Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onregverdige terugslae laat ons maklik verval in 'n "ek gee nie meer om nie" –gesindheid. Maar deur genade word ons in staat gestel om in moelike omstandighede raak te sien dat Hy ons dra. Moenie ophou soek na uitkoms nie, gebruik dit as 'n geleentheid om jou talente en gawes van God te gebruik, glo dat die regte dinge op die regte tyd gebeur het en ook verder sal gebeur – vertrou God!
SKENK HOM U VERTROUE
Hannes Ollewagen
Ps. 32:1-11
“Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie. Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die HERE vertrou – met goedertierenheid sal Hy hom omring.” (:8-10).
Ons dink weer terug aan 6 Apri 1654. Dit was twee jaar nadat Jan van Riebeeck met sy reisgeselskap in die Kaap aangeland het. En ’n terugblik oor die vorige paar jaar van hul lewens het hulle tot ’n ootmoedige besef van God se goedheid en leiding in hul lewens gebring. Hierdie besef het die hartsnare só diep geraak dat hulle besluit het om ’n Gelofte af te lê wat ten doel gehad het dat hul nageslagte in ewigheid hierdie goedheid en leiding van God moet onthou. Ek haal graag vir u ’n gedeelte hieruit aan:
“...en opgelet dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.” Hoe kosbaar. Die dankbaarheid van hierdie mense was só diep dat hulle gevoel het dat hulle nie alleen God ewig dankbaar is nie, maar ook hul nageslagte vir ewig in hierdie goedheid van God en dankbaarheid teenoor Hom moet deel. Hierin sou hulle nageslag ook getuienis ontvang en leer dat ons ons vertroue in Hom kan stel.
Jan van Riebeeck en sy reisgeselskap kon die wonderlike wyse waarop God hulle gelei het duidelik raaksien. Die getuienis uit hulle lewens onderstreep weer vir ons die woorde van Psalm 32 wat stel: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” Dit is in God se Vaderhart om ons in sy wysheid, raad en liefde in hierdie lewe te lei. Dit word ook in Jesaja 48:17 vir ons ewe duidelik gestel. “So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.” En ons behoort as God se kinders hierdie leiding van Hom met nederigheid, ootmoed en diepe dankbaarheid te volg. Wanneer ons sy leiding volg, getuig dit daarvan dat ons ons vertroue in Hom stel. ’n Mens volg tog alleen die raad van een wat jy vertrou, nie waar nie? Dit impliseer dan ook die teenoorgestelde, nl. dat wanneer ons sy leiding nie volg nie dit getuig van ’n gebrek aan vertroue in Hom of ten minste dat ons vertroue in iets anders groter is as ons vertroue in Hom.
Hierdie is geen geringe saak nie. Een van die grootste eerbetonings wat ’n mens aan ’n ander kan bewys, is om hom jou vertroue te skenk. En dit geld ook teenoor God. En daarom verwag God van sy kinders om Hom te vertrou. Hy verwag dat ons hierdie eer aan Hom bewys. Dit stel Hy vir ons duidelik in Ps. 50:15. “...en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” Luister na dit wat God sê – Vertrou op Mý in die dag van benoudheid – roep Mý aan in die dag van benoudheid. Kyk na Mý in jou uur van beproewing. Ek moet jou vertroue wees! Bewys aan Mý die eer deur jou tot Mý te wend en Mý te vertrou. Ja, ons moet Hom nie alleen in ons benoudheid vertrou nie, maar ons behoort Hom met ons hele lewe te vertrou. En was hierdie nie een van die kosbare eienskappe van koning Dawid nie – dat hy met sy hele hart op God vertrou het! Toe hy vir Góliat die stryd aansê, was dit met ’n vaste vertroue op God. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem,...” (1 Sam. 17:45&46). As ‘n vlugteling het hy sy vertroue in God standvastig bely. “My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed. Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?” (Ps. 56:3-5). En wat seker die merkwaardigste van hierdie man was, was dat hy ook as koning steeds sy vertroue in die Here gestel het. Hy het nie as ’n magtige koning besluit dat hy nie meer God se hulp en raad nodig het nie. Hy het nie sy vertroue op sy rykdom gestel, of op die sterk weermag of goeie raadgewers in sy koninkryk nie. Hy het deurgaans in sy lewe en tydens sy koningskap op God vertrou. Luister na die getuienis van Dawid waarvan ons ook in Psalm 31 lees. “Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die Here. Maar ék vertrou op U, o Here! Ek sê: U is my God.” (:7&15).
Staan die getuienis uit die lewe van koning Dawid nie in skrille kontras met dit wat die norm in ons samelewing geword het nie? Ons sien eerder vandag hoedat mense hulself beywer om op alle terreine “onafhanklik” te wees as wat mense hul beywer om God te vertrou. Ons sien dikwels hoedat mense hulself ook beywer om ryk te word sodat hulle kan voel dat hulle niemand meer nodig het nie – selfs nie vir God nie. En al wat in werklikheid met so ’n mens gebeur, is dat hulle hul afhanklikheid van God na ’n afhanklikheid van hul rykdom verskuif. Hulle voel dan nie meer van God afhanklik nie, maar dan is hulle skielik van hul rykdom afhanklik! Wat ’n verskikking om te dink dat ’n mens homself van die lewende God, die barmhartige en genadige Skepper wil “losmaak”. En is dit nie ’n belediging in die aangesig van God wanneer ’n mens sy vertroue van God na ’n nietige afgod soos geld of enigiets anders verskuif nie? Dit is natuurlik vir Hom ’n belediging.Luister na God se woorde uit Jes. 46:5-10. “By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees? Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur 'n goudsmid, en hy maak daar 'n god van; hulle kniel neer, ook buig hulle. Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie; ook al roep iemand hom, hy antwoord nie; hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie. Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges! Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;” (Jes. 46:5-10).
Dien hierdie gebeure uit die lewe van ons voorsate nie ook vandag opnuut vir ons tot getuienis en herinnering van die eer wat ons aan God verskuldig is nie? Herinner dit ons nie aan die dankbaarheid en vertroue in ons lewens wat ons Hom verskuldig is nie? Laat dit ons nie vir ’n oomblik opnuut besin oor ons eie lewens en waarin ons ons vertroue stel nie? Mag dit die geval wees! En mag dit ons ook aanspoor om ons opnuut te beywer om met ons hele hart op Hom te vertrou en Hom sodoende dankbaar en ootmoedig te eer.
“Vertrou op die Here vir ewig, want in die Here Here is 'n ewige rots.” (Jes. 26:4).