Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Here beproef dié wat aan Hom behoort, nie met ligte beproewings nie en Hy oefen hulle nie sagkens nie, maar Hy dryf hulle dikwels tot die uiterste toe en wanneer hulle daartoe gedryf is, laat Hy hulle soms lank in die slyk bly voordat Hy hulle enige smaak van sy soetheid bied.
DIE VOLMAAKTE OFFER
Hannes Ollewagen
Matt. 27:11-56
Van al die belangrike dae wat ons as Verbondsvolk gedenk, is Goeie Vrydag, oftewel die kruisiging van ons Verlosser, Jesus Christus, seersekerlik dié belangrikste gebeurtenis. Die duurste prys vir vryheid is hiér betaal.
Ons leer uit die lewe dat daar vir alles ‘n prys te betaal is. Hoe meer kosbaar die artikel, hoe duurder die prys. Die prys vir alledaagse goedere kan maklik in rand en sent bereken en sommer maklik bekom word. Ander dinge soos kennis, sukses, ‘n gelukkig huwelik, en so meer, verg egter harde werk, opoffering en deursettingsvermoë. Die duurste prys wat op aarde betaalbaar is, is natuurlik die prys vir vryheid. Hoewel vryheid deur verraad in rand en sent uitgedruk kan word, is die prys vir vryheid net met bloed betaalbaar. Wanneer ‘n volk vry wil wees, is daar noodwendig bloedvergieting as voorvereiste.
Ons volk het al menigmale ons vryheid “gekoop” deur die volle koopsom daarvan in bloed te betaal. Hierdie vryheid het egter elke keer verlore gegaan omdat die bloed wat gevloei het, die bloed van mense was wat self sondige mense met gebreke en tekortkominge was. Hoewel die meeste van hulle groot volkshelde was en nog in ons gedagtes en geskiedenisboeke voortleef, was hulle steeds sondige mense, en was nie een van hulle se bloed kosbaar genoeg om vir ons ‘n ewige vryheid te koop nie.
In Jesus se geval het ons daardie vryheid ontvang!! ‘n Vryheid wat niemand ons kan ontneem nie aangesien Hy sonder sonde was en dus as Volmaakte Offer vir ons gekruisig is om die prys vir ons ongeregtighede te betaal. Sy bloed was suiwer, sonder vlek of rimpel was Hy, sonder sonde, heilig en sonder enige gebrek en gehoorsaam aan sy hemelse Vader tot die dood toe – daarom was sy Offer volmaak en hoef dit nie herhaal te word nie.
Ons kry in hierdie gedeelte met hoofsaaklik drie groepe mense te doen:
- Pilatus – Hy was by magte om Christus se lewe te spaar, maar hy was bang vir die mense en dit was in sy oë belangriker om mense te behaag as om God te behaag ten spyte van die feit dat hy verskeie kere verklaar het hy weet Christus staan onskuldig voor hom.
- Die groep mense wat openlik vyandig was teenoor Jesus en Hom gehoon, bespot en gekruisig het;
- En daardie groep mense wat vir Jesus end-uit gevolg het, waaronder Simon, wat selfs die kruis help dra het.
Met die herdenking van Christus se kruisiging kry ons vandag steeds hoofsaaklik drie groepe mense:
- Die Pilatus-groep wat nie regtig omgee oor die dieper betekenis of die reg of verkeerd van die saak nie, maar dit bloot as ‘n gerieflike langnaweek sien.
- Naas die eerste groep is daar ook diegene wat ‘n totale bespotting daarvan maak deur die verering van ‘n lewelose paashaas en die uitdeel van sogenaamde paaseiers - pure heidense gebruike waarin ons as behoudende Christen-gelowiges geen deel behoort te hê nie, aangesien die duistere geldmagte hierdie geleentheid uitbuit om hul koffers vol geld te stop.
- Derdens kry ‘n mens dan ook die groep wat hulself distansieer van bogenoemde om in hart en siel met Hom te deel in sy lyding aan die kruis, en weereens tot die dankbare besef te kom watter groot genade Hy aan wat in Hom glo bewys het. Dit gee ons ook die geleentheid om ons lewens in oënskou te neem en te besef dat daar in ons sondige staat geen verdienste vir hierdie tipe genade bestaan nie.
Met laasgenoemde in gedagte is dit belangrik dat ek my lewe ondersoek om te kyk hoe ek hierdie onverdiende geskenk van genade uit die hand van God hanteer. Het ek die “Pilatus-houding” dat ek bewus is van die grootsheid van Jesus se daad, maar dit skeel my min? Ek leer dit van kindsbeen af en dit is nou al so vervelig en ‘n integrale deel van my lewe dat ek dit nie meer waardeer nie. Buitendien, my aansien in die oë van mense rondom my is belangriker, dus verdien dít meer tyd en aandag in my lewe.
Skaar ek myself dalk by die tweede groep wat God se genade in sy Aangesig teruggooi deur sy verlossingswerk as ‘n vrybrief vir my sonde te neem en my losbandige lewe te regverdig? Ek kan leef soos wat ek wil, Christus het mos klaar die Volmaakte Offer vir my sonde gebring?
Of is ek deel van die derde groep mense wat Jesus end-uit gevolg het? Die groep wat aanhou doen wat reg is ten spyte van mense se sieninge; ten spyte daarvan dat dit nie altyd lekker is nie, ten spyte daarvan dat die kruis wat ek moet dra soms swaar word; ten spyte daarvan dat die pad vol opoffering en hartseer is – solank ek die pad saam met my Meester stap, is ek gelukkig.
Ons moet onthou, die pad na Golgota was vir Hom ook lank en swaar, maar Hy het nie opgegee nie, t.w.v. my en jou ewige saligheid. Hy het ons nie in die steek gelaat of ons verloën nie, al was die pad hoe lank en swaar en met tye, alleen. Laat ons wat deur sy genade sy kinders geword het, volhard in wat reg is, soos wat Hy ons leer en Hom dan ook nooit in die steek laat of verloën nie. Dit is immers die enigste dankoffer wat ek Hom kan bied – my lewe aan Hom gewy!