Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die volk in 1 Kor 10:6 se ondankbaarheid vir God se genadegawes het dit laat verander in oordeel. Dit verskil nie van ons volk vandag nie – in plaas van gehoorsaam te lewe uit dankbaarheid sondig ons volk steeds voort met dobbel, huweliksontrou, aborsie en alles wat die godlose owerheid aan ons voorhou as veroorloof.
WIE WEET WAARHEEN HIERDIE VOLK SAL GROEI?
Hannes Ollewagen
(Ons plaas hierdie steeds aktuele Geloftedagboodskap al is dit laat)
Neh. 1:1-11
“En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand. En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel en gesê: Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou-“ (:3-5)
As ons vandag moet terugtree en ons volkshuishouding in oënskou moet neem – is dit nie ook in ellende gedompel en vervalle soos die muur van Jerusalem waarvan ons lees in Nehemía 1 nie? Verkeer ons nie ook in groot ellende en smaad nie? Die feit dat ons nie weggevoer is na ‘n ver land vir twintig of meer jaar en daarna teruggekom het nie, maak dat ons dalk nie die geleidelike verval só opmerklik waarneem nie.
Ek wil egter vir die ouer mense onder ons vra om terug te dink aan ons land, ons volkshuishouding van 30 – 40 jaar gelede en in ‘n geestesvlug vir ‘n paar minute in u gedagtes daaroor te peins. Onthou u hoe dit was – hoe dit veronderstel is om te wees? En nou die harde werklikheid dat u nie in u gedagtewêreld en herrinnering kan leef nie en daardie mooi gedagtes maar ‘n hersenskim is wat nou moet plek maak vir die harde realtiteit van ‘n verpletterde volk vandag. ‘n Volkshuishouding waarvan die mure omgestoot is en die fondamente hard geskud is. Lê die murasies van gebroke huwelike en gesinne, ontspoorde kerke, kommerwekkende en verfoeilike onderwysstelsels, ‘n verwarde jeug – eintlik ‘n verwarde volk – en ‘n samelewing wat oor die afgrond gesleep word deur sinlike genot, nie oraloor versprei nie?
Ons word gesmaad in ons eie Vaderland waar daar nie meer plek is vir Afrikaans, Afrikanerskap en Christenskap (oftewel geloof in God Drie-enig) nie. Ons kyk rondom ons en ek vra u waar die huis/altaar is wat ons beloof het om vir God op te rig tydens die aflegging van die Gelofte in Desember 1838? Dit is wanneer ons in alle eerlikheid hieroor besin dat ons ook voel om soos Nehemía dae lank oor ons volk se ellende te treur.
Ons dink egter ook aan die tweede been van die Gelofte waarin ons beloof het om hierdie dag, 16 Desember, as ‘n Sabbat en dankdag te onderhou en om God te loof en te eer vir die oorwinning aan ons volk geskenk op 16 Desember 1838. Dit is hierom dat ons nie hierdie dag in rouklaag deurbring nie, maar eerder dink aan die lof en dank aan Hom verskuldig vir die oorwinning wat deur sy hand vir ons bewerk is.
Ons dink terug aan die gebeure in 1838 – hoe magteloos die leiers en die volk in daardie stadium moes voel. Ons dink aan leiers wat nie vir ‘n oomblik onbewus was van die verantwoordelikheid van ‘n volk se lewe wat in hulle hand gelê is nie en dank God uit ons harte dat Hy hulle harte sterk gemaak het en hul harte nie voor die gevaar laat smelt het nie. Ons dank God dat Hy ons van leiers voorsien het wat nie bereid was om met die lewe van ons volk te dobbel nie, maar wat in ootmoed bereid was om die lewe van ons volk voor Hom op ‘n altaar te plaas en Hy het dit aangesien!
Ons dink vandag aan ‘n volk wat ook in magtelose frustrasie leef. ‘n Volk wat sien hoedat dinge wat deur harde werk, opoffering en geweldige seën van Bo opgebou is, afgebreek word tot niks terwyl ons moet aanhoor hoedat dit ons straf is vir sogenaamde onregte uit die verlede.
Ons het vandag ook geen meer Andries Pretorius of Sarel Celliers nie, maar daar is steeds vir die oorblyfsel van ons volk die Onveranderlike wat ook by Bloedrivier aanwesig was. Ons het steeds die blye versekering dat ons as volk ook steeds ons God kan aanroep in ons dag van benoudheid, maar ons moet onthou dat Hy van ons eis om Hom te eer om sodoende ons dank aan Hom te betuig. “Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps. 50:14-15). Hy luister steeds na ons gebede soos wat Hy na Nehemía en ons voorouers se gebede geluister het en Hy is steeds by magte om te red, soos wat Hy ook op hulle versoek gered het.
