Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ghandi het op 'n keer gesê: "Julle Christene het 'n dokument in julle besit met genoeg dinamiet daarin om die hele beskawing op te blaas; om die wêreld onderstebo te keer, om vrede na hierdie oorlggeteisterde wêreld te bring. Maar julle lees dit asof dit net goeie literatuur is!" Wat 'n skandvlek op ons Christendom!
DIE KROON VAN GOD SE SKEPPING
Hannes Ollewagen
Génesis 1:1-31
“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (:26&27).
In die gelese gedeelte bevoorreg God ons om ’n klein stukkie van die wonderlike gebeure tydens die Skepping aan ons te openbaar. Hy leer ons hierin hoe die heelal ontstaan het, maar ook wat die oorsprong van die mens is. Die oorsprong van die mens is eenvoudig – hy het ontstaan op die oomblik toe God dit so besluit het. “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, ...”
Benewens die feit dat ons duidelik onderrig word t.o.v. die oorsprong van die mens openbaar God ’n bietjie meer inligting rondom die skepping van die mens. Die mens is nie alleen met ’n verantwoordelikheid teenoor God geskape nie, maar die mens het bepaald ook ’n ereplek in God se Skepping ontvang. Die mens is die kroon van God se Skepping. Daarbenewens openbaar God dit aan ons dat Hy die mens besonders geskape het – na die beeld van God is die mens geskape. Hierdie ereplek wat God aan die mens in sy Skepping gee, word ook deur koning Dawid in Psalm 8:4-6 aan ons gegee. “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het — wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.”
Hierdie openbaring moenie buite verband misbruik word, soos wat die afgelope paar dekades gebeur, om met verwaandheid die mens tot ’n tipe god te verhef nie. Daar is maar nog altyd net één ware God wat die Skepper van alle dinge, insluitend die mens, is. Met hierdie openbaring van God moet ons eerder opnuut ons verantwoordelikheid teenoor Hom in nederige ootmoed besef. Dit moet ons tot die besef bring dat ons kosbaar in sy oë is, maar eweneens is ander mense – wat ook deur Hom geskape is – in sy oë kosbaar. Hy het die werk van sy hande lief, Hy het sy Skepping lief – in besonder die mens wat ’n baie kosbare werk van sy hande is. Ja, hierdie liefde van God word baie duidelik aan ons geopenbaar. Luister na die getuienis uit Johannes 3:16. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Was hierdie offer op Gólgota nie die hoogste bewys van God se liefde teenoor die mens nie? En raak die liefdesverklaring van God in Jeremia 31:3 ons nie diep in die hart nie? “Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.”
Wanneer ons hierdie kernwaarheid van God se liefde vir die mens tesame met die plek van die mens in God se Skepping (ondergeskik aan God – en nie ’n god naas Hom nie) verstaan, is die insettinge en verordeninge wat Hy aan die mens gee aansienlik makliker om te verstaan. Ons sal dan die liefde in God se wette kan raaksien, maar ons sal dan ook kan insien dat sy wette vir ons ook geld en nie net vir almal rondom ons nie. Ons verstaan dan dat ’n gedagte dat ek met my lewe en liggaam kan handel na willekeur totaal verkeerd is. Wanneer God ons belet om ons liggame met tatoeëring en dergelike dinge te ontsier, het Hy die volste reg daartoe aangesien Hy ons geskape het. “Julle mag ook ter wille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here.” (Lev. 19:28). Ons het nie meer regte op ons liggame as Hy nie. Ons het nie die reg om dit wat Hy geskape het te ontsier of te onteer nie. Wanneer God aan ons die opdrag gee om die Sabbat te onderhou en aan ons onderdane ’n ruskans te gee, het ons nie die reg om hierdie verordening te minag nie. Ons onderdane is ook die werk van sy Hande en ons het nie die reg om hulle te verniel ter wille van ons eie begeertes wat in hebsug, selfsug en gierigheid gebore word nie. “...maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.” (Deut. 5:14). Wanneer God aan ons die opdrag gee om ons ouers te eerbiedig, is dit met goeie reg – Hy het hulle immers ook geskape en met die spesifieke doel om ons ouers te wees. Die voorwaardelike belofte wat saam met hierdie gebod kom onderstreep weer vir ons die belangrikheid wat God hieraan heg. “Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee.” (Deut. 5:16).
Ons behoort nou seker al maklik te kan insien waarom God gestel het dat die mens nie mag doodslaan nie. Sal enige mens die reg hê om sy hand na willekeur uit te strek en die kroon van God se skepping te skaad? Die verkeerdheid en ontoelaatbaarheid hiervan word duidelik in Gén. 9:6 uitgedruk. “Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” En die liefde van God kan duidelik gesien word in sy verbod op egskeiding en diefstal – geen mens is die reg gegee om sy eie vleeslike begeertes hoër te ag as die eerbied teenoor God en sy Skepping nie. En daarom bestaan daar ook geen ander huwelik voor God as een tussen ’n man en ’n vrou, soos wat God dit geskape het nie. Al die ander vorme van verbode samevoegings wat vandag gepropageer word, is niks anders as ’n verwerplike minagtig vir God en die werk van sy hande nie.
Geliefdes, ons is soveel eerbied teenoor God en die werk van sy hande verskuldig dat ons nie eers durf oneerbiedig daaroor praat nie. “Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.” (Jak. 3:8-10). En wanneer ons hart gevul is met ’n ware liefde en eerbied teenoor God, sal ons niks van ’n ander begeer nie – ons sal bly wees (eerder as afgunstig) wanneer ons die voorspoed en vooruitgang van ons naaste sien. Ons sal dankbaar wees vir die deel wat Hy vir ons afmeet en eerbiedig staan teenoor die deel wat Hy aan ’n ander gee. “Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” (Matt. 20:14&15).
Die Woord van God roep my en u vandag vir ’n oomblik tot stilstand om te besin met hoeveel eerbied ons teenoor ons Skepper en sy Skepping leef. Ons moet versigtig wees om nie gewoond te raak aan die eerbiedlose wyse waarop die wêreld rondom ons teenoor God optree nie, want dit getuig van ’n wêreld wat mank gaan aan liefde vir Hom. En Hy het ons ook daarteen gewaarsku. “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Matt. 24:12). Laat ons nie hieraan deelneem en gelykvormig word nie, maar eerder met volharding in ons liefde vir Hom, aan Hom, ons liefdevolle Skepper, die nodige eerbied bewys.