Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kinders is nog nie in staat om 'n akkurate beeld van hulself te vorm nie; hulle vorming is afhanklik van die ouers se leiding en opvoeding wat 'n groot en verantwoordelike taak is, sekerlik die heel belangrikste en mees voltydse taak van hulle lewens – waarom keer ouers dan feitlik elke klip om en krap dit nog skoon ook om rykdom bymekaar te maak maar gee so min aandag aan hulle kinders aan wie daardie rykdom in alle geval eendag nagelaat moet word, aan 'n geslag wat nie verantwoordelik daarmee sal kan werk nie?
GODSDIENSTIG MAAR NIE GODVRUGTIG
SATAN SE MISLEIDINGSTAKTIEK
Ds Andrè van den Berg
2 Kor.11:1-15
Misleiding is so oud soos die kerk: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer .... en ʼn vinnige verderf oor hulself bring; en baie sal hul verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek ... en hulle verderf sluimer nie” (2 Pet.2:1-3).
Die kerk van Christus word sedert haar ontstaan deur mense wat nie dienaars van Christus is nie ondergrawe. Hulle is instrumente van Satan wat sy wil uitvoer. Paulus en die ander apostels het onaangename ervarings met hierdie mense gehad: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulself verander in apostels van Christus” (2 Kor.11:13).
Satan val die kerk nie sommer openlik aan nie, maar gaan eerder subtiel te werk om dit te vernietig. Hy ontken nie openlik die waarheid van God se Woord nie, maar vermeng dit eerder met leuens om mense te verwar. En dis wat misleiding is - Bybelse waarhede wat met leuens vermeng en deur mense wat die Bybel nie baie goed ken nie, geglo word.
Misleiding maak mense selfs baie godsdienstig. Maar is dit wat God van gelowiges wil hê? Wil Hy hê dat ons godsdienstig moet wees? Nee! Die woord godsdiens klink goed op die oor. Dit kom egter nie van God af nie. Staan Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam, om drie te noem, nie as godsdienste van die wêreld bekend nie? Begelei enigeen van hulle mense na die ewige lewe aan? Nie een nie! Jesus sê: “ ...Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Dit wat jou nie hemeltoe kan begelei nie, kom nie van God nie al word dit ook godsdiens genoem. Dis nie diens aan God die Vader nie, maar diens aan afgode! Nêrens in die Bybel vra God van mense om godsdienstig te wees nie. Hy vra ons wel om godvrugtig te wees. Jesus waarsku teen godsdienstiges: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken... “ (Mt.7:15,16).
Van al die misleidinginstrumente is godsdiens die effektiefste in die hand van Satan. Hy mislei selfs mense om in die naam van hulle godsdiens ander mense dood te maak. Kyk wat tans in die Midde-Ooste en Afrika gebeur!
God waarsku in sy Woord dat die grootste aanslag teen gelowiges aan die einde van die tyd juis vanuit ʼn misleide kerk gaan kom. Die laaste Christen-era sal soos die eerste een met geloofsvervolging en groot lewensverlies afgesluit word. Was dit dan nie juis die Joodse kerk wat Jesus vervolg en laat kruisig het nie? Satan het die kerk mislei om te glo dat Jesus nie die verwagte Messias is nie, maar ʼn valse leraar is wat gedood moes word. Die misleide kerk gaan aan die einde van die tyd weer op die voorgrond tree.
Satan mislei nog steeds mense om die waarheid vir die leuen en die leuen vir die waarheid aan te sien. Daarom is dit bitter moeilik om mense wat mislei is van die waarheid te oortuig. Stefanus is selfs daarvoor gestenig.
Kerklike vervolging het al miljoene mense se lewens beëindig. Kyk wat tydens die Middeleeue met mense gebeur het wat teen die Roomse Kerk (RK) se dwaalleer opgestaan het – baie van hulle is gefolter en selfs gedood. Dis wat godsdiens onder aanvoering van Satan aan mense doen!
Satan slaag vandag meesterlik daarin om die Christendom onder die vaandel van godsdiensvryheid op dieselfde rak as afgodsdienste te plaas. Kerke reik al hoe meer na afgodsdienste uit, nie om hul getuienis te lewer nie, maar om ekumeniese samewerking te verkry.
Dit maak nie saak watter positiewe dinge kerke van ekumene sê nie, sulke interkerklike samewerking lei op die lange duur tot godsdiensgelykskakeling. Derhalwe kan ekumene nooit God se wil wees nie, maar ʼn vangstrik van Satan waarin kerke toenemend trap. Gelowiges waak nie genoegsaam nie! Christus sê: “Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie ... En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark.13:33,37).
Die Christendom is nie maar net nog ʼn godsdiens soos enigeen van die ander op die wêreld-spektrum nie. Dis iets geheel anders. Christendom is die vaste geloof in Christus as die enigste Verlosser en ʼn liefdevolle toewyding aan Bybelse waarhede. En dis die twee elemente waarteen Satan oorlog voer - die belydenis dat Christus die enigste Redder en die Bybel die enigste maatstaf vir die waarheid is. Hy beveg dit met alle mag!
Daarvoor maak hy van verskeie ondermynende tegnieke gebruik. Hy oortuig bv. mense, veral vrysinnige leraars/teoloë, dat die Bybel nie onfeilbaar is nie. En dit skep ʼn Babelse verwarring op kerklike gebied. Kerklui wat uit hierdie bos van teologiese verwarring dop, haal soms koeranthoofopskrifte.
