Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Woorde van wyse manne,wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu van 'n heerser onder die dwase – Prediker 9
DIE UITVERKIESING
Ds Andrè van den Berg
" Wees van een ding baie seker: Niemand soek tevergeefs na God nie. Die feit dat jy God in jou lewe toegelaat en kind van Hom geword het, is en bly die duidelikste bewys dat jy wel uitverkies is! "
“En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie Openb.13:1-10 (:8)
Leraars preek nie graag oor die leer van die uitverkiesing nie omdat dit by sommige mense negatiewe gevoelens opwek. Vrae wat gevra word, is: Hoe kan God sekere mense goedsmoeds hel toe stuur? Is mense bloot marionette aan God se lyntjie? Is die uitverkiesing ʼn verborge geheimenis waarin die mens geen insae of beheer oor het nie? Want indien dit so is, beteken dit dat die mens tot en met sy dood nie regtig weet of hy hemel of hel toe gaan nie! En dit as sulks skep ʼn somberheid wat blydskap en vreugde demp.
Die eerste ding wat ons moet weet, is dat leer van die uitverkiesing bokant ons verstandshorison is. Dit staan nie soos ʼn Psalm of saligspreking iewers in die Bybel opgeteken nie. Om dit werklik te verstaan, moet ons nie net na ʼn paar losstaande sekere tekste kyk nie, maar na die Bybel in sy geheel.
In Genesis leer ons dat God na Abraham kom en Israel uit vrye wil kies: “Want jy is ʼn volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees” (Deut.7:6). God kies ook sekere mense vir sekere take. Dink bv. aan Aaron vir die priesterskap: “En die staf van die man wat Ek uitkies, sal bloei...” (Num,17:5). So ook die dissipels. Jesus sê vir hulle: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra....” (Joh.15:16).
Die uitverkiesing het met die mens se ewige redding te doen: “ wat ons gered en geroep het met ʼn heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade...” (2 Tim.1:9). Hierdie waarheid kan nie met die menslike verstand verstaan word nie, maar slegs in die geloof aanvaar word: “ Die verborge dinge is vir die Here onse God....” (Deut.29:29). Let vervolgens op ʼn paar kernaspekte van die leer van die uitverkiesing.
Die uitverkiesing beklemtoon eerstens die koningskap van God. Hy doen soos dit Hom behaag sonder om enige mens of engel se toestemming daarvoor te vra. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoë is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jes.55:8,9). Redding is God se besluit. Die mens kan geen wesenlike bydrae daartoe maak nie. Jy kan nie ʼn bietjie van jou redding bewerk en derhalwe verdien nie.
Dat God sonde straf, is nie wreed of onregverdig nie, maar vloei daaruit dat God heilig en regverdig is. Diegene wat verlore gaan, is 100% aanspreeklik daarvoor. God stel van die begin af perke aan die mens. Dink maar aan die boom met die verbode vrug in Eden. Die mens het die kans om vir altyd te leef deur sy ongehoorsaamheid verloor.
Dat God ná die sondeval in die mens se lotsgevalle ingegryp het, is net genade. Hy kon Hom daar en dan van die mens onttrek het. Maar Hy het nie. Daarom bly verlossing onverdiende genade wat ons by die kernmotief van die leer van die uitverkiesing bring – God se ontfermende liefde vir sondaars. “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet.3:9).
Daarom het God telkens as Israel tot niet gaan, ʼn oorblyfsel bewaar met wie Hy die pad verder gestap het. En selfs hierdie res het dit nie verdien nie. God kies hulle uit vrye wil en sonder enige menslike verdienste. Watter les leer ons hieruit? Dat God nie op grond van mense se waarde of verdienste red nie. Hy wou van Israel die lig van die nasies maak: “ En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang” (Jes.60:3).
Ons het gesien wat God se rol in die uitverkiesing is. Maar wat is Jesus se rol? Die uitverkiesing en verlossing loop in Jesus saam. Dit kan hoogstens onderskei, maar nie geskei word nie. “...wat ons gered en geroep het met ʼn heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou openbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus....” (2 Tim.1:9,10).
Jesus maak deur sy kruisdood en opstanding die uitverkiesing vir mense moontlik. God het reeds voor die skepping so besluit. “...naamlik dat God in Christus die wêreld met Hom versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie...” (2 Kor.5:19). Wie na Jesus se versoeningsoffer kyk, weet dat die uitverkiesing net God se genade is: “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ʼn versoening vir ons sondes” (1 Joh.4:10).
Die uitverkiesing is soos geloof – dit snoer mense in ʼn nuwe gemeenskap saam. Ons kan Sondae net sowel bely dat ons in die gemeenskap van die uitverkorenes glo! En hierdie wete dat gelowiges weet dat die uitverkiesing sekerheid van verlossing bied, verskaf ongekende blydskap.
