Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons gedagtes nie met een of ander sinvolle taak gevul is nie, laat dit ruimte vir die duiwel. En hy kom nooit alleen nie. Hy bring altyd ‘n klomp bose gedagtes en verleidings saam.
LEER JOU VRESE HANTEER
Lees volledig by Leer jou vrese hanteer
Die vrese waaroor hier gepraat word is die onredelike soort wat kom en gaan, en ook die soort vrees wat heeltemal rasioneel op sigself is maar wat ons lewens oorheers. Ons kan dikwels nie van so 'n vrees ontslae raak nie en soms vind ons dat ons as gevolg daarvan allerlei dingedoen wat ons nie wil doen nie. Vrees kan so 'n sterk houvas op ons kry dat dit soms voel asof 'n krag van buite ons gevange geneem het . As gevolg van vrees verander mense werk, trek hulle van een stad na 'n ander, sluit hulle hulself toe in hul huise, word hulle moordenaars of raak emosioneel siek. Weens mense se vrees vir katte of brûe of hysers of ander mense, ontwikkel hulle 'n vreemde en onproduktiewe lewenstyl. Dit is hierdie soort vrees wat buite alle beheer geraak het – of eerder in volle beheer van jou lewe is – wat jy moet leer hanteer.
Weet verseker dat daar vir jou hoop is.
God sê vir ons wat om in elke situasie in die lewe te doen. Daarom moet ons gesindheid altyd wees: Ek sal enigiets doen wat Hy wil hê.Daar is mense wat letterlik enigiets sal doen om ontslae te raak van vrees; daarom verhuis hulle, of vermoor hulle, of onttrek hulle hul aan die samelewing. Maar hierdie soort optrede is nie vir God aanvaarbaar nie want dit hou nie rekening met God en sy wil nie. Om die waarheid te sê, mense wat so te werk gaan ontdek baie gou dat hul vrese vererger omdat hul gesindheid deur vrees gevorm en beheer word.
'n Mens wat optree met 'n vreesagtige gesindheid kan nie vrees oorwin nie. Die persoon wat sê dat hy enigiets sal doen om vrees te oorwin, is in werklikheid besig om toe te gee aan sy vrees terwyl hy dit sê. 'n Mens sê wat jy dink. En as jy só dink, beteken dit dat jy bang is en dit laat die vrees net toeneem.
Van veel groter belang is die feit dat God wil hê dat jy Hom eers probeer behaag en dán kan jy aan jou vrese dink. Daarom sê Christus wanneer Hy oor bekommernis praat (wat net 'n ligter vorm van vrees is) : "...beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God" Matt 6:33. As mens enigiets anders eerste stel – selfs die begeerte om ontslae te raak van 'n verskiklike vrees, sal jy ontdek dat jy in al jou pogings misluk. God wil nie tweede plek inneem nie, selfs nie al is jou begeerte om van jou vrees bevry te word wel gegrond nie.
Vind jy dat al jou pogings tot dusver misluk het? Sien jy dat 'n mens die grootste fout van jou lewe maak wanneer jy nie na God wat jou geskape het en jou volkome ken, gaan met jou probleme nie? Dit is tog dwaasheid om Hom wat alle ongegronde vrees kan verdryf te ignoreer. Maar let daarop dat 'n mens nie na God kan gaan slegs omdat jy van jou vrese ontslae wil raak nie. Jy moet eerstens na Hom gaan met die begeerte dat Hy jou in sy koninkryk sal opneem. Waarskynlik wonder jy hoe jy te werk sal moet gaan.
Elke mens wat gebore word (behalwe Jesus Christus) is 'n sondaar en onaanvaarbaar by God. Niemand word gebore sonder sonde nie. Maar God se koninkryk is slegs vir diegene wat volkome regverdig is in sy oë. Dit beteken dus dat geen mens in aanmerking kan kom vir sy koninkryk nie. Alle mense is van nature geneig om vir hulself te leef en God en sy wil te ignoreer. Alle mense is van nature geneig om die Tien Gebooie te ignoreer en te verbreek deur te jok, te steel, te haat, te begeer, ensovoorts. Dit beteken dat niemand 'n burger van God se koninkryk kan word nie en ook dat alle mense deur sonde verdoem is tot 'n ewige hel wat God voorskryf vir diegene wat sy wil verontagsaam. Maar, alle mense kan toegelaat word tot God se koninkryk as hulle daarvoor vra. Elke mens kan vergifnis van sy sonde kry en die hemel beërwe as hy wil.
"Hoe?", vra jy nou. Deur Jesus Christus. Christus het na die aarde gekom om vir sondaars te sterf. In plaas daarvan dat hulle in die hel gewerp word, het Hy die skuld en die straf van alle sondaars op Hom geneem. Hy het in hul plek gesterf, en sodoende het Hy die hel van hulle verwyder. En God het sy goedkeuring vir wat Christus aan die kruis gedoen het, bewys deur Hom op te wek uit die dood en op te neem in die hemel waar Hy met krag en gesag heers oor alle mense en alle kragte – ook oor vrees. Almal wat op Hom vertrou, wat glo dat Hy gesterf en opgestaan het uit die dode, se sondes is vergewe en God belowe dat hulle deur hul geloof geregverdig is. Jesus Christus se absolute regverdigheid word hulle toegereken, net soos die boosheid van hule sonde Hom aan die kruis toegereken is. As God nou besig is om van jou van jou sonde te oortuig terwyl jy hier lees, vergeet dan van vrees, soek die koninkryk van God en ontdek die vreugde van vergifnis in Christus.
Jy sê dat dit nie so maklik is nie? Of jy dink omdat jy reeds 'n Christen is maar steeds vreesbevange, dat jou redding jou nie outomaties van jou vrees bevry nie. Dan moet jy onthou dat om 'n opregte Christen te wees, beteken om God eerstens te wil behaag, nie net om ontslae te raak van jou vrese nie. Slegs as jy dit doen sal jy in staat wees om die ware oplossing vir vrees te vind.
Kom ons veronderstel dat jy reeds deur Jesus Christus gered is en dat jy regtig alles wil doen wat Hy van jou vra omdat jy Hom wil behaag. Jy wil nie slegs ontslae raak van jou vrese nie. Wat moet jy dan nou doen?
Die antwoord is kort en eenvoudig: Jy moet die liefdestaak wat God beveel, gaan doen ten spyte van jou vrees.
In praktyk moet jy eerstens probeer bepaal water verantwoordelikhede teenoor God en jou naaste jy nie nou nakom nie as gevolg van jou vrese. Skryf dit vir jouself neer. En dink daaroor, ook dat wanneer mens so verswak word deur vrees dat jy God nie meer na behore kan dien nie, word dit sonde. Daarom moet jy erken dat jy gefaal het om God en jou naaste lief te hê as gevolg van vrees.
Tweedens moet jy besef die oplossing vir jou vrees is daarin dat jy erken dat jy jou liefdevolle verantwoordelikheid verwaarloos het. God verseker ons dat daar een krag is wat sterker is as vrees – die liefde. 1 Joh 4: "Waar liefde is, is daar geen vrees nie maar volmaakte liefde verdryf vrees..." Liefde is sterkter as vrees en is in staat om vrees te verdryf.
'n Ma gaan staan tussen haar kind en 'n wilde dier – uit liefde. 'n Soldaat waag sy lewe en kruip oor die slagveld om 'n gewonde maat te red - uit liefde. Liefde is die krag wat vrees oorwin. As die algemene genade van God ongeredde mense in staat stel tot sulke kordaatstukke, hoeveel te meer sal Hy nie vir jou wat sy kind is, in staat stel om jou vrees te oorwin nie? Paulus het aan Timoteus wat skynbaar met vrees geworstel het, geskryf: "Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie maar van krag en liefde en selfbeheersing" 2 Tim 1:7.
In die tweede en laaste aflewering van LEER JOU VRESE HANTEER stel ons liefde en vrees teenoor mekaar.
Vervolg...