Daarbenewens oortuig Satan liggelowige mense dat geestelike ervarings baie belangriker as Bybelse waarhede is. Die gevolg is dat gevoelsgodsdienste oorhand toeneem - ʼn dwaling wat jaarliks duisende van ons volksgenote meesleur. Satan vermom hom inderdaad soos ʼn engel van die lig!
Nog ʼn misleiding wat deesdae baie veld onder ons volksgenote wen, is die klem op die nakoming van sekere wettiese voorskrifte vir verlossing. Mense gryp na Joodse wette en gebruike soos o.a. die OT sabbatsonderhouding en die viering van Joodse feesdae terug. Die Adventiste, Israel Visie en Messiaanse Jode is sprekende voorbeelde hiervan.
Satan slaag selfs daarin om baie godsdienstige mense te laat glo dat daar nie ʼn hel is nie. Dit word selfs op Sinodes gedebatteer asof die Bybel onduidelik daaroor is. Daarmee saam ook die vraag of Satan ʼn werklikheid is. Is dit nie ironies dat daar aan die bestaan van Satan wat juis hierdie verwarring laat ontstaan het se bestaan getwyfel word nie? Hy het dit dan juis laat begin! Kan daar dan nog aan sy bestaan getwyfel word?
ʼn Misleiding wat die hart uit die Christendom probeer ruk, is die hedendaagse twyfel oor die maagdelike geboorte, godheid en liggaamlike opstanding van Christus uit die dood. Hierdie grondliggende waarhede van die Skrif word t.s.v. die duidelikheid van God se Woord daaroor selfs op Sinodes gedebatteer.
Wat hier gebeur, het ook in die tuin van Eden gebeur. Paulus skryf aan die Korintiërs: “Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwere toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het” (2 Kor.11:3 - Lewende Vertaling).
Misleiding begin by twyfel wat gesaai word waarna dit, soos in die tuin van Eden, op subtiele leuens gebou word: “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Gen.3:1). Satan laat mense twyfel. Is dit regtig so? Het God regtig so en so gesê...?
Misleiers verdraai die Bybel omdat dit die waarheid leer. Mense wat mislei is, glo dat hulle reg is al praat die Bybel anders. Hulle is gewoonlik baie ernstig met hul godsdiens en kan inherent goeie mense wees, maar nogtans verlore. Daar is net een geneesmiddel – terug na die suiwere leer van God se Woord. Toets dit wat jy hoor aan die Bybel soos die gelowiges in Berea gedoen het (Hand.17).
Baie gemeentes het al onaangename ervarings gehad met mense wat aanvanklik stewels en al by hulle ingeklim en na ʼn tydjie die pad gevat het. Die verskynsel is so oud soos die kerk self. Paulus het so ʼn ervaring met ʼn sekere Demas gehad. Johannes skryf: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons was nie” (1 Joh.2:19). Dit gebeur wanneer mense godsdienstig maar nie godvrugtig is nie.
Die verwêreldliking van die kerk is seker een van Satan se suksesvolste misleidingstegnieke. Die Bybel leer ons dat die kerk die liggaam van Christus is (1 Kor.12). Daarom beteken die kerk vir God die meeste wanneer dit die minste na die wêreld lyk. Die teenoorgestelde is ook waar - die kerk beteken vir Satan die meeste wanneer dit die minste na die liggaam van Christus lyk.
Satan is tydelik in beheer van die wêreld: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh.5:19). Satan maak van elke geleentheid gebruik om mense te mislei. Daarom moet gelowiges baie duidelik standpunt teen die wêreld en sy verleidelikheid inneem: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Wêreldsheid is ʼn liefde vir die dinge van die wêreld. “... Wie dan ʼn vriend van die wêreld wil wees, word ʼn vyand van God” (Jak.4:4). Die kerk mag haar nie van die wêreld onttrek nie, maar egter ook nie daarin verdwyn nie. Die kerk moet eerder mense se verlange na ʼn hiernamaals saam met Christus aanmoedig.
Ongelukkig omhels baie kerke vandag die wêreld plaas daarvan om die dwaasheid daarvan aan die lig te bring. Wêreld-gelykvormigheid getuig van geestelike blindheid. “... die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, nie sou skyn nie” (2 Kor.4:4).
Blinde mense kan nie sien nie. So ook geestelike blindes. Hulle kan nie reg van verkeerd onderskei nie en word dan prooi van Satan se slinksheid. “... En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap hou nie” (1 Kor.10:20).
Satan los nie sekere lewensgebiede uit omdat dit kwansuis geestelike grond is nie. Hy gebruik selfs godsdienstige mense soos Judas Iskariot om sy bose planne uit te voer. Jakkalse is slu; mense wat jakkalse is, is slimmer!
Moenie dink dat dit net jongmense is wat die satan ten prooi val en dwaal nie. Baie ouer mense doen dit ook. En dis geen nuwe probleem nie. Die opskrif van 1 Tim.5 lui: Die grysaards en die weduwees. Paulus skryf oor oumense wat afgedwaal het: “Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan” (:15).
Gelowiges word as lede van die liggaam van Christus opgeroep om Satan daadwerklik teen te staan. “Trek die volle wapenrusting van God aan sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efes.6:11). Des te meer aan die einde van die tyd wanneer Satan in al sy woede teen die gelowiges gaan optree. “... want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb.12:12).
Jakobus, die broer van Christus, het vir ons baie goeie raad: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak.4:7). Laat ons hom geen vatkans gee nie!