Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kennis is die voedingsbron van ‘n beskawing en ‘n kundige volksleier se kennis die resultaat van ‘n flink brein. Geleerdheid is ‘n skat wat niks weeg nie en oral saamgedra kan word. As dit van ‘n onkreukbare karakter vergesel word, is dit ‘n sieraad vir ‘n volk!
AFGUNS PAS NIE BY GELOWIGES
Hannes Ollewagen
Titus 3:1-11
“Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” (:3).
Geliefdes, in hierdie brief van Paulus aan Titus praat Paulus van die lewe voor die bekering. En hy maak melding van verskeie booshede wat nie by ‘n gelowige tuishoort nie. Hy praat van die begeerlikhede van die vlees, sinsgenot, liefdeloosheid (haat) en maak dan ook spesifiek van afguns melding. Hierdie lelike eienskap, afguns, word pertinent by die naam genoem. Dit is derhalwe nie sommer iets nietig of onbenullig nie.
Wanneer ons in Galásiërs 5 van die vrug van die Gees teenoor die werke van die vlees lees, word hierdie eienskap – afguns – weer pertinent by die naam genoem. “...afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
Afguns, geliefdes, word in dieselfde asem as moord genoem en daar word gestel dat iemand wat hierin leef nie die koninkryk van God sal beërwe nie. Ja, dit gee vir ons ‘n duidelike begrip hoe veragtelik afguns in die oë van die HERE is. En daarom kan ons met reg sê dat hierdie eienskap nie vir een oomblik by ‘n gelowige kind van God tuishoort nie.
Waarom hieroor praat, geliefdes? Natuurlik omdat hierdie lelike smet van afguns onder ons volk ook nie iets onbekend is nie. Dit is iets wat ons dikwels onder ons sien en hoor. Dink maar van hoeveel families u weet waar afguns mense geheel uitmekaar gedryf het. Broers en susters wat nie met mekaar klaarkom nie omdat afguns ‘n wig tussen hulle ingedryf het. Ouers en kinders wat nie met mekaar praat nie omdat afguns nie in hul lewens keelafgesny is nie. En dit behoort ons te help om in te sien waarom die HERE so ‘n ontsettende afkeur hierin het. ‘n Afgunstige mens is ook ‘n mens wat aan ware, opregte liefde vir sy naaste ontbreek. En is hierdie nie ‘n oortreding van die tweede gebod wat stel dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself nie?
Geliefdes, afguns is verder ‘n minagting van God. Wanneer ek afgunstig is oor iets wat die HERE aan my naaste deur sy genade skenk, doen ek sommer klomp dinge wat vir die HERE nie aanneemlik is nie. Ek minag die HERE deur nie daaraan te dink en te erken dat Hy die Allerhoogste en daarby die Skepper van alle dinge is en in sy wysheid kan en sal uitdeel na sý welbehae nie. En God het sy afkeur hierin aan Job uitdruklik gestel. “Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.” (Job 41:2).
Ek ag myself in die proses ook hoër of meer regverdig as my naaste deur te dink dat ek meer verdienstelik is en terselfdertyd impliseer dit dat God my onregverdig behandel. ‘n Afgunstige gesindheid vooroorsaak verder dat ek nie waardering het vir dit wat God wel uit genade aan my skenk nie. En die HERE het natuurlik ook nie in ondankbaarheid ‘n behae nie. “En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was ‘n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?” (Luk. 17:16-18). Ja, geliefdes, behoort ons dankbaarheid vir dit wat die HERE aan my en u uit genade skenk nie die lelike kiem van afguns in ons lewens te versmoor nie eerder as wat ons aan afguns verstik? Dit is tog ongetwyfeld hoe dit in die lewe van ‘n gelowige kind van God behoort te wees!
Geliefdes, mag ek en u vanoggend hierdie teregwysing uit die Woord van die HERE ter harte neem. En sou ek en u dalk vandag besef dat afguns ook in ons lewens sigbaar is behoort ons met erns onsself die vraag te vra of dit die moeite werd is om hierdie afguns ten koste van ons ewige lewe te bly koester. Ek oordryf nie, geliefdes. Die Woord van die waarheid stel dit duidelik dat hulle wat in afguns leef nie die koninkryk van God sal beërwe nie. Dit is sekerlik ‘n groot genoeg rede om met ywer hierdie onkruid uit ons lewens uit te roei!
“Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns... “ (1 Pet. 2:1).
Amen.