Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Eintlik is daar net twee soorte mense: diegene wat waarde tot jou lewe toevoeg; en dan dié wat jou dit ontneem. Leer om die verskil te ken sodat jóu lewe waardevol kan wees tot eer van Christus se Naam.
ONS OFFER VAN...
...OPREGTHEID
Hannes Ollewagen
Psalm 111:1,7&8: “HALLELUJA! Alef. Ek wil die HERE loof van ganser harte; Bet. in die kring van die opregtes en in die vergadering. Die werke van sy hande is trou en reg; Noen. al sy bevele is betroubaar. Samek. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig; Ajin, uitgevoer in trou en opregtheid.”
‘n Taktiek wat die satan verskriklik effektief gebruik om mense op ‘n dwaalweg te lei, is nabootsing. Deur halwe waarhede (wat steeds ‘n leuen is) en nabootsing, kry hy dit telkens reg om mense op dwaalweë te lei en hul harte te verlok.
Een van die kragtigste wapens wat ‘n ware gelowige kind van God kan opneem om hierdie aanslag van die vyand af te weer, is opregtheid. ‘n Mens kan God slegs in opregtheid dien as jy Hom waarlik ken. En wanneer jy Hom waarlik ken, sal jy besef dat Hy ‘n groot behae in opregtheid het. Wanneer ons Hom nie met ‘n opregte hart dien nie, terg ons God deur te dink dat ons dinge vir Hom kan verberg. Dink maar aan Ananias en Saffira wat gedink het dat hulle God kan bedrieg sonder dat Hy dit sou weet. Hulle is met die dood gestraf vir hulle valse gesindheid! Handelinge 5:9: “En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.”
Wanneer ons God nie met ‘n opregte hart dien nie, stel ons onsself oop vir die giftige pyle van misleiding wat die satan op ons sal afvuur. Dit is dan ook in die Afrikanervolk se bestaan bewys oor die afgelope paar dekades hoe ons as volk tot op die rantjie van ‘n afgrond gelei is omdat ons harte stomp geword het, die opregtheid van ons Godsdiens verdwyn het en dit vir ons ‘n blote tradisie geword het, of self meer skreiend – in sommige gevalle in ‘n kompetisie ontaard het.
Dit is tragies hoe valsheid selfs in die meeste kerke wat die Afrikaner tot stand gebring het, vastrapplek gekry het. Dit wat veronderstel is om ‘n huis van God te wees waarheen die mens gaan om God te dien deur:
- Sy lof te besing;
- Sy Naam te eer;
- Hom te aanbid;
- Berou te hê oor sy sondes en dit voor Hom te bely en om vergifnis te pleit en Hom vir krag en genade te vra om teen hierdie sondes te stry en dit te laat staan;
- Dankoffers aan Hom te bring;
- Sy Aangesig en sy Wil vir jou lewe te soek;
- Kennis van Hom te vermeerder om sodoende meer gehoorsaam aan Hom te leef,
het in menige gevalle ontaard in handelshuise waar mense in die gehoor gestreel word om die getallesterkte te bou, want meer getalle in die kerk, beteken mos groter fondse. Die kerke ontaard in masjiene van tradisie wat meer gesteld is oor hoeveel geld daar op die jaarlike “basaar” gemaak word, as hoeveel siele daar in die afgelope jaar vir Christus gewin en behou is. Mense doen mee aan talle dinge binne die kerk met ‘n gesindheid van algehele valsheid om ander mense tevrede te stel en nie in die opregtheid van hul harte nie.
- Sondae moet daar gekyk word wie met die nuutste en blinkste motor by die kerk opdaag.
- Mense sit in die kerkbanke (en is selfs ampsdraers) met sedige gesigte, maar sodra hulle die kerk verlaat, word daar gedeel in Sabbatsontheiliging deur hul weeklikse inkopies te gaan doen en selfs skokkende Sondag-“nuusblaaie” aan te koop.
- Mense laat hul kinders doop en maak beloftes daar in die kerk uit blote tradisie.
- Jongmense lê uit tradisie ‘n belydenis van geloof af, maar wanneer na hul lewenswandel gekyk word, ontstaan die vraag gou of hierdie persoon waarlik vir God ken?
- Mense gaan soek die kerk uit tradisie op wanneer hul in die huwelik bevestig wil word en maak uit gewoonte ‘n belofte aan God om trou te bly aan hul huweliksmaat om maar net, sodra die wellus (wat met liefde verwar word) bedaar het, die wêreldse tradisie van egskeiding te volg en die wêreldse siening van reg en geregtigheid te verhef bo God se bevele.
