Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onregverdige terugslae laat ons maklik verval in 'n "ek gee nie meer om nie" –gesindheid. Maar deur genade word ons in staat gestel om in moelike omstandighede raak te sien dat Hy ons dra. Moenie ophou soek na uitkoms nie, gebruik dit as 'n geleentheid om jou talente en gawes van God te gebruik, glo dat die regte dinge op die regte tyd gebeur het en ook verder sal gebeur – vertrou God!
SATAN
Ds Andrè van den Berg
Hoe lyk Satan? Niemand weet nie. Mense stel hom soms baie vreemd voor as ʼn afstootlike, bokagtige wese met horings, gesplete kloue en ʼn drietandvurk wat stoute kinders bang maak. Sulke voorstellings is geensins Bybels nie, maar kom eerder van Middeleeuse kunstenaars wat hom so voorgestel het - Jes.14:12-15 en Eseg.28:11-19
Satan sowel as sy engele is geeste. Hulle het nie hande, voete of enige ander sigbare menslike eienskap nie. Dis een van die redes waarom die Bybel nie Satan se voorkoms beskryf nie. As Paulus na Satan as ʼn verbloemde engel van die lig verwys, beskryf hy nie sy voorkoms nie maar waarsku hy eerder teen sy misleiding. Satan wil hê dat mense alles moet glo wat hy sê, terwyl hy niks anders as leuens spreek nie.
Beteken dit dat Satan, omdat hy gees en nie vlees is nie, nooit aan mense verskyn nie? Nee, hy kan en het ook al baie aan mense verskyn. Martin Luther het hom al gesien. Een ding moet ons egter weet dat as die satan ʼn fisiese voorkoms aanneem, is dit om mense te mislei. So ook sy engele (bose geeste) wat al aan mense as hul afgestorwenes verskyn het - alles misleiding!
Al wat ons van Satan weet, was dat hy voor sy val ʼn goeie engel en mooi van voorkoms was. Hoe hy vandag lyk, weet niemand nie. Een ding moet ons weet - misleiers dra altyd maskers om hul boosheid as goedheid te laat voorkom. Jesus waarsku: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes...” (Joh.10:10).
Waar kom Satan vandaan? Ons weet nie presies nie. Al wat ons wel weet, is dat hy nie van alle ewigheid af daar was nie. Hy moes in die tyd voor Adam deur God geskape gewees het. Die Bybel vertel ons nie presies wanneer dit gebeur het nie. Ons ontmoet Satan vir die eerste keer in Gen.3: “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat God gemaak het...” (:1). In die eerste boek van die Bybel verskyn Satan as ʼn slang. Ook in die laaste boek: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei...” (Openb.12:9).
Uit Eseg.28 is dit duidelik dat Satan ʼn geskape engel was: “Jy was in Eden, die tuin van God... Jy was ʼn gerub met uitgespreide vlerke...” (:13,14). Gerubs was meer as bloot diens-engele; hulle was sterk engele met kragtige vlerke wat as God se hemelse wagters diens gedoen het. Ons lees in Gen.3:24 vir die eerste keer van hulle: “So het Hy dan die mens weggedrywe en gerubs aan die oostekant van die tuin laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak” .
Wanneer Satan egter in Genesis sy opwagting maak, sien ons hom as ʼn bose engel; iets wat hy nie van die begin af was nie. Hy was saam met al die ander engele heilig geskape met die hemel as tuiste. Daarna het hy in opstand teen God se gesag gekom en probeer om beheer van die hemel oor te neem. Daarom is die kern-omskrywing van sonde: Opstand teen God. Want dis waar dit vandaan kom: Satan wat teen God opgestaan het.
Beide Lukas en Johannes skryf van Satan se uitwerping uit die hemel. Met die uitstuur van die dissipels op hul eerste sendingtog sê Jesus vir hulle: “... Ek het die Satan soos ʼn bliksem uit die hemel sien val” (Luk.10:18). Ja, Jesus was uit die aard van sy ewige bestaan by toe hierdie voorval in die hemel plaasgevind het. Johannes skryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei...” (Openb.12:9).
