Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vrede word nie in raadsale of deur ooreenkomste gesluit nie. Vrede is ook nie iets waarvoor jy wens nie. Vrede kom uit die harte van mense. Dit is iets wat jy maak, wat jy doen, iets wat jy is en wat jy weggee.
OFFER VAN VERDRAAG- SAAMHEID
Hannes Ollewagen
1 Kor. 13:7: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
1 Korinthiërs 13 is seker een van die mees bekende gedeeltes in die Woord van God. Dalk oor daar soveel waarheid in eenvoud aan ons in hierdie gedeelte gegee word? Verder is dit ook gevul met genoeg uitdagings vir karaktervorming om my ‘n leeftyd besig te hou.
Een van die grootste uitdagings van ons tyd is dan ook sekerlik die toets van verdraagsaamheid.
Ongelukkig sal soveel mense hierdie gedeelte misbruik om gelowiges te laat skuldig voel wanneer hulle opstaan vir reg en waarheid. Die argument sal dadelik na jou geslinger word dat jy moet liefhê en in verdraagsaamheid die ongeregtigheid moet gadeslaan. Dit getuig egter van ‘n gebrekkige kennis van die Skrif asook van die wese van God. Ons lees juis in vers 6 van die gelese gedeelte die liefde “is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.”
Ons leer dus dat ons die ongeregtigheid moet verstaan en beveg, terwyl ons verdraagsaam moet wees teenoor ons naaste in liefde vir mekaar. Dit is duidelik dat hierdie verdraagsaamheid voortgedryf moet word deur my liefde vir God. Dit beteken dus natuurlik dat ek my naaste in liefde moet vermaan wanneer hy verkeerd handel, maar die persoon moet ek maar verdra. As diensknegte van die Allerhoogste is ons veronderstel om te waak teen geestelike hoogmoed en ons moet ook bereid wees om die “eie-ek” af te lê om sodoende diensbaar te wees aan Hom in nederige onderdanigheid.
Uit ‘n menslike oogpunt beskou, is ons onverdraagsaamheid te verstane gesien in die lig dat ons verdraagsaamheid teenoor die leuens ons land in ellende laat beland het. Ons moet egter tot die besef kom dat God ‘n doel het met ons volk; daarom dat Hy steeds deur groot genade ‘n klein oorblyfsel afsonder wat behoudend bly veg teen die bose. Diegene wat na meer as 20 jaar in die NSA steeds in verset is teen ‘n goddelose regime kan seker beskou word as iemand wie se verset opreg is en voortvloei uit beginselstandpunte? Mense wat die bose beveg uit liefde vir en geloof in God is tog sy kinders en mekaar se naaste?
Wanneer ons na Jesus Christus se voorbeeld van lewe op aarde kyk, sien ons die verdraagsaamheid wat Hy teenoor gelowiges gehad het, maar ook die onverdraagsaamheid teenoor die bose. Ons moet besef dat ons onverdraagsaamheid teenoor mekaar menigmaal aangevuur word deur my “eie-ek” en my opinies wat vir my dalk belangriker raak as die eer van God. Indien dit waar is, kan ek opreg sê dat ek God uit liefde dien? Om Hom te dien beteken ook om aan Hom gehoorsaam te wees en, wanneer nodig selfs mag my eie wil en eer op die altaar te plaas tot sy eer. Hebreërs 4:12&13: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”
Herbreërs 4:15: “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” Hy is versoek – net soos ons. Hy het ook te doen gekry met mense wat met vleitaal ander mislei. Hy het ook te doen gekry met mense wat Hom met listigheid genader het om Hom te probeer verstrik in sy Woorde. Hy het dus ook met mense te doen gehad vir wie die eer van en gehoorsaamheid aan God ‘n bysaak was. Hy het hulle egter altyd op hul verkeerdheid gewys. Jesus Christus was ook so onverdraagsaam teenoor die kwade dat Hy by geleentheid die kwaaddoeners se tafels omgegooi en hul met ‘n sweep uit die tempel uitgedryf het.
Hy het ook te doen gehad met mense wat na die beste van hul menslike vermoëns Hom gedien het uit liefde. Alhoewel hierdie mense soms onder mekaar gestry het, kleingelowig was, veroordelend was, leuens verkondig en Hom selfs verloën het, was Hy verdraagsaam teenoor hulle. Die feit dat selfs Jesus se eie dissipels nie sonder sonde was nie, laat ons weer besef dat hulle ook maar mense was en sy soenoffer nodig gehad het om die ewige lewe te beêrwe. Die feit dat Christus hierdie swakhede verdra het, dien as voorbeeld vir ons om mekaar in liefde (ter wille van Hom) te verdra. Dit is belangrik om daarop te let dat hulle nie gewetenloos en doelbewus volhard het in die sonde nie.
Ek glo dit het tyd geword vir ons as diensknegte van die Allerhoogste om onsself aan sy gesag te onderwerp en te streef om elke dag in ootmoed voor Hom te leef. Dit het tyd geword dat ons diensbetoon aan Hom nie lippediens is terwyl ons harte onbesnede en stomp bly nie. Ons kan hierdie geloofspad begin stap deur in die voetspore van Christus te probeer volg en onverdraagsaam te wees teenoor die bose, maar verdraagsaam teenoor mekaar. Dit sal geen maklike taak wees nie en sonder die gawe van onderskeiding sal ons ook nie g in hierdie strewe slaag nie. Hierdie gawe sal ons net kan verkry deur voortdurende gebed en ook tegelykertyd om onverdraagsaam teenoor die bose in ons eie lewens en harte te wees.
Dit is my opregte wens dat die onverdraagsaamheid teenoor mekaar en verdraagsaamheid teenoor die kwade in elke Godsvresende volksgenoot herstel sal word, anders sal dit ons self verteer. En om God te behaag asook ons selfbehoud sal ons daadwerklik die ommekeer in die regte rigting moet maak.