Die uitverkiesing maak egter nie van ons dooie marionette in God se hand nie. Hy het ons ʼn vrye wil gegee om Hom lief te hê of nie. Hy waarsku mense selfs vooraf. Hoor wat sê God vir Kain: “... die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen.4:7). Gevolglik neem die mens volle verantwoordelik indien hy ongehoorsaam is en verlore gaan.
Ons moet egter versigtig oor die vrye wil van die mens dink omdat verkeerde denke al in die verlede tot dwaalleer aanleiding gegee het. Pelagius (ʼn Britse monnik), die Remonstrante en Armeniane het bv. geglo dat omdat die mens 'n vrye wil het, hy vir ʼn deel van sy redding verantwoordelik is. God is in hulle siening dus nie Alleen-speler nie; die mens is sy vennoot. God doen ʼn deel en die mens ʼn deel. Dis een van die kern dwalings van die charismatiese kerke.
Augustinus, Luther en Calvyn leer weer dat die mens se wil so bedorwe is, dat hy van sy kant af niks kan doen om in die hemel te kom nie. Die Bybel leer dat redding uitsluitlik van God kom: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rom.5:12).
Vryspraak kom deur die geloof alleen. Daarom word ons net uit genade gered. As die Heilige Gees ons nie roep en ons die geloof gee om op sy roepstem te antwoord nie, sal ons nooit die poorte van die hemel sien nie! Ja, die Heilige Gees is intens by die vestiging van geloof en die sekerheid van die uitverkiesing in ons lewe teenwoordig. Hy verseker elke gelowige dat God sy guns vooruit aan hom/haar toebedeel het.
Beteken dit dat die uitverkiesing ʼn streep deur ons eie verantwoordelikheid trek? Nee, God red en roep ons tot ʼn nuwe lewe van gehoorsaamheid waarop ons self moet reageer: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil.2:12,13).
Dis eg menslik om te wonder of jou geloof in Christus genoeg is om jou in die hemel te bring. Kan ons werklik 100% van ons redding en uitverkiesing seker wees? Ja, ons kan! Ons sekerheid is nie op ons gevoelens of diens gegrond nie, maar op Jesus se versoeningsoffer. Hy is die sekerheid van ons uitverkiesing.
As ons tot bekering gekom het, is ons uitverkies. Die tronkbewaarder van Filippi vra vir Paulus en Silas:“... Menere, wat moet ek doen om gered te word? Hulle antwoord hom: “... Glo in die Here Jesus en jy sal gered word ...” (Hand.16:30,31). Dis gelykluidend met Rom.10:13: “Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”. Jy kan nie in Jesus glo en nie uitverkies wees of uitverkies wees sonder om aan Jesus te glo nie. Die een veronderstel die ander.
Die feit dat jy uitverkies is, maak dat jy anders leef as die wêreldling. Jy doen goeie dade en dra uit dankbaarheid vrug omdat die Heilige Gees in jou werk. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel” (1 Joh.3:18,19). Aan ons anders lewe toets ons onsself of ons uitverkies is of nie.
Die Woord van God eis dat ons onsself moet toets: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef...” (2 Kor.13:5). Daarbenewens moet ons God vertrou dat Hy ons geloof in stand sal hou: “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ʼn goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil.1:6). Jesus sê vir Petrus: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie...” (Luk.22:32). Ons kan dus altyd seker wees van ons verlossing in Jesus Christus.
Die uitverkiesing plaas ʼn baie groot verantwoordelikheid op gelowiges: ” En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan my is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (Mt.28:18,19). Gelowiges moet getuig. Deur hul getuienis sal mense na Christus vir redding kom en van hul uitverkiesing bewus word. Dink maar net aan Petrus se preek op Pinksterdag toe 3000 mense tot bekering gekom het! Anders gestel: 3000 mense het van hul uitverkiesing bewus geword.
Omdat die Evangelie ʼn roepingskarakter het, moet ons van Jesus bly getuig. Die uitnodiging in Mt.11:28 bly van krag: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee...” Getuienis word geseën: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Mt.7:7,8). Elkeen wat die getuienis hoor, word voor ʼn keuse gestel: ” Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het nie...” (Joh.3:18).
Die uitverkiesing leer ons dat daar vir alle mense genade is. Sommige neem dit aan en ander nie. God het nie witbroodjies nie. Hy is genadig oor almal. As Hy Isak bo Ismael verkies en Jakob bo Esau gaan dit nie oor iets persoonlik nie, maar die feit dat die uitverkorenes die draers van God se genade is. Ons kan dit nooit met die verstand verstaan nie. Dis bokant ons verstandhorison. Ons kan dit net in die geloof aanvaar.
Wees van een ding baie seker: Niemand soek tevergeefs na God nie. Die feit dat jy God in jou lewe toegelaat en kind van Hom geword het, is en bly die duidelikste bewys dat jy wel uitverkies is!