Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Martin Luther het by geleentheid gesê dit is die allerbeste teken wanneer as antwoord op ons gebede, skynbaar die teenoorgestelde gebeur. Net soos dit ook geen goeie teken is as in antwoord op ons gebede alles na wense verloop nie. Daarom gaan God teen ons gedagtes in sodat dit lyk of Hy ná ons gebede nog meer toornig op ons is as voor ons gebede. Dit doen Hy alles slegs omdat dit in sy aard is om eers tot niet te maak wat in ons is voordat Hy ons sy gawes skenk.
GODSDIENS MET YWER
Hannes Ollewagen
2 Kor. 5:1-10
“Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.(:9).
Hoeveel mense kan vandag soos Paulus sê dat hulle ywerig probeer om te doen wat vir God welbehaaglik is? Dit lyk eerder asof die mensdom ywerig besig is om die welbehae van die satan te doen. Dink byvoorbeeld aan die ywer waarmee gruwels soos homoseksualisme, geslagsveranderinge, materialisme, individualisme en dergelike dinge aangemoedig en bevorder word. Wat is dit anders as ’n ywerige diens aan die satan wat in God se skepping wil steel, slag en verwoes?
Die goddelose mens dink dat daar geen God is nie. Hy leef daarom ’n dwase lewe en handel eenvoudig na eie wil omdat hy nie glo dat daar van hom rekenskap van sy dade geëis sal word nie. “...Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.” (Ps. 14:1).
Die goddelose glo nie in die gebooie wat God vir die mens gegee het nie, laat staan nog dat hy hom sal beywer om hierdie gebooie na te kom. Ja, die goddelose se hart is verduister omdat hy verkies om nie te glo aan God wat Homself aan die mens openbaar nie. “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.” (Rom. 1:20&21).
Teenoor diegene wat God se bestaan en gesag ontken, is natuurlik die mens wat wel in die bestaan van God en die gesag van sy gebooie glo. Maar in hierdie groep tref ons ook ’n verdere onderskeid tussen diegene wat God se gebooie uit gewoonte en vrees nakom en diegene wat dit met ’n gewillige hart nakom. Hieroor het God Israel meermale aangespreek. “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.” (Jes. 29:13&14). Christus het hierdie saak natuurlik ook baie skerp aangespreek wanneer Hy met die skrifgeleerdes en Fariseërs geredetwis het. Hulle diens aan God was nie uit opregte liefde nie. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.” (Matt. 23:25). God het ’n behae daarin om met ’n gewillige en ywerige hart gedien te word. Hy vereis dit van sy volk. “Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal 'n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.” (Deut. 28:47&48).
’n Gesindheid van vrywillige en ywerige diensbaarheid lewer getuienis daarvan dat ons diens en gehoorsaamheid aan God uit liefde eerder as dwang of vrees spruit. Ons behoort daarom as God se kinders hierdie voorbeeld van Paulus na te volg. Hierdie voorbeeld van ’n ywerige gesindheid om God se welbehae te doen wat ook in die lewe van Dawid sigbaar was. “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land.” (Ps. 143:10). En wat Dawid ook as opdrag aan sy seun en troonopvolger, Salomo, gegee het. “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met 'n volkome hart en met 'n gewillige siel, want die Here deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.” (1 Kron. 28:9).
Gewoontes gaan tot niet terwyl die liefde daarenteen onsterflik is. ’n Godsdiens wat uit gewoonte bestaan is dus nie eg, standhoudend en ewig nie, maar wanneer dit uit liefde spruit, is dit eg en ewigdurend. Indien die ywer in ons Godsdiens ontbreek, moet ons dringende selfondersoek na die egtheid daarvan doen. Ons kan God nie behaag in ’n godsdienstigheid sonder liefde, egtheid en ywer om Hom te behaag nie. Laat ons daarom daarna soek om met ywer sy welbehae te doen. “HALLELUJA! Alef. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees, Bet. wat 'n groot welbehae in sy gebooie het.” (Ps. 112:1).