Om oor Satan te praat, moet ons baie versigtig wees. Daar is dinge van hom wat die Bybel sê asook dinge wat algemeen aanvaar word wat die Bybel nie sê nie. Die Bybel is en bly die enigste betroubare bron van kennis oor Satan. Alhoewel dit nie baie inligting oor Satan bied nie, gee dit wel genoeg om die meeste kernvrae te beantwoord.
Die eerste vermelding van die naam Satan is in 1 Kron.21:1: “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel”. Wat ouderdom betref, is die boek Job egter baie ouer as enige ander Ou Testamentiese boek. En in Job tree Satan in die eerste twee hoofstukke op die voorgrond. Satan beteken letterlik teenstander. In die King James Version van die Bybel kom nog ʼn naam vir Satan in Jes.14:12 voor – Lucifer. In Afrikaans lees dit: “Hoe het jy uit die hemel geval, o morester, seun van die dageraad....”
Die naam Lucifer kom nie in die Hebreeuse teks van die OT voor nie maar is ʼn beïnvloeding van die Latynse vertaling (Vulgaat). In Latyn beteken Lucifer: bringer van lig. Dis natuurlik ʼn titel wat Christus vir homself toeëien: “... Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester”(Openb.22:16). Sekere verklaarders meen dat Lucifer moontlik die oorspronklike naam vir Satan kon gewees het wat hom ná sy val deur God ontneem is. Dis blote bespiegeling.
Alhoewel die boek Job, wat ouderdom betref, die naam Satan eerste gebruik, word Satan se bose invloed reg van die begin af in Genesis vermeld wanneer hy hom as ʼn slang voordoen om die eerste mensepaar tot sonde te verlei en jare later Kaïn daartoe beweeg het om moord te pleeg. “Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kaïn wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie...” (1 Joh.3:11,12).
Satan word in Openb.20:2 ʼn draak en ou slang genoem. Laasgenoemde dui op sy eeue-lange verleiding. Satan is ʼn baie ou kalant! Matteus noem hom weer die versoeker (4:3) en Beëlsebul (12:27). In sy tweede brief aan die Korintiërs noem Paulus hom die god van hierdie wêreld (4:4) asook Belial (6:15). In die Evangelie van Johannes noem Jesus hom die vader van leuens (8:44) en owerste van hierdie wêreld (12:31). Ja, Satan wil bitter graag as ʼn god aanbid word. Met die versoeking van Jesus sê Satan vir Hom: “... Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Mt.4:9). Jesus het geweier.
Satan het ook by geleentheid sy opwagting onder die engele gemaak: “En op ʼn dag toe die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, het die Satan ook onder hulle gekom” (Job.1:6). God het dit skynbaar toegelaat om hom op Job se getrouheid teenoor sy eie ontrou te wys. Satan en sy engele is egter vir ewig vervloek. In sy Profetiese Rede sê Jesus: “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My.... in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Mt.25:41).
Petrus sluit hierby aan: “Want as God die engele wat nie gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van die duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word...” (2 Pet.2:4). Paulus waarsku ook in 2 Kor.11:14 dat Satan hom as ʼn engel van die lig voordoen terwyl hy in werklikheid die heerser van die duisternis is. Daarom aanbid baie mense die duisternis met hul rug na die lig!
Alhoewel die Bybel nie spesifiek sê wanneer Satan tot ʼn val gekom het nie, gee dit ʼn paar leidrade. Die Bybel sê dat God alles geskape het: “U is alleen die Here, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare gemaak, die aarde en alles wat daarop is...” (Neh.9:6). Paulus sluit hierby aan: “...want in hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (Kol.1:16). Logies gesproke is Satan dus ook deur God geskape met die hemel as sy woonplek.
Maar wanneer het God dan die hemel en die engele gemaak? Gedurende die ses dae van die skepping. Gen.1:31 sê dat toe God alles klaar geskep het, alles goed was in sy oë - in die hemel sowel as op die aarde. Ook die engele, wat Satan insluit. Dus was Satan oorspronklik goed.
