Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vir die Christen is sy hele aardse lewe is 'n stryd van keuses maak tussen tydelike en ewige dinge. Die gevaar is dat ons gewoonlik voorkeur gee aan die tydelike ten koste van die ewige. Veral die gevaar dat ons ons huweliksmaats, ons kinders of ouers so oormatig kan liefhê grens dikwels aan afgodery. Natuurlik mag ons hulle liefhê maar dit moet 'n tweede plek in jou hart naas die Here beklee. Pasop dat ons liefde vir ons geliefdes nie jou lewe so insluk dat die Here tweede in jou lewe kom nie. Lees weer Lukas 14 vanaf vers 25.
GOD SE GEES
HANNES OLLEWAGEN
Handelinge 1:1-14
Dit is met ‘n doelbewuste rede dat hierdie dag, Hemelvaart, van die kalender verwyder is. Wanneer ons Hemelvaart vier, onderskei mense duidelik dat ons nie paasfees/Goeie Vrydag met ‘n wêreldse gesindheid vier nie. Ons erken en bely met die viering van Hemelvaart dat Christus nie net vir ons sondes gekruisig is en gesterf het nie, maar dat Hy die dood oorwin en opgestaan het uit die dood. Selfs nie die dood kon ons Meester oorwin nie, daarom het ons niks om te vrees nie, selfs nie eers die dood nie.
Nadat Christus opgevaar het na die hemel, het Hy ons nie alleen gelaat om ons eie weg te vind in hierdie deurmekaar wêreld nie. Ons lees dat Hy deur die Heilige Gees vir die apostels bevele gegee het. Só werk Hy steeds vandag nog met ons wat sy kinders is. Ons wat Hom ken as ons enigste Verlosser en Saligmaker, het die gawe van die Heilige Gees ontvang wat in ons harte met ons spreek. Daardie Stem in ons wat ons oortuig van reg en verkeerd. Daardie Stem wat my aankla wanneer ek verkeerd doen, selfs al sien niemand my of al dink ek niemand sal ooit weet waarmee ek besig is nie. Daardie Stem wat my laat sleg voel wanneer ek verkeerd doen en my dwing om stil te raak voor God en jammer te sê vir my verkeerde optrede. Daardie Stem, wat God self is wat met my praat.
Ons moet versigtig wees hoe ons met hierdie “teenwoordigheid” van God in ons lewens omgaan. Ons kan kies om dit met dankbaarheid te omhels met die geloof dat Hy ons deur sy Gees op die regte pad sal lei – onthou, niemand ken die pad na God se koninkryk beter as Hy wat self die weg daarheen gebaan het nie! Alternatiewelik kan ek kies om die wêreld met sy begeerlikhede te omhels, maar die Gees in my uit te blus en God so uit my lewe te verdring. Dit maak nie saak watter mooi verskonings ek uitdink om my keuse vir die slegte te regverdig nie, God is ‘n heilige God wat die sonde haat en sy Gees sal beslis van my wyk wanneer ek die sonde omhels en daarin volhard. (Rigters 16:20: “…Want hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie.”). Ek moet dus kies of ek God se Gees of die sonde in my hart gaan vertroetel.
Dit is dan ook nie waar dat die smal pad met net teëspoed, hartseer en groot verantwoordelikhede besaai is nie. Daar is ook mooi dinge op hierdie pad te vinde. Daar is op hierdie pad ook vriende, lewensmaats, die vreugde van kinders, ens. hoewel hulle baie minder is as op die breë pad van die “lewe”. Min is mos egter goed, want hoe skaarser ‘n item, hoe meer kosbaar is dit. Wanneer ek dus ‘n vriend, lewensmaat, ens. langs hierdie weg vind, moet ek nie die waarde daarvan onderskat nie. Die verskil tussen die pad waarop God ons lei en die pad van die wêreld, is die waarheid. Hy bedrieg ons nie deur dit as alles wat mooi is voor te hou en dan moet ons later die teendeel uitvind nie. Hy gee ons vooraf te kenne dat daar op dié pad goed sal wees, maar ook hartseer, ook geliefdes wat ons aan die dood sal moet afstaan, beproewing wat ons sal moet deurstaan, ens. Dit alles sal egter ons lewenspad kruis om vir ons te dien as bevestiging dat Hy steeds met ons is op ons lewenspad na Hom. Hy lei ons in die beproewing in juis om vir ons te wys dat Hy die enigste is wat ons ook daaruit kan red! Hy bedrieg ons nie wanneer Hy ons leer van ons lewensreis op aarde nie, waarom sou ons dan hoef te twyfel oor die ewige bestemming wat Hy vir ons beloof?
Vir al hierdie onverdiende guns en genade vra God net dat ons Hom moet liefhê en gehoorsaam. Ons moet m.a.w. nie die Heilige Gees bedroef nie.
Jou gehoorsaamheid begin vandag deur vir Hom te getuig met jou lewe, soos wat Hy jou beveel in vers 8. Jou leë skoolbank vanoggend, jou besigheid se geslote deure, jou dag van afwesigheid by die werk, is ‘n getuienis vir die wêreld dat jy God steeds liefhet en Hom nie sal verloën wanneer die wêreld Hom dit doen nie.
Laat ons gehoorsaamheid egter nie hier stop nie; laat ons elke dag probeer leef om sy Stem al duideliker in ons lewens te hoor.