Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geld kan medisyne koop maar nie gesondheid nie; dit kan 'n huis koop maar nie 'n tuiste nie; dit kan geselskap koop maar nie vriendskap nie; dit kan vermaak koop maar nie geluk nie; dit kan kos koop maar nie 'n aptyt nie; dit kan 'n bed koop maar nie 'n goeie nagrus nie; dit kan 'n kruis koop maar nie 'n Verlosser nie; dit kan 'n goeie lewe koop maar nie die ewige lewe nie.
ROEM IN DIE HERE
Hannes Ollewagen
Núm. 20:1-29
“En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë, dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink. Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee. Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.” (:7-12).
Moses was ’n besonderse mens. Hy het in ’n ontsettende noue verbintenis met God gewandel. “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos 'n man met sy vriend spreek. ...” (Ex. 33:11). Maar ten spyte hiervan was hy ook net ’n mens met sy eie tekortkominge. En in ons gelese gedeelte lees ons van een van daardie min kere waar Moses verkeerd gehandel het. Ons lig hierdie fout van Moses (en Aäron) uit omdat daar vir ons as God se kinders hieruit ’n kosbare lering spruit.
Die volk kom vir die soveelste maal na Moses met nog ’n saak waaroor hulle murmureer. Dit was nogal ’n groot probleem – hulle sit in die woestyn met hulle families en vee en daar is vir hulle geen water nie. En dan hanteer Moses hierdie saak, soos gewoonlik, op die verstandige en regte wyse deur die probleem na God te neem. God, die Almagtige, is natuurlik met ’n oplossing gereed. Hy wys vir Moses ’n rots aan en gee aan hom bevel om voor die oë van die volk die rots aan te spreek sodat daar vir die volk water uit kan vloei. God gee pertinent die opdrag dat Moses en Aäron eers die volk moet byeen laat kom en dan voor hul oë, sodat hulle dit kan sien, met die rots moet spreek waaruit daar dan water sal vloei. Die volk moet sien dat God op onverklaarbare wyse, op alleen ’n Goddelike wyse, vir hulle van water voorsien sodat hulle in Hom sou glo, op Hom sou vertrou en Hom hiervoor sou eer.
Wanneer die volk byeen is en Moses en Aäron voor hulle staan, begaan hulle ’n fout. Hulle gee toe aan ’n swakheid van die vlees om hulself voor die volk te verhef. Ek glo nie dat dit moedswillig was nie, maar dat hulle tog in vleeslike swakheid hierin gestruikel het. Hulle vra vir die volk – “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”. En dan slaan Moses die rots eerder as om dit aan te spreek volgens God se bevel. Moses en Aäron tree na vore en deur hul optrede word God na die agtergrond geskuif eerder as Hom voortdurend op die voorgrond te stel en voor die volk te heilig. En God was hiermee nie tevrede nie. “Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.” Die woorde uit Jesaja 48:11 bevestig ook vir ons hoe belangrik God se eer vir Hom is. “...en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.” Die straf wat God hierdie twee manne oplê, onderstreep dan ook hul oortreding. Hulle het hier by die rots nie die nodige eer aan God laat toekom nie. Hulle sal nie toegelaat word om hierdie volk die beloofde land te laat erwe nie sodat die eer hiervan nie op enige wyse aan een van hulle toegeskryf kan word nie. Die eer hiervoor sal aan God alleen gegee word.
Ons het in hierdie saak ’n mooi voorbeeld uit die lewe van koning Dawid. Hy bring ’n ontsettende groot offer om alles in gereedheid te bring vir die bou van God se tempel. “Bowendien, omdat ek behae het in die huis van my God, besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het: drieduisend talente goud, uit goud van Ofir, en seweduisend talente gelouterde silwer om daarmee die mure van die geboue oor te trek;” (1 Kron. 29:3&4). Maar wanneer hy hierdie groot offer bring, verwyder hy die fokus van hierdie groot offer en van homself en vestig hy die volk se oë weer op God sodat die eer nie aan homself, maar aan God sal toekom. “HERE onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, ’n huis te bou – dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U.” (1 Kron. 29:16).
In Jakobus 4:13-16 word ons ook uitdruklik oor hierdie saak aangepreek. “KOM nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.” En hoe nodig is dit nie vir ons om hierdie vermaning in ons dae aan te hoor nie. Ons is self tog só geneig om te roem op die hoogtes wat ons kan bereik met ons tegnologiese gevorderdheid vandag of met hierdie of daardie uitnemende manier wat ons beraam het om die een of die ander te doen. En tog, sonder die gawe van ’n lewensgees en alles wat met ’n gesonde liggaam gepaardgaan, sou ons nie eers bestaan het nie wat nog te sê tot enigiets in staat kon wees. Daarom kom die eer van alles wat ons ook moontlik kan vermag eindelik aan God toe.
Dit is dalk nodig dat ek en u vandag ook vir ’n oomblik stil raak en besin oor die eer wat ons aan God verskuldig is en of ons dit aan Hom laat toekom en of ons dalk ook skuldig staan deurdat ons die eer eerder aan onsself wil laat toekom. Mag ons hierop let en leer uit die foute van Moses en Aäron, maar ook uit die voorbeeld van koning Dawid en so in ons eie lewens die eer van God soek en in Hom, eerder as in onsself, roem.
“Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Kor. 1:31).