Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se verlossingsplan vir sy kinders is sekuur uitgewerk en uitgevoer deur die eeue en sal uiteindelik uitloop op die volkome geluksaligheid in die hiernamaals. Iewers in hierdie volmaakte plan pas hierdie nuwe jaar ook in.
GELOOF!
Hannes Ollewagen
Heb. 11:1-40
“DIE geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (:1).
“Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie. Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” (:23-27).
Die onlangse wetgewing van onteiening sonder vergoeding het weer gesorg vir heelwat beroering onder mense. En soos wat tyd onverpoosd aanstap, sien meer en meer mense die gevolge van dertig jaar gelede se besluit om die regeermag in die hande van ’n kommunistiese regeerbende te oorhandig.
Daar is natuurlik baie wat hieroor gesê kan word en elkeen sal seker sy opinie vir die oorsaak hiervan hê. Ons sal egter nie kan ontken dat een van die groot rolspelers in daardie besluit vrees was nie. Die vrees vir ’n moontlike “bloedbad” was vir baie mense só groot dat dit hulle blind gemaak het vir die gevolge wat sou vloei uit die besluit wat geneem word om hierdie “bloedbad” te vermy.
Die gevolge is egter vandag te bespeur – ’n grootliks verdorwe samelewing wat deur ’n kommunistiese rowerbende beheer word. ’n Bloedbad is toe nie vermy nie – dit is net vir ’n onbepaalde tyd uitgerek. Suid-Afrika het een van die hoogste moordsyfers ter wêreld met ongeveer 27 000 moorde in 2024 (dit is natuurlik net die wat aangemeld is) en dit is nie asof die einde van hierdie bloedbad in sig is nie.
En as ons moet praat oor die toename in werkloosheid, die afpersing en rampokkery op soveel terreine, die mishandeling van mense in hospitale waar daar nie vir hulle die basiese sorg gegee word nie, die vernietiging van skole en ons volk se kinders in die verrotte onderwysstelsel, die toename van dwelmmisbruik en dergelike dinge, sal ons die hele dag kan aangaan.
Die loon en gevolg van hierdie optrede uit vrees het vandag ’n wrang smaak – soos dit maar met sonde gaan. En dit is een ding wat ons vandag mooi moet verstaan – ons besluite moet as gevolg van geloof geneem word en nie as gevolg van ons vrese nie. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6).
Vrees is ’n emosie soos hartseer, woede en dies meer. Die Satan gebruik egter hierdie emosie om ons teen God te laat sondig. Ons moet derhalwe daarteen waak en oor hierdie emosie heers. Wanneer ’n mens nie oor jou emosie van woede heers nie sal die optrede wat daaruit vloei sonde word en daarom word ons gewaarsku om ons toorn te beheer. “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;” (Efés. 4:26). En so gebruik die Satan ook, met groot welslae, vrees om ons teen God te laat sondig. Hierteen moet ons ook stry en dit doen ons met die wapen van geloof. “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.” (Efés. 6:16). Ja, was Moses se ouers nie ’n mooi voorbeeld hiervan nie! Hulle geloof in God het hulle vrees verdryf. “Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie.” (Heb. 11:23). En Moses het hierdie voorbeeld van ’n diep geankerde geloof van sy ouers nagevolg. “Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” (Heb. 11:27).
Ons sien uit die Woord van God dat diegene wat God met ’n onwrikbare geloof behaag het, almal een ding in gemeen gehad het. Hulle fokus was nie hoe groot die uitdaging, bedreiging of probleem was waarvoor hulle te staan gekom het nie, maar eerder was hul fokus vierkantig op God. Hulle was veilig in die wete dat Hy God is, dat Hy werklik bestaan, dat Hy almagtig is, dat daar geen probleem of bedreiging is wat vir Hom te groot is nie en dat Hy natuurlik betroubaar is. Hy sal sy Woord altyd gestand doen. En daarom het hulle uitkoms gesien waar ander mense dit nie kon sien nie.
Terwyl die Israeliete in angs teen die Rooi See vasgekeer was en net die gevaar van die see en die dreigende weermag van die Israeliete kon sien, was Moses se fokus vas op God en daarom kon hy sien wat nie enige van sy volksgenote rondom hom kon sien nie. Hy kon die weg sien wat deur God vir hulle berei is en die volk daarop tot veiligheid lei. “En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe. Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” (Ex. 15:11-14).
Ons lees ook in 2 Konings 6 van ’n soortgelyke geval. Die koning van Aram het ’n swaar leër gestuur om Elisa te laat vang. En terwyl Elisa se dienaar net die gevaar kon sien wat hulle bedreig, het Elisa die reddende krag van God gesien omdat sy fokus vas op Hom was. “En hy sê: Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan laat vang. En daar is aan hom te kenne gegee en gesê: Hy is daar in Dotan. So het hy dan daarheen perde en strydwaens en ’n swaar leër gestuur, en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel. En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ’n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” (2 Kon. 6:13-17).
Die gebeure waarvan ons in 2 Kronieke 32 lees, lewer ook getuienis van ’n man met ’n geankerde geloofsvertroue en ’n vaste fokus op God. Ons sien hier ’n vreemde situasie ontvou en dit is dat die koning van Assirië vir oorlog teen Juda optrek en dit nadat Jehiskía met soveel getrouheid as koning voor God handel. Sy reaksie op hierdie bedreiging (wat nie gekom het as straf op sy sonde soos met soveel van die konings voor hom nie) was nie om God se regverdigheid te bevraagteken nie. En ewe min was sy fokus op die groot bedreiging rondom Jerusalem. Maar stewig was sy fokus op God. En met hierdie vaste geloofsvertroue van Jehiskía en Jesaja word die volk ook versterk om eindelik die kragtige redding van God te aanskou. “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of vanweë die hele menigte wat saam met hom is nie; want by ons is meer as by hom. By hom is ’n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskía, die koning van Juda.” (:7&8). “Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het, stuur die HERE ’n engel, en dié het al die dapper helde en bevelvoerders en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ’n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan. En die HERE het Jehiskía en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sánherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring.” (:20-22).
Ons het nou al die gevolge aanskou van optredes wat deur vrees eerder as geloof gedryf word. Laat ons hieruit leer en daarteen waak om in ons huidige omstandighede nie besluite te neem wat deur vrees gedryf word nie. Laat ons ook leer uit die voorbeelde van die geloofshelde van ouds en soos hulle ook God, die Almagtige, ons fokuspunt maak sodat ons met ’n vaste geloofsvertroue ook die uitweg sal volg wat Hy vir ons aanwys.