hy regverdig teenoor God is, moet God ook regverdig teenoor hom wees.
In vers 20 maak God sy wil m.b.t. aanspreeklikheid duidelik: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” Israel moes nie twyfel nie - die sonde van die onregverdige is op hom. Niemand dra niks vir niemand nie. Elk dra sy eie las.
In vers 21-23 kom hierdie waarheid sterk na vore. God sê dat as iemand hom bekeer van sy sonde, hy sal lewe al het hy gesondig: “Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe”. Dis die waarde van bekering en die daaropvolgende sondeberou en belydenis. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Ps.103:12).
Johannes onderskryf dieselfde waarheid in sy eerste Sendbrief: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sonde te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9). Hoe spreek dit nie van God se liefde vir sondaars nie! “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?” (Eseg.18:23).
God geniet dit nie as iemand verlore gaan nie; slegs Satan. God verheug Hom saam met die engele oor elke sondaar wat hom bekeer: “So, sê ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer” (Luk.15:10). Geen sonde is so groot dat God dit nie kan vergewe nie. Nie eens moord nie, vra maar vir hom wat saam met Jesus aan ʼn kruis gehang het!
God wil hê dat ons deur die bekering en geloof vir ewig sal lewe. En hierdie bekering is ʼn bekering van jou eie sondes, nie ʼn ander mens s’n nie. Alles wat jy gesondig het, sal jou nie toegereken word indien jy tot bekering kom nie.
Let op vers 23 in die lig van die dwaling van bloedsondes – dit gaan hier nie om ʼn ander mens se sondes nie. Jy hoef net jou eie sondes te bely en jou daarvan te bekeer om by God regverdig te wees. Jy hoef niks anders as dit te doen nie. Jy hoef nie in sak en as te gaan sit en allerhande rituele uit te voer om van bloedsondes ontslae te raak nie. Nee, jy bekeer jou net, bely jou sondes en die greep van Satan sal verdwyn.
Vers 24 waarsku geregverdigde sondaars om hulle nie aan heidense gruwels skuldig te maak nie. Wie dit doen, kanselleer as’t ware God se genade in sy lewe en sal in die ewige verdoemenis beland.
In verse 26-28 som God dit weer op – wie sy geregtigheid versmaai en onreg doen, sterf ten gevolge daarvan. “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om die weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb.6:4-6). Oor een ding is die Bybel baie duidelik: As die ongelowige hom van sy goddeloosheid bekeer, sal sy siel gered word. Dit gaan dus uitsluitlik oor wat elkeen met sy eie lewe doen – ons is slegs vir ons eie dade verantwoordelik.
In vers 29-32 sê God vir Israel dat hulle Sy wil moet doen en ophou om die leuen te glo dat die kinders vir die sonde van die vaders sal ly. In vers 30 sê Hy uitdruklik dat Hy elkeen volgens sy eie weë geoordeel word. Dit plaas ons daaglikse handel en wandel onder die loep. Dit wat ons elke dag dink, sê en doen is dit waaroor ons eendag verantwoording sal doen. “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Die Woord sê dat die mens verantwoording gaan doen vir elke woord wat hy gespreek het. Ons gaan nié verantwoording doen vir wat ons oupas en oumas gedoen het nie. Die Bybel het geen opdrag dat jy jou moet bekeer van jou weë en dié van jou voorouers nie. Elke mens is net vir sy eie dade aanspreeklik.
Maar wat maak ons met Ex.20:5? “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ʼn jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat”. Is dit nie ʼn moontlike aanduiding van bloedsonde nie? Nie as hierdie vers binne sy verband gelees word nie. Dit gaan hier om die tweede gebod teen afgodery met die klem op die woorde ”.... van die wat My haat”.
Wie afgode dien, haat God. Ex.20:5 is ook ʼn waarskuwing aan ouers wat met afgodery omgaan. Indien hulle dit nie los en tot die Here bekeer nie, sal dit ʼn uitwerking op hul nageslag hê. Kinders volg maar gewoonlik in hul ouers se voetstappe. Ouers se lewens is die handboek wat kinders leer hoe om te leef. Wie die bron vergiftig moenie verwag dat die stroompies vars sal wees nie
Dis egter geen algemene saak dat as die ouer verkeerd loop, kinders vir hul ouers se sonde gestraf word nie. Ex.20:5 waarsku ouers om reg te leef sodat kinders nie deur hulle toedoen op die verkeerde paaie beland nie. Dit kan tot vier geslagte duur om hierdie boosheid uitgewis te kry. Ons skuld ons kinders meer as wat ons hulle ooit kan bied.
Net so insiggewend is Lev.26 wat spesifiek oor afgodediens handel: “Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en geen gesnede beeld of n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en ʼn steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die Here julle God” (vers 1). Dan volg die waarskuwing: “En die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle ongeregtigheid wegteer... ja ook die ongeregtighede van hulle vaders saam met hulle wegteer” (vers 39). Dit gaan oor volharding in afgodery en die bose invloed wat dit op die nageslag het.
Kom ons vat saam. Is daar so ʼn iets soos bloedsondes? Nee, dis ʼn skadelike dwaling omdat mense die Skrif nie verstaan nie. Die Bybel gee vir ons die gerusstelling: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word” (Deut.24:16).