Dit was Sarel Celliers wat baie versigtig was om die voorstel van ‘n Gelofte aan God aan die volk voor te lê omdat hy nie oortuig was daarvan dat die nageslag hierdie Gelofte sou onderhou nie. Andries Pretorius het hom egter daarop gewys dat wat die nageslag doen, vir die boek van die nageslag is, maar dat hulle verantwoordelikheid is om die volk in die lewe te hou op daardie stadium. Laasgenoemde stelling was vir Celliers oortuigend dat hulle in hul omstandighede nie verkeerde besluite kan maak omdat hulle bang is vir die foute en/of versuim van die nageslag nie, want versuim om die regte ding te doen, sou daartoe lei dat daar geen verdere nageslag sou wees nie.
Hoeveel van ons voel nie ook asof dit nie die moeite werd is om te ywer vir die behoud en voortbestaan van ons volk nie, want watter versekering het ons dat die nageslag hulle verantwoordelikheid in hierdie verband sal nakom en sal voortbou op ons harde werk? Ons moet dus ook onthou dat dit wat die nageslag doen, vir hulle eie boek is, maar as ons nie ons verantwoordelikheid gaan nakom nie, is daar bes moontlik nie ‘n nageslag wat sal kan fouteer nie!
Die geskiedenis leer vir ons baie duidelik dat ons nie op die nageslag kan reken nie, maar dat ons wel op God kan reken. Hý sal ook die nageslag teregwys en tugtig wanneer hulle nie hul verantwoordelikheid in hierdie volkshuishouding nakom nie, soos wat Hy besig is om die huidige geslag te tugtig daarvoor. Hý is die Regverdige wat die volgende geslag sal tugtig vir hul minagting van dure offers wat deur die vorige geslagte gebring is. Hy is die Een wat tot in die laaste geslag die Onveranderlike sal wees waarop ons kan reken, kan glo, hoop en vertrou.
Sarel Celliers se versigtigheid om die Gelofte voor God af te lê met sy verwysing dat ons nie weet waarheen hierdie volk sal groei nie, getuig van ‘n man wat in sy gees begryp het dat God in staat is om hierdie volk na hoër hoogtes te neem as waaraan ons sou kon dink. Ek twyfel egter of Sarel Celliers se grootste verbeeldingsvlug hom só hoog sou kon neem as die hoogtes wat God vir hierdie volk bestem het. Hy het in net meer as ‘n eeu na aflegging van die Gelofte hierdie volk verhef uit ‘n ellendige gespartel in bloedplasse by Bloedrivier na ‘n soewereine volk met
- ‘n eie pragtige en suiwer moedertaal;
- ‘n vertaling van die Bybel wat selfs as een van die beste vertalings in die wêreld beskou is;
- ‘n sterk militêre mag wat ons volk teen uitwendige gevaar kon beskerm en verskans;
- ‘n sterk ekonomie met werkgeleenthede vir diegene wat bereid was om hard te werk;
- ‘n gesonde volkshuishouding met ‘n gesonde en unieke kultuur.
Vandag is daar in ons volkshuishouding van bogenoemde roem en eer weinig oor. Ek het egter reeds genoem dat ons nie op hierdie heilige en roemryke dag gaan treur oor ons ellendige toestand nie, maar dat ons veel eerder die lof en eer van God sal besing om hierdeur besiel te word om opnuut te begin herbou aan hierdie vervalle heiligdom van Hom hier aan die suidpunt van Afrika.
Mag Hy ons aansien, en mag ons barmhartigheid en genade in sy oë vind wanneer ons vandag ook ons Geloftes aan Hom betaal soos wat ons voorgeslagte beloof het om te doen. Hy alleen kan ons die krag gee om hierdie puinhoop van ons volk te herstel tot ‘n gesonde volkshuishouding wat voor sy Aangesig sal leef om sy wil te doen, sou dit Hom behaag. Wie van ons wat vandag hier teenwoordig is weet waarheen hierdie volk kan groei? Hy alleen weet wat die doel van ons volk in wy Raadsplan is, maar Hy verwag dat ons ons verantwoordelikheid sal nakom – ons verantwoordelikheid om in Hom te bly glo en Hom gehoorsaam te wees. “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrwywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.” (Hand. 15:14-18).
Waarheen hierdie volk sal groei, kan ek vir u nie sê nie. Ek kan egter vir u wel met sekerheid sê dat die wortels van hierdie klein volkie diep, baie diep geanker lê en dat ek wel hoop in my binneste koester dat hierdie wortels diep genoeg lê om ons geanker te hou in hierdie moeilike tye.
Waarheen Hy hierdie volk sal laat groei, weet ons is aan Hom alleen bekend. Dit is egter die gebed van my hart dat waarheen Hy ookal hierdie volk laat groei, Hy daar sal wees om ook die opkomende geslagte aan die hand te vat om hulle verder te lei op die weg wat Hy vir ons berei het. Dit is daardie weg waarop ons vir Hom sal wees knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry.