Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oorwinning in die lewe is nie daarin dat jy nooit mag struikel nie; dit lê suiwer in die feit dat jy elke keer opstaan wanneer jy gestruikel het.
SAAI VOLGENS DIE EIS VAN GEREGTIGHEID
Hannes Ollewagen
Hos. 10:1-15
“Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën. Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.” (:12&13).
Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die landbouers in ons omgewing alles in gereedheid bring vir die nuwe seisoen. Deeglike beplanning is gedoen om die implemente en werktuie na te gaan en te verseker dat die werk so effektief en moeiteloos as moontlik gedoen kan word. En dan is daar beplan watter gewasse verbou gaan word. Sodra daar genoegsame reën geval het, word daar met inspanning en ywer begin werk en daar word opnuut na die nuwe seisoen en die verwagte opbrengs daarvan uitgesien. En so word daar ook gedurig ná die aanplanting van gewasse gewerskaf om onkruid te bestry en bemesting toe te dien om die grootste moontlike oes te verseker.
Daar is nie ’n enkele landbouer wat nie die geleentheid om sy landerye te bewerk en te beplant wanneer daar genoegsame reën geval het deur sy vingers sal laat glip nie. En dit is natuurlik omdat hy weet wat die gevolge van hierdie laksheid of ongeërgdheid vir hom sal wees. Dit kan eindelik daartoe lei dat hy sy plaas kwyt is en dit kan sy toekoms ontsettend negatief raak. Daar is ook nie ’n enkele landbouer wat sy lande vol onkruid gaan saai nie, want dit sal tog heeltemal onbesonne wees.
Terwyl ons hierdie dinge so maklik verstaan, wonder ek waarom ons dieselfde beginsels in ons geestelike lewe nie met dieselfde gemak begryp nie? Ons het in ons geestelike lewe ook die verantwoordelikheid om in die akker van ons lewens te arbei. En ons moet dit met ywer by elke beskikbare geleentheid doen. Ons moet die akker van ons lewens in geregtigheid bewerk sodat die koninkryk van God daarin kan toeneem en jaar na jaar ’n groter en meer belowende oes vir God kan voortbring. “EN Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ’n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot – hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die volle koring in die aar.” (Mark. 4:26-28). Indien ons nalaat om die akker van ons lewens voor te berei, sal die goeie saad van God se Woord wat in ons lewens beland waarskynlik net verskroei en verdroog. “En ’n ander deel het op rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.” (Mark. 4:5&6). Daar was duidelik niks fout met die saad wat hier gesaai is nie, maar omdat die voorbereiding hiervoor nie reg was nie het hierdie goeie saad verlore gegaan.
Ons het nie alleen die verantwoordelikheid om die akker van ons lewens te bewerk sodat die goeie saad van God se Woord maklik daarin kan ontkiem nie, maar ons het ook die verantwoordelikheid om die onkruid van sonde met wortel en tak uit te roei. Ons kan nie die onkruid maar ongeërg toelaat om welig in ons lewens te groei en steeds verwag om ’n goeie oes op te lewer nie. “En ’n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie.” (Mark. 4:7). Daar is geen ervare landbouer wat onkruid nie as ’n groot bedreiging beskou en wat nie die eerste beskikbare geleentheid sal gebruik om hierdie onkruid met mening uit te roei om die beste moontlike oes te verseker nie. En so moet ons met ywer die onkruid van sonde in ons lewens uitroei om sodoende ’n goeie oes in ons lewens te verseker.
Daar is natuurlik ook nie ’n enkele landbouer wat een gewas saai en verwag om ’n ander gewas te oes nie. Dit is tog ’n baie eenvoudige begrip. En so kan ons ook nie verwag om voortdurend ons lewens met ongeregtigheid en die onkruid van sonde te besaai en eindelik ’n indrukwekkende oes van geregtigheid voort te bring waarmee God tevrede sal wees nie. Ons kan nie verwag om uit ’n lewe wat met ongeregtigheid en die onkruid van sonde besaai is die vrug van die ewige lewe te maai nie. Hieroor is God in Gal. 6:7&8 baie duidelik. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” Enige landbouer bewerk sy grond met die hoop en vooruitsig van ’n goeie opbrengs. Hy streef na goeie kwaliteit en terselfdertyd ook na die grootste moontlike kwantiteit. Ek twyfel of daar ’n kundige landbouer is wat jaar-in en jaar-uit dieselfde stuk grond op dieselfde wyse sal bewerk en met dieselfde gewas sal beplant indien daar voortdurend geen oprbengs is nie. “EN Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?” (Luk. 13:6&7).
Ons het ’n uiters bekwame en ervare Landbouer wat in die akker van ons lewens gedurig werksaam is en Hy verwag dat ons vir Hom oorvloedige vrug moet oplewer. “EK is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.” (Joh. 15:1&2). Ons moet met elke beskikbare geleentheid ook in die akker van ons lewens arbei om te verseker dat ons voor Hom ’n vrugbare stuk land en goeie grond is waarin die saad van sy Woord maklik sal ontkiem en eindelik oorvloedige vrug sal oplewer. “En by wie op die goeie grond gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.” (Matt. 13:23).
Laat ons vir ’n oomblik besin oor wat die dinge is waarvoor ons met soveel inspanning ywer. En laat ons besin hoe groot die verlies van ons ewige erfenis is en nie onverskillig daarmee omgaan nie, maar eerder met groot ywer vir die verkryging en behoud daarvoor arbei. Laat ons met mildadigheid volgens die eis van geregtigheid die saad van God se Woord in ons lewens saai en met krag en ywer die onkruid van sonde in ons lewens uitroei. En mag hierdie voortdurende en getroue arbeid tot ’n lewe lei waarin ons met volharding tot sy eer sal vrug dra. “En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” (Luk. 8:15)