Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Lyding maak gelowiges sterk. Dit brei, vorm en verdiep. Dit gee ons krag en weerstand. Kortom: Dit gee ons geestelike staal.
BETAAL AAN ELKEEN WAT HOM TOEKOM
Hannes Ollewagen
Rom. 13:1-7
“Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.” (:7).
Ons moes oor die afgelope paar weke sien hoedat regerings regoor die wêreld allerhande maatreëls in reaksie op die COVID-19 virus instel. Ons is hier ter plaatse nie die skade en histerie gespaar nie. Inteendeel, soos dit maar in Afrika gaan, is daar talle maatreëls en wette ingestel wat ‘n mens maar net kopskuddend ontvang het. Die sinvolheid en waarde is vir menige van ons glad nie duidelik nie.
Dit was egter opvallend hoedat hierdie maatreëls deur die beskaafde deel van ons land se bevolking gerespekteer is. Nieteenstaande die feit dat hierdie maatreëls ‘n dramatiese impak op ons lewens kan uitoefen, is daar steeds gehoor hieraan gegee. Ek kan nie help om te wonder hoe dit is dat ons so maklik en gewillig gehoor gee aan die maatreëls en wette van ‘n heidense en goddelose regime, maar ons sal nie op soortgelyke wyse ons aan God en sy Gebooie onderwerp nie. Ons sal nie op dieselfde wyse aan sy eise eerbiedig nie. Is ons aan ‘n heidense, goddelose, menslike regering meer eer, vrees en gehoorsaamheid as aan God verskuldig?
Die woorde van onse Here Jesus Christus in Luk. 20:25 beklemtoon die teks van ons oordenking uit Rom. 13:7 wanneer Jesus die owerpriesters en skrifgeleerdes teregwys:
“Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”
Die opdrag is dat ons ook aan God moet betaal wat Hom toekom! Waarom betaal ons dan nie aan God die eer wat ons aan Hom verskuldig is nie – kom dit Hom nie toe nie? Waarom betaal ons God nie die vrees wat ons aan Hom verskuldig is nie – kom dit Hom nie toe nie?
“…As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? …”(Mal. 1:6).
Wanneer die goddelose regering beveel dat besighede vir weke aaneen gesluit moet wees, gee ons gehoor. Wanneer God sê dat ons asook ons werknemers op die Sabbatdag moet rus – een dag van die week wat deur Hom geheilig is – werp ons dit agter ons rug. Ons is bereid om die staat se bevel te gehoorsaam, maar ons sal God se bevel minag! Ons sal tog ons lot voor God bekla dat dit met ons sleg gaan, want die dwaalgeeste verkondig mos net seën en voorspoed van God ongeag of ons Hom eer of minag. Hierdie dwaling wat duidelik in die woorde van Hoséa 4:10 as sulks uitgewys word:
“Dan sal hulle eet, maar nie versadig word nie; hulle sal hoereer, maar nie uitbreek in menigte nie; want hulle het nagelaat om die HERE te vereer.”
Die mens wat tog so lief is om sy eie eer te soek en sy eie beeld te poets is in hierdie tyd tog so trots op homself dat hulle selfs die helfte of meer van hul reuse besoldiging elke maand afstaan om allerhande hulppakkette te ondersteun. En dit word vrywillig gedoen, maar moenie glo dat ons bereid is om ons tiendes aan God af te staan nie. Hy is dit mos nie waardig in ons oë nie. Dit kom Hom mos nie in die hebsugtige en gierige mens van vandag se oë toe nie. Dit is mos nie in die mens van ons tyd se oë verkeerd om God te beroof nie.
“Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” (Mal. 3:8&9).
Geliefdes, het ons regtig reg om die slegte toestande van ons tyd voor God te bekla wanneer ons Hom met soveel minagting behandel? Is ons nie vermetel om tot Hom te nader en om hulp te roep wanneer ons tot oor ons ore toe in die skuld is voor Hom en nie eers ‘n poging aanwend om aan Hom te betaal wat Hom toekom nie? Ons verwag dat Hy ons moet eer en aan ons versoeke en bedes moet voldoen terwyl ons nalaat om aan Hom die eer wat ons verskuldig is te betaal. God werk gewoon nie op hierdie wyse nie, want Hy is niemand se gek nie!
“…want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.” (1 Sam. 2:30).
Maar is God dan nie genadig en barmhartig nie? Natuurlik is Hy! Maar luister mooi na die woorde uit Lukas 1:50:
“En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.”
Ja, vir die wat aan Hom die vrees betaal wat Hom toekom.
U sal dalk vanoggend aan my stel dat u slegs die regering se maatreëls nakom omdat u vrees vir die straf wat u opgelê kan word. U sien nie kans vir ‘n boete of selfs gevangenisstraf wat aan oortreders opgelê kan word nie. Ek wil dan vir u vra of u kans sien om die ewige straf, die ewige grimmigheid van God in die hel te verdra wat die lot en loon is vir diegene wat Hom nie vrees, gehoorsaam en liefhet nie?
“...maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!” (Luk. 12:5).
Ons het dalk vanoggend genoeg stof tot nadenke. Die woorde van Jesus Christus uit Johannes 8:49 is dalk vanoggend net so reguit op ons gemik as op die Jode wat daardie dag deur Hom aangespreek is.
“…maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.”
‘n Aanklag wat geen kind van God ooit wil hoor nie – “Jy doen My oneer aan.” Nee, geliefdes. Ons sal veel eerder wil doodseker maak dat ons onse Here Jesus Christus dien en sodoende deur ons hemelse Vader geëer as beskuldig en veroordeel word.
“As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” (Joh. 12:26).