Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy van jou kinders verwag om jou as ouer te eerbieding sal jy daardie respek moet verdien deur só te leef. As jy as kind so 'n ouer gehad het, dank die HERE vir hom of haar, want dit het jou die mens gemaak wat jy vandag is.
LAAT ONS SKYN VIR JESUS (2)
... MET VREES EN BEWING
PINKSTER 2013
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Pinksterreeks 2013
“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing” - Filippense 2:12
Om vir Jesus in ’n donker wêreld te skyn, is daaglikse selfondersoek nodig. Elke gelowige moet homself die vraag afvra: “Leef ek reg in God se oë?” Dis wat Paulus in vers 12 met die woorde:”…werk julle eie heil uit…” bedoel. Dit beteken egter nie dat jy jou saligheid kan verdien nie. Dit beteken dat jy nie ledig op die akker van heiligmaking durf stilstaan nie. Daar is werk om te doen! Gelowiges moet ’n Christusgesinde karakter en Christusgesinde diensbaarheid openbaar. Niks begin voordat daar ’n begin gemaak word nie.
Maar waar begin ’n mens?
“En die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder” (Hand.9:31). Wat het die gemeentes laat skyn? Hulle het in die vrees van die Here gewandel.Predikante preek nie graag oor die vrees van die Here nie. Mense verkies om eerder van God se liefde, genade en lankmoedigheid te hoor. Dis enersyds goed maar andersyds ook gevaarlik. Want as ons vergeet Wie met eerbied en ontsag gedien moet word, kan ons nooit vir Jesus skyn nie.
Wat word met die vrees van die Here bedoel? Die Hebreeus vir vrees is yir’ah, ’n woord wat in die OT vir vrees, ontsag, eerbied en verering gebruik word. Die Griekse woord phobos beteken basies dieselfde.
Die vrees van die Here is om eerbied en ontsag vir God te hê, iets wat in baie van die “lekker kerke” skandelik ontbreek en God se heiligheid neerhaal en van eredienste sirkusse maak. Die grootheid en almag van God moet mense eerder bang maak om Hom op enige manier aanstoot te gee. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb.10:31). “Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebr.12:29).
Die Griekse woord vir bewing is tromos (Engels: tremor). Dit laat ’n mens aan ’n aardbewing dink. Soos die aarde tydens ’n aardbewing sidder, so behoort die mens voor God se grootheid en almag te sidder. Ek wonder hoeveel mense besef werklik hoe groot God is?
Die blouwalvis is die grootste dier op aarde. Sy stertvinne alleen is groter as ’n olifant. Indien ek 100 blouwalvisse in een kruik kon sit, sou ek een miljoen kruike vol blouwalvis in ’n uitgeholde berg Everest kon plaas. Indien ek 100 Everest berge op mekaar kon stapel, sou dit slegs ’n kolletjie op die aarde vorm.
Hoe groot is die son? Soos 1 miljoen aardes! Die son is egter net ’n medium grootte ster. Die superster Antares is so groot soos 50 miljoen van ons sonne, maar nie naastenby so groot soos die Melkwegstelsel met sy biljoene sterre nie. Die Melkwegstelsel is nie naastenby so groot soos die heelal nie. En God is die Skepper van dit alles!
Dis verbysterend! Hoor hoe roep Jesaja dit uit: “…Wee my, ek is verlore!..want my oë het die Koning, die Here van die leërskare gesien” (Jes.6:5). Luister wat skryf Salomo in Spreuke: “Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis…” (1:7). “Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is…” (8:13). “Die vrees van die Here vermeerder die dae…” (10:27). “Die vrees van die Here is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (14:27). “Die vrees van die Here is tot die lewe; en versadig bring ’n mens die nag deur…” (19:23). “Die loon van nederigheid is die vrees van die Here…” (22:4).
Die mens wat nie in vrees en bewing voor God leef nie mis geweldig baie. Hy sluit hom van die skatte van God se wysheid en seën uit. Hy flankeer met boosheid en dit maak hom baie seer. So ’n persoon kan selfs te vroeg sterf. Neem VIGS as voorbeeld: miljoene is al daaraan dood omdat hulle hul nie aan die voorskrifte van God se Woord oor kuisheid gesteur het nie.
Ongelowiges leer nooit die liefde van God ken nie. So ook nie die versekering en vertroue wat die saligheid bring nie. En wanneer hy in sonde verval, keer hy hom nie in berou na God nie.
God seën egter elkeen wat Hom vrees: “Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen” (Ps.103:17,18).
Maar hoe ontwikkel ’n mens die vrees van die Here? Slegs deur die Woord van God! “Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God” (Rom.10:17). In Deut.31 lees ons hoedat Israel aangesê is om elke sewe jaar bymekaar te kom om as volk die Woord van die Here te hoor. Die doel daarvan was om te “….hoor en leer om die Here….te vrees….” (vers 13).
Wie die Bybel bestudeer, leer die vrees van die Here ken. Maar dan moet die hele Woord gelees word en nie net gunsteling gedeeltes wat oor God se liefde en genade handel nie, maar ook oor geregtigheid en straf.
Om vir Jesus te skyn, moet ons God vrees. “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor.7:1).