Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die doek wat op Christus se hoof in die graf was, het na sy opstanding eenkant opgevou gelê. In die Bybelse tyd het ’n welgestelde man sy servet opgevou as teken dat hy die tafel net vir ’n tydjie verlaat en weer sou terugkeer. Wat Jesus met die opgevoude gesigsdoek gesê het was dat Hy net vir ’n tydjie weg sou wees, maar weer sal kom. Is jy gereed vir sy Wederkoms?
BELANGELOOSHEID
Hannes Ollewagen
Neh. 5:1-19
“Ook van die dag af dat ek aangestel is om hulle goewerneur te wees in die land Juda, van die twintigste jaar af tot die twee-en-dertigste jaar van koning Artasásta, twaalf jaar lank, het ek en my broers die brood van goerwerneurs nie geëet nie; terwyl die vorige goewerneurs wat voor my was, die volk swaar belas het en van hulle brood en wyn geneem het, daarna veertig sikkels silwer. Hulle mense het ook heerskappy gevoer oor die volk; maar so het ek uit vrees vir God nie gedoen nie.” (:14&15).
Nehemía was saam met sy volk in ballingskap weggevoer. Hy het egter in die vreemde nie onder die moeilikste omstandighede geleef nie aangesien hy in die paleis as skinker van die koning gedien het. Nehemía was’n besonderse mens in die sin dat sy eie omstandighede nie die spil was waarom sy lewe gedraai het soos wat vandag vir menig mense die geval is nie. Die nuus van die ellendige toestand van Jerusalem het hom diep geraak. Hy was nie tevrede met sy eie gemaklike lewe in die paleis nie en het homself nie van sy volk se ellende afgesonder nie.
“EN in die maand Nisan van die twintigste jaar van koning Artasásta toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie, het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword en aan die koning gesê: Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is?” (Neh. 2:1-3).
Nehemía het van koning Artasasta verlof ontvang om na Jerusalem te gaan en die mure van Jerusalem te gaan herbou. En hierdie werk was nie alles maanskyn en rose nie. Nehemía het ’n relatiewe gemaklike lewe in die paleis prysgegee om aan God en sy mense diensbaar te wees en nie om ’n gemakliker en geriefliker welvarende lewe in Jerusalem te verkry nie. Hy en sy mense moes die spot en smaad van Sanbállat en Tobía verduur. “MAAR toe Sanbállat hoor dat ons die muur bou, het hy kwaad geword en hom baie geërg, en hy het met die Jode gespot en voor sy broers en die leër van Samaría gespreek en gesê: Wat maak die magtelose Jode? Sal 'n mens hulle laat begaan? Sal hulle offer? Sal hulle dit vandag nog voltooi? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel?En Tobía, die Ammoniet, het langs hom gestaan en gesê: Wat hulle ook al bou — as 'n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!” (Neh. 4:1-3). Hulle moes nie net smaad en spot verduur nie, maar hulle lewens is vir hierdie saak in gevaar gestel. “Maar toe Sanbállat en Tobía en die Arabiere en die Ammoniete en die Asdodiete hoor dat die verbetering aan die mure van Jerusalem vorder, dat die skeure begin toeraak, het hulle baie kwaad geword. En hulle het almal met mekaar 'n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig.” (Neh. 4:7&8).
Die siening vanuit ’n sekulêre beskouïng sal dus wees dat Nehemía’n baie slegte beroepsbesluit gemaak het. Hy verruil ’n lewe van veiligheid en relatiewe gemak as ’n dienskneg in die paleis vir ’n ander een van gevaar, bespotting en gedurige opoffering in Jerusalem. Ja, selfs as goewerneur in Jerusalem was Nehemía voortdurend besig om opofferings ter wille van sy mense te maak. “Ook van die dag af dat ek aangestel is om hulle goewerneur te wees in die land Juda, van die twintigste jaar af tot die twee-en-dertigste jaar van koning Artasásta, twaalf jaar lank, het ek en my broers die brood van goewerneurs nie geëet nie; terwyl die vorige goewerneurs wat voor my was, die volk swaar belas het en van hulle brood en wyn geneem het, daarna veertig sikkels silwer. Hulle mense het ook heerskappy gevoer oor die volk; maar so het ek uit vrees vir God nie gedoen nie. En ook by die werk aan hierdie muur het ek volhard sonder dat ons grond aangeskaf het, terwyl tog al my mense daar by die werk versamel was. En die Jode, die leiers, honderd-en-vyftig man, sowel as die wat uit die heidene rondom ons na ons toe gekom het, was aan my tafel. En wat vir elke dag berei is — een bees, ses uitgesoekte stuks kleinvee en voëls — is berei op my koste, en elke tien dae allerhande soorte wyn in oorvloed; en daarby het ek tog die brood van goewerneurs nie begeer nie, omdat die diens swaar was op hierdie volk. Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!” (Neh. 5:14-19).
Hierdie besluit van Nehemía was dalk vanuit ’n wêreldse lewensbeskouing nie die regte een nie. Maar vanuit ’n Godvresende, gelowige perspektief was dit beslis die regte besluit. Hierdie besluit van Nehemía was in ooreenstemming met die tweede gebod van God, nl. dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons naaste se belang moet óók vir ons belangrik wees en nie net ons eie welsyn en belang nie. En is dit nie in ons tyd só nodig dat ons deur die lewe van Nehemía hieraan herinner word nie! Hierdie verantwoordelikheid wat ons as gelowige kinders van God het word nie alleen in die lewe van Nehemía aan ons openbaar nie. Die Woord van God bring dit by herhaling onder ons aandag. Ek dink nie dat ons dit meer duidelik uitgespel kan kry as in Fil. 2:3-8 nie. “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” En in Johannes 13 lees ons ook van die opdrag en voorbeeld in hierdie verband deur Christus aan ons gegee. “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Joh. 13:13-15).
Ons kan dalk lank daaroor redeneer tot watter mate ons volk met die smet van selfsug en eiebelang besmet is. Myns insiens is dit egter duidelik dat ons skuld in hierdie saak groot is. Hoeveel mense is daar wat hulself alleen met ’n saak sal bemoei indien daar vir hulself voordeel in is? Dit is eintlik ’n algemene verskynsel. Hoeveel mense is daar wat iets sal aanpak wat opoffering van hul verg? Mense is nie eers meer bereid om die opofferings te maak waarvoor hulle verantwoordelik is nie. Dit is duidelik sigbaar in die talle huwelike wat op die rotse beland, die talle ouers wat in bejaarde sorgsentrums geplaas word gewoon omdat dit vir die kinders te veel moeite is om na hulle om te sien. Mense is nie eers bereid om hul tiendes te offer tot verligting van die armes se las nie!
Laat ons dan die HERE in hierdie saak gehoorsaam en die smet van selfsug en eiebelang van die wêreld van ons afwas. En laat ons hierdeur herinner word dat God se gebod van liefde nie alleen van ons vereis om ons te weerhou van kwaad teen ’n ander nie, maar dat dit veel méér van ons eis. Die gebod van liefde eis van ons om aktief ook die belang van ons naaste te dien.