Satan bestaan egter nie verewig nie. Hy is ʼn geskape wese en derhalwe aan tyd gebonde. “... want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb.12:12). Alhoewel sy val nie uitdruklik in die Bybel beskryf word nie, is dit duidelik uit Jes.14:12-15 en Eseg.28:11-19 wat die verhaal van die goddelose konings van Babel en Tirus vertel. Beide konings het, net soos Satan, God na die kroon probeer steek.
Sonde het valse trots ten grondslag. En dis wat met Satan gebeur het. Hy was die eerste om te sondig. As ons sondig, moet ons egter nie sê dat Satan ons verkeerde dinge laat doen nie. Net soos die eerste mensepaar die keuse gehad het om vir Satan nee te sê, het ons ook die keuse. Min mense kies die boosheid omdat dit boos is. Hulle sien boosheid verkeerdelik as geluk aan.
Ja, sonde ontspring in ons eie begeertes: “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikhede weggesleep en verlok word” (Jak.1:14). Satan het deur sy eie begeerte/trots geval. Dit was sy keuse, so ook die engele wat saam met hom teen God se heerskappy in opstand gekom het.
Het God dan nie geweet wat Satan gaan doen nie? Ja, as alwetende het Hy geweet, maar het dit nogtans toegelaat. Daarna was dit God se reg om Satan en sy opstandige engele uit die hemel op die aarde neer te werp.
Maar waarom het God hulle nie eerder hel toe gestuur vir hul oortredings nie? Dit sou die mensdom mos dood, pyn en lyding gespaar het! Op daardie vraag is daar geen duidelike antwoord nie. God is soewerein in sy wil. Al wat ons weet, is dat ons lyding en dood beleef omdat Adam gesondig het. “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rom.5:12). Ons kan Adam nie blameer nie, en moet verantwoordelikheid vir ons eie oortredinge neem.
Dis verkeerd om te dink dat dood en lyding die gevolg van Satan se opstand is. Toe Satan in opstand gekom het, is die aarde nie vervloek nie; slegs toe Adam oortree het. Dis waarom ons ʼn tweede Adam nodig gehad het om ons van die vloek van sonde te bevry soos Paulus aan die gelowige Korintiërs skryf. (1 Kor.15). Hierdie tweede Adam is Jesus Christus. Deur een mens het die vloek in die wêreld ingekom (Adam) deur ʼn ander Een (Jesus Christus) is die mensdom daarvan verlos.
Waarom het God toegelaat dat boosheid voortbestaan? Alle dinge, selfs boosheid, het ʼn doel in die lewe. God word verheerlik deur sy verlossingsplan wat Hy van die begin af vir die wêreld gehad het. Alles wat gebeur is tot verheerliking van God, selfs Christus se lyding, sterwe en oorwinning oor die dood. So ook elke mens wat tot bekering kom. En daarvoor moet ons van die vloek van die sonde verlos word.
Wat gaan op die ou einde van Satan word? Sy dae is getel. Die ewige oordeel wag op hom en hy weet dit maar al te goed. Met die oordeelsdag word hy heel eerste in die hel gewerp. “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Openb.20:10).
Sataniste glo egter dat daar ʼn finale slag gaan plaasvind en dat Satan die uiteindelike oorwinning oor Christus sal behaal. Daarna sal hulle saam met hom en sy engele in die hel regeer. Wat ʼn wanopvatting! Hulle gaan ʼn onaangename verrassing kry as hulle daardie dag besef dat Satan geen mag in die hel het nie.
In werklikheid vrees niemand die hel meer as Satan self nie. Hy is nie ʼn heerser in die hel nie maar ʼn gevangene daarin! Ons het vir die duiwel eintlik net een ding te sê – Christus het jou reeds oorwin en jou mag sal finaal gebreek word!
Dit maak nie saak wat Satan wil hê dat ons van hom moet glo nie; ons weet wat die waarheid is omdat die Bybel dit vir ons sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teenstander, die duiwel loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.5:8). Gee die duiwel derhalwe geen vatkans nie, maar beveg hom met alles tot jou beskikking. Al wat Satan nodig het om te floreer, is goeie mense wat niks doen nie!