Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is die mense wat die tekens van die tye, ook van dié tye waarin ons nou leef, duidelik raaksien en akkuraat verstaan? In Mt 16 sê Jesus sommer reguit dat 'n slegte en owerspelige geslag tevergeefs sal soek na tekens maar dat dit nie aan hom gegee sal word nie. Dus gee die HERE self aan mense hierdie insig – aan wie dan? Net aan diegene wie hulle harte op Hom rig, met Hom 'n oop verhouding het – aan hulle sal Hy die wysheid gee om betyds te weet wat om te doen in elke situasie.
ONS GENADIGE, LIEFDEVOLLE GOD
Hannes Ollewagen
Jeremia 31:1-40
Van Genesis tot Openbaring is daar een aspek wat kop en skouers bo die res uitstaan naamlik God se liefde en genade vir sy kinders en ons volk. Ons volk se geskiedenis is ‘n duidelike bewys van hoe Hy Hom meer as een maal oor ons ontferm en uit situasies van doodsbenoudheid verlos het. Dit is dan ook hierdie liefde van Hom wat tot gevolg gehad het dat ons volk vandag die enigste geloftevolk is wat die aardbodem bewandel, die enigste oorblywende volk wat deur ‘n gelofte aan Hom verbind is.
Hy het ons só lief dat Hy sal doen wat nodig is om te verhoed dat ons vir ewig verlore gaan. As ons liefde of goedertierenheid nodig het, sal Hy ons daarmee nader trek (Vers 3), maar as ons tug en straf nodig het om ons nader aan Hom te bring, sal Hy ook dit nie terughou nie, selfs al is dit vir Hom swaar (Vers 20).
God verklaar dat Hy ons liefgehad het met ‘n ewige liefde (vers 3) en dit ook aan ons bewys het met onder andere die slag van Bloedrivier. Al wat Hy van ons volks terug verwag het was dat ons getrou aan die ooreenkoms moes bly. Hy het verwag dat ons onself moet afsonder van ‘n heidense wêreld en ons in liefde aan Hom moes toewy en dien – as ‘n teken vir die res van die wêreld, dat hulle sou sien hoe welgeluksalig dit gaan met die volk wat die ware God van hemel en aarde dien. Ons lewenswandel moes tot eer van die HERE se Naam strek.
Ons kies egter om die wêreld se gode te aanbid; dit is mos baie makliker as om getrou aan God te leef. Maar dan kan ons nie verstaan as ons moeilike tye beleef nie. Wanneer die verlammende magsoorname van 1994 in oënskou geneem word met die verraad wat daarmee gepaardgegaan het, kan ons nie ontken dat ons onderdrukking daardeur deur God beskik en toegelaat is nie. Ons het verkies om die huisaltare uit ons huise te gooi om plek te maak vir die afgodsaltare, soos bv. die televisie. Laasgenoemde wat feitlik letterlik die plek van die huisaltaar kom inneem het, want dit neem die tyd wat aan God afgestaan is in beslag en dit besoedel ons eie asook ons kinders se denkwyse. Daar kan moeite gedoen word om ‘n TV-program weekliks te volg en nie mis te loop nie, maar daar kan nie tyd ingeruim word vir huisgodsdiens nie. Daar kan geld afgestaan word vir DSTV en DVD’s, maar daar sal ongelukkig hierdie maand ‘n gedeelte van my tiende nie gegee kan word nie, want daar is doodeenvoudig nie geld nie al is dit dalk toevallig dat my tiende en DSTV-kostes naby dieselfde bedrag beloop?
Wanneer ons eers behoorlik geraak word deur die nuwe Suid-Afrika en EVKOM se onvermoë om voldoende elektrisiteit te voorsien, mag dit hopelik meebring dat ons weer die huisaltaar in ons huise kan inskuif; kan God dalk ‘n beurt kry om met ons te praat!! Dalk sal ons ons dan tereg laat wys deur ons Vader; ons oë wat so lank verblind was oopmaak om te sien waarmee ons besig was; sal ons in skaamte voor Hom buig in erkenning oor hierdie straf waarmee Hy ons volk getref het, wat ons verdiende loon was, en sal ons kan sien dat ons regverdiglik vir ons troueloosheid gestraf is. Maar sal ons dan ook besef dat Hy ‘n troue God bly wat nie sy beloftes verbreek nie (vers 36) en ons sal verhoor en vergewe as ons na Hom terugkeer? Hy wag met ongeduld dat ons dit wat verkeerd is in ons lewens moet bely en laat staan. (Jes. 30:18).
God beloof nie alleen verlossing vir diegene wat getrou is aan Hom nie. Hy oortref weereens in sy genade- en liefdebetoning deur ons ook ‘n nuwe verbond te beloof (in vers 31-34), 'n verbond wat ons in nederigheid ons hoofde wil laat sak. ‘n Verbond waarin God onderneem om ons nageslag Self te onderrig en sy Wette in hul harte in te skrywe. Hiermee beoog Hy dat hulle Hom bo alles sal liefhê en nie dieselfde foute as hul voorouers moet maak nie. Dit is ook 'n belofte dat die vreugde van ons nageslag groot sal wees, aangesien dit ‘n nageslag sal wees wat die wet van God in hul binneste het en op wie se hartstafels dit geskrywe sal staan; ‘n nageslag wat ons in vrede kan agterlaat wanneer ons sterf, want ons weet dat hulle in God se Hand veilig is.
Mag God vandag by my en u begin om ons Self te onderrig, om ons op ons dwalinge te wys, om ons ‘n gesindheid te gee waarin ons sal toelaat dat Hy ons tugtig; 'n gesindheid waarin ons nie ons harte sal verhard nie maar ons van ons verkeerde dade sal bekeer (verse 18-20) sodat ons vergifnis kan ontvang; en dat ons ook in ‘n nuwe verbond met Hom kan tree waarin Hy sy Wette in ons binneste sal gee en dit op die tafels van ons harte sal skryf. Dán alleen sál dit met ons land en met ons volk wel wees!