Maak ons nie ‘n bespotting van Hom deur met sulke dinge om te gaan asof dit ligtelike sake is wat nie smart in sy hart veroorsaak nie? Kan ons met reg sê dat ons Hom liefhet wanneer hierdie tipe van optrede ons nie pla nie – optrede wat die kosbare bloed van Jesus Christus verwater tot ‘n nietigheid?
Een van die grootste oorsake, myns insiens, vir hierdie valsheid in ons volk se hart en ook in die meeste kerke, is verdraagsaamheid teenoor die bose. Daar is toegelaat dat mense wat lede is van geheime organisasies, toe lidmate en ampsdraers van ons kerke word. Lede van organisasies wat Jesus Christus se kosbare soenbloed as niks meer verhewe beskou as ander gelowe se standpunte nie. Mense wat Maandag tot Saterdag afgodery bedryf en selfs meewerk aan die aftakeling van God se koninkryk op aarde, maar ons verwag dat diegene ons God wel op ‘n Sondag sal liefhê en sy Aangesig en wil sal soek?
1 Konings 18:21: “En Elia het nader gekom na die hele volk en gesê: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg Hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” 1 Kor. 10:21&22: “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?”
2 Kor. 6:14 – 16: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.”
Mense wat van Maandag tot Saterdag een god dien en Sondag skynheilig probeer om die ware God te aanbid, wandel as vyande van die kruis van Christus. Fil. 3:18&19: “Want baie – van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê – wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.”
Ons verdraagsaamheid teenoor en ook deelgenootskap met ongelowiges in ons persoonlike lewens, huisgesinne, skole, kerke en selfs op staatkundige gebied, het ons vriendskappe laat smee met mense wat as vyande van die kruis van Christus wandel. In plaas daarvan dat ons hul gruwelike lewenswandel bestraf en beveg, het ons ook begin om aardse dinge te bedink. Soos ‘n kanker het hierdie siekte van wêreldse aanvaarding ons roeping om as God se kinders in opregtheid voor Hom te leef, kom verteer. Hierdie kanker wat besig is om ons as ‘n volk te verteer terwyl ons magteloos toekyk. Hierdie kanker het ons volk op ‘n siekbed laat beland en ons sal moet smeek vir genesing van ons wonderlike Geneesheer teen hierdie dodelike kwaal!
Sal ons as volk voortgaan om dag-na-dag hierdie uitmergelende las van valsheid saam te sleep en voor te gee dat ons niks verkeerd doen nie en derhalwe blakend gesond is? Hierdie leuen en valsheid sal ongetwyfeld veroorsaak dat ons volk in die put van algehele vernietiging beland en ‘n weiering om die ware Geneesheer te smeek om die wond aan ons geslaan te genees, sal ons volk se lyk eerloos ook by die lykshuis van vernietigde volke versamel word. . .
Ons hoef egter nie magteloos toe te kyk hoe hierdie volkie wat die Almagtige deur soveel genade hier aan die suidpunt van Afrika geplant het, deur die bose vernietig word nie. Ons kan kies om Hom in opregtheid te dien om sodoende die verkeerde in ons lewens te vernietig en te vra na sy Wil vir ons lewens. 2 Kor. 6:17&18: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”
2 Kor. 7:1: “TERWYL ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alles besoedeling van die vlees en die gees reining, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” Ons kan nie die pad van heiligmaking betree sonder ‘n gesindheid van opregtheid nie. Sonder opregtheid sal ons net sekere verkeerde dinge in ons lewe probeer vernietig en probeer om sekere dinge vir God te verberg. In opregtheid sal ons ons diepe bedorwenheid besef asook ons onvermoë om hierdie bedorwenheid te herstel. Laasgenoemde sal opnuut die belangrikheid van Jesus Christus se kosbare soenbloed vir ons na vore bring wat ons sal dryf om in dankbaarheid te leef voor God en om die weg te probeer baan vir Hom wat weer sal kom.
Wanneer u voel dat die oorblyfsel van ons volk te klein is om ‘n verskil op aarde te maak, onthou dat ons slegs instrumente in God se Hand is. In ons swakheid, word Sy krag (wat oneindig is) juis volbring. Dink maar hoe God opregte mense soos Noag, Job, Dawid, ons Meester, Jesus Christus, en vele ander as kragtige instrumente in sy Hand gebruik het.
In opregtheid voor God, sal ons die totale hopeloosheid van ons eie en ook ons volk se bedorwe toestand opnuut besef. In opregtheid kan ons egter gedurigdeur op Hom hoop en wag op sy genadige en barmhartige belofte in Psalm 112:4: “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: Get, genadig en barmhartig en